Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
2021 dalk net té ver vir Bridgitte Hartley

Die uitstel van die Olimpiese Spele na Julie 2021 is nie goeie nuus vir alle sportlui nie.

Vir die Olimpiese kanovaarder Bridgitte Hartley beteken dit haar loopbaan is nou by ’n kruispad.

Die Suid-Afrikaanse roeier Bridgitte Hartley moet besluit of sy weer vir die Olimpiese Spele gaan probeer kwalifiseer. Foto: Canoe Photography | Bence Vekassy

Sou sy gekwalifiseer het, sou vanjaar se Spele in Tokio haar swanesang gewees het.

Hartley is Suid-Afrika se suksesvolste kanovaarder. Sy spog met ’n bronsmedalje by 2012 se Spele en twee medaljes by Wêreldbyeenkomste. Sy het ook in 2008 en 2016 by die Spele aangetree.

Al is sy verlede jaar by die Afrika-byeenkoms in Marokko as Afrika-kampioen gekroon, was dit nie goed genoeg om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) te oortuig van haar plek in die Tokio-span nie. Eers nadat Kanovaart Suid-Afrika die Internasionale Kanofederasie laat weet het Hartley mag nie op grond van haar Afrika-titel ’n Spele-plek aanvaar nie, het Saskok besluit dat Afrika-kampioene wel mag gaan. Dit was te laat vir haar.

Hartley sê sy het nietemin steeds hard geoefen en gehoop op ’n laaste kans by ’n Olimpiese kwalifiserende byeenkoms in Mei in Duisburg, Duitsland.

Nou het die Covid-19-pandemie die sportwêreld op sy kop gekeer.

“Ek het ’n oefenkamp in Florida gehad en gehoop om daarna nog ’n paar goeie weke van voorbereiding te hê voor die byeenkoms,” sê sy in ’n verklaring van Gameplan Media.

Met nóg ’n jaar voordat die aksie in Tokio begin, moet Hartley nou besluit of sy wéér gaan probeer om te kwalifiseer of ’n voltydse betrekking aanvaar.

Sy sal in Julie vanjaar haar 37ste verjaardag vier.

“Suid-Afrika se Aspoestertjie-sporte kry nie naastenby genoeg geld nie, so ek sal ’n groot finansiële opoffering moet maak as ek nog wil deelneem,” sê Hartley.

“Ek sal ’n baie moeilike besluit moet neem.”

Sy het nietemin ’n brandende begeerte om by nog ’n Spele deel te neem.

“Ek het reeds net ná Rio (de Janeiro se Spele in 2016) besluit ek wil ’n vierde Spele beleef. Ek dink nie ek kan net daarvan wegstap nie,” het sy in Desember verlede jaar aan Rapport gesê. – Sportredaksie

Meer oor:  Bridgitte Hartley  |  Olimpiese Spele  |  Tokio Spele  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.