Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
44-jarige ma van 2 maak Spele-buiging

Die Australiese marathon-span vir die Spele in Tokio is ’n bewys dat Olimpiese drome later in die lewe bewaarheid kan word.

Sinead Diver (44) sê dit is frustrerend dat daar so baie klem op haar ouderdom gelê word. Foto: Getty Images

AP berig die span se drie vrouelede se gekombineerde ouderdom is 118 en die oudste, Sinead Diver, sal haar Olimpiese buiging op 44 maak.

Die Iers gebore atleet se prestasie is noemenswaardig en sy sal in Tokio Australië se oudste Olimpiese mededinger word.

Sy is egter oorgehaal om te verseker dat die dekking van haar vertonings op die sportskouspel nie op haar ouderdom fokus nie, maar haar talent as ’n langafstandatleet.

“Dit is vir my uiters frustrerend dat baie van die mediablootstelling wat ek kry grootliks op my ouderdom fokus,” sê Diver, wat weens ’n besering die Spele in Rio in 2016 misgeloop het.

“Ek besef dit word op sommige maniere as ’n kompliment bedoel – nie baie atlete geniet in hul 40’s steeds sukses nie.

“Maar ek ding nog net vir ’n relatiewe kort tydperk mee, so my scenario is baie anders. Om sukses op enige ouderdom te bereik gaan oor jou ingesteldheid.”

Diver het in haar 30’s begin draf in ’n poging om die gewig te verloor wat sy met haar swangerskappe aangesit het. Maar wat as ’n ontspanningsaktiwiteit begin het, het vinnig in iets meer noemenswaardig ontaard.

Lisa Weightman (42) gaan in haar vierde Olimpiese Spele meeding. Foto: Getty Images

Haar oorwinning in die Melbourne-marathon in 2018 was ’n aanduiding van haar opgang. Sy het ook onderskeidelik sewende en agtste geëindig in die vorige twee Londen-marathons met tye van 2 uur 24 minute 11 sekondes in 2019 en 2:27:07 verlede jaar.

Diver is saam met haar Olimpiese spanmaats Lisa Weightman (42) Ellie Pashley (32) lid van Australië se span vir die vrouemarathon.

Wanneer Diver op 7 Augustus in Sapporo haar Spele-buiging maak, sal Weightman vir die vierde keer vir die sportskouspel aantree. Sy volg in die voetspore van die legendariese Australiese marathonatlete Steve Moneghetti en Lisa Ondieki, wat in 1988 in Seoel silwer verower het.

“Ek is uiters trots om hierdie geleentheid vir myself te kon skep,” sê Weightman, wat in 2016 in die 31ste plek klaargemaak het.

“As ’n ma met ’n heeltydse werk en al die uitdagings van die inperking, het ek beslis die uithouvermoë gekweek wat ek benodig om in Sapporo op my beste te vertoon.”

Die ander drie lede van die Aussie-span is Brett Robinson en Liam Adams, wat albei vir die tweede keer aan die Spele sal deelneem, en die groentjie Jack Rayner. – Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Marathon  |  Tokio  |  Sinead Diver
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.