Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Akani Simbine: ‘Ek is vir niemand bang’

Die wete dat die Suid-Afrikaanse publiek by die Olimpiese Spele in Tokio ’n medalje van hom verwag, is vir Akani Simbine meer ’n hupstoot as ’n las.

“Dis lieflik dat mense glo ek is in staat daartoe om op die podium te kom,” het Suid-Afrikaanse blits die afgelope week gesê. “Dit gee my goeie energie om dit te weet – dit kan dalk net daai ekstra 0,1% beteken wat my eerste oor die eindstreep kry.”

Akani Simbine sê die verwagtinge in Suid-Afrika dat hy ’n Olimpiese medalje moet wen, is vir hom meer ’n hulp as ’n hindernis. Foto: Getty Images

Simbine is hoog boaan elke enkele lys van Suid-Afrikaanse medaljeaanspraakmakers wat die laaste paar weke opgestel is en gaan die 100 m-kompetisie Saterdag as een van die gunstelinge vir goud binne.

Hoe dan nou ook anders ná die paar maande wat hy gehad het?

Net drie weke gelede in Hongarye het die 27-jarige Pretorianer die Afrika-rekord tot ’n indrukwekkende 9.84 sekondes verbeter – om te vergoed vir die teleurstelling van die April-resies, waarin ’n 9.82 nie erken is nie omdat die wind te sterk van agter was.

In Hongarye het hy boonop vir Amerikaanse sterre soos Justin Gatlin, Marvin Bracy, Isiah Young en Michael Rodgers hakskene gewys. Dít, sê hy, was in die groter prentjie meer waardevol as die tyd op die stophorlosie.

“Daardie kompetisie was goud werd vir my selfvertroue, want ek kon sien ek kan atlete van daardie formaat klop as ek daarop konsentreer om my renplan volmaak uit te voer,” sê hy.

“By die Olimpiese Spele is die belangrikste nie watter tyd jy opstel nie, maar hoeveel ouens agter jou eindig, so die fokus is eerder daarop om seker te maak jy is die vinnigste op die baan.”

Ek is net bekommerd oor hoe goed ek vaar, nie wat die res doen nie.

Daar is egter ’n rits gevaarmanne wat Simbine in Tokio gaan uitdaag.

Trayvon Bromell het byvoorbeeld reeds vanjaar ’n 9.77 en ’n 9.80 gehardloop en nog ’n Amerikaner, Ronnie Baker, ’n 9.85 by sy land se proewe.

Die Suid-Afrikaner se ongeërgdheid oor tye sluit ook dié van sy teenstanders in. Hy voel vere vir hul vorige vertonings.

“Ek is net bekommerd oor hoe goed ek vaar, nie wat die res doen nie,” sê hy. “En ek is vir niemand bang nie – ek het te veel vertroue in hoeveel spoed ek het, hoe my lyf hom in hierdie stadium gedra en hoe goed die planne is waarmee ek op die baan gaan om enigiemand anders te vrees.”

As Simbine se droom van Olimpiese glorie waar word, sal hy die eerste Suid-Afrikaner sedert Reggie Walker in 1908 word wat 100 m-goud by ’n Spele wen.

Simbine het in 2016 die eerste Suid-Afrikaner in 84 jaar geword wat ’n 100 m-eindronde kon haal en was teleurgesteld met die vyfde plek wat hy daarin behaal het. Maar sedertdien, sê hy, het hy homself gepantser teen die druk van eindrondes deur dit in sy gedagtes op dieselfde vlak as elke ander wedloop te plaas.

“Vir my is elke wedloop ’n eindronde,” sê hy. “En omdat ek so daarna kyk, is ’n eindronde maar net nog ’n wedloop. As jy my ’n paar jaar gelede gevra het, sou ek iets anders gesê het, maar nou het ek al geleer hoe om die druk op myself te verminder, deur elke keer dat ek aantree vir ’n resies, dieselfde roetine en benadering te hê.”

• Die Olimpiese atletiekprogram begin Vrydag, met die hekkiesloper Sokwakhana Zazini (400-hekkies) en langasem Dominique Scott-Efurd (5 000) wat die Suid-Afrikaanse aanslag sal inlui.

Simbine sal van Saterdag af in die 100-uitdunne in aksie wees en hoop om Sondag die Olimpiese podium te bestyg.

Hy sal ook aanstaande naweek sy allerbeste doen om die 4x100-aflosspan na ’n Olimpiese medalje te help. Hy het juis die laaste been gehardloop toe hulle vroeër vanjaar by die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole koning gekraai het.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.