Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Akani soek troos in 2024 ná teleurstelling
Marcell Jacobs (links) het die wedloop van sy lewe gehardloop om Olimpiese goud in die 100 m te verower, terwyl Akani Simbine (regs) nie sy beste peil in Tokio kon vind nie.Foto: Reuters

Vyfde by die Rio-Spele. Vyfde by 2017 se Wêreldkampioenskappe. Vierde by die Wêreldbyeenkoms van 2019. En nou vierde in die Tokio-Spele.

’n Mens kan Akani Simbine maar vergewe daarvoor dat hy Sondag met ’n swaarmoedigheid in sy stem gepraat het oor nog ’n “Dag van Amper” vir hom in die 100 meter op die internasionale verhoog.

Vir vyf jaar klop Simbine al aan die medalje-deur wanneer die wêreld se heel bestes vergader – en vir vyf jaar bly dit bottoe voor hom. Geen wonder hy het Sondag met ’n skelwoord op sy tong oor die Tokio-eindstreep gehardloop nie. Hy weet natuurlik al goed hoe lank ’n uitslag soos daardie sy hart sal swaar maak.

Die Suid-Afrikaanse blits moes toekyk hoe die Italianer Marcell Jacobs in die baan langs hom die eerste Europese 100-wenner by ’n groot byeenkoms word sedert Linford Christie in 1992 – en ’n hele 13 honderdstes van ’n sekonde voor Simbine oor die lyn hardloop.

Jacobs het met ’n tyd van 9.80 ’n nuwe Europese rekord opgestel om sy neus voor dié van die Amerikaner Fred Kerley (tweede in 9.84) en Kanada se Andre de Grasse (9.89) te hou.

Vir sowel Kerley as De Grasse was dit hul vinnigste tye ooit.

Simbine het die wedloop in 9.93 sekondes voltooi. Dis amper ’n tiende van ’n sekonde stadiger as die nuwe Afrika-rekord van 9.84 wat hy verlede maand in Hongarye opgestel het en drie honderdstes van ’n sekonde stadiger as die tyd waarmee hy tot die eindronde deurgedring het.

Die beter man het vandag gewen, en ek is regtig bly vir Jacobs dat dinge so vir hom uitgewerk het.
Akani Simbine

“Die beter man het vandag gewen, en ek is regtig bly vir Jacobs dat dinge so vir hom uitgewerk het,” het Simbine ná die wedloop gesê. “In ’n eindronde het almal ’n kans, en hy het vandag met sy heel beste vorendag gekom.

“Ek is teleurgesteld in myself, maar ook tevrede dat ek darem die eindronde kon haal. Andre (De Grasse, wat brons in Rio en by die 2019-Wêreldbyeenkoms gewen het), hou ongelukkig net aan om my te klop by die groot kampioenskappe, so dis sleg.

“Maar ja, dit is wat dit is.”

Simbine het in geen van sy 100-wedlope in Tokio gemaklik gelyk nie, sodat al die Suid-Afrikaners wat reggeskuif het vir sy eindronde maar net blindelings moes hoop hy kan iets skouspelagtig lewer, eerder as om hul hoë verwagtinge op iets konkreet te bou.

Die Tukkie het sy uitdun Saterdag gewen, maar sy tyd van 10.08 was niks om oor huis toe te skryf nie en dit het gelyk of hy sukkel om ritme te kry.

Suid-Afrika se Akani Simbine kyk hoe die Italianer Marcell Jacobs sy sege in die Olimpiese 100m-eindronde vier. Simbine het 0.13 sekondes ná Jacobs in die vierde plek geëindig. Foto: Anton Geyser | SASPA | SASI

In Sondagmiddag se halfeindronde, twee ure voor die eindronde, het Simbine nogeens sonder momentum uit die blokke gespring en moes hy skarrel om sy plek in die eindronde te bespreek.

Hoewel hy ’n tyd van 9.90 opgestel het, was hy net vierde in die halfeindronde – en was daar weereens ’n ongemaklikheid aan sy hardloopstyl.

Dit was ongelukkig ook wat hom gepootjie het in die eindronde, waarin hy nie ’n goeie wegspring kon laat tel nie.

“Ek moet sê, hierdie was nie die Akani wat ek ken nie,” het Danie Cornelius, wat as die hoof van Tuks-atletiek ’n fyn oog op Simbine se loopbaan hou, Sondagmiddag gesê. “Hy het vir my lomp en swaar gelyk in al drie wedlope. Hy het sy bolyf so half krom getrek en kon homself nie so goed met sy bene aandryf nie. Dis vir my ’n teken dat hy die spanning gevoel het, want dis drasties anders van die tegniek en gemaklikheid waarmee hy nou die dag die Afrika-rekord verbeter het.

“Ek is baie hartseer vir Akani, maar ek het die skrif eintlik al ná die halfeindronde aan die muur gesien. Ek was verbaas om te sien hy’t ’n 9.90 gehardloop, want hy het nie vir my só ontspanne gelyk nie.”

Ek was verbaas om te sien hy’t ’n 9.90 gehardloop, want hy het nie vir my só ontspanne gelyk nie.
Danie Cornelius

Simbine se Olimpiese avontuur is nog nie verby nie, met die 4x100-aflos wat van Donderdag af wag. Hy en sy mede-Pretorianers Gift Leotlela, Thando Dlodlo en Clarence Munyai het in Mei goud by die Wêreld-aflosbyeenkoms gewen om te wys wat in hulle steek, maar daar hang nou skielik ’n wolk oor hul kanse.

Gift Leotlela lyk soos ’n man wat op eiers hardloop nadat hy skynbaar sy dyspier getrek het in die 100m-halfeindronde. Foto: Anton Geyser | SASPA | SASI

Leotlela het Sondag onmiddellik ná sy 100-halfeind sy dyspier vasgegryp en daar is nou vrae oor sy beskikbaarheid vir die aflos.

Simbine wou nie Sondag bespiegel oor sy spanmaat se fiksheid nie en het ook aangedui dat hy nie nou dadelik aan die aflos gaan begin dink nie.

“Ek sien uit na die 4x100, maar ek het net ’n bietjie tyd nodig om my gedagtes te orden voor ek terug op die baan gaan,” het hy gesê.

“Die 100 m was ’n uitdaging, maar ek sal die teleurstelling so gou ek kan probeer oorkom. Ek is gelukkig dat ek ’n goeie span agter my het, wat my gekry het waar ek nou is.

“Ek sien reeds uit na Parys (die Olimpiese Spele van 2024). Dis net drie jaar weg, en ek kan nie die toekoms voorspel nie, maar ons sal sien wat daar gebeur.”

• Vroeër Sondag het die 21-jarige Sokwakhana Zazini se eerste Olimpiese Spele tot ’n einde gekom, toe hy nie vir die eindronde van die 400-hekkies kon kwalifiseer nie.

Zazini, die o.20-wêreldkampioen van 2018, het sesde in sy halfeind geëindig met ’n seisoenbeste tyd van 48.99 sekondes.

* Kyk na die 100-eindwedloop:

 
Meer oor:  Akani Simbine  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Teleurstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.