Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Anaso wil ‘reddingsboei’ laat tel

Vyf weke gelede was Anaso Jobodwana ’n teleurgestelde man. Sy pogings om ’n kwalifiserende tyd vir die Olimpiese Spele op te stel was vrugteloos en sy droom van ’n derde Spele daarmee heen.

Anaso Jobodwana sê hy is te dankbaar vir die kans om by die Olimpiese Spele te wees om minder as sy beste te gee. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Maar toe kry hy ’n verrassing met die aankondiging van die laaste groep Suid-Afrikaners wat na Tokio sou gaan. Sy naam was op daardie lys danksy sy posisie op die wêreldranglys.

Dis uit dankbaarheid vir daardie onverwagse meevaller dat Jobodwana Dinsdag sy hart in die Olimpiese uitdunne van die 200 m uitgehardloop het.

Jobodwana het derde in die eerste uitdun geëindig met ’n tyd van 20.78 sekondes, om een van die drie Suid-Afrikaners te wees wat Dinsdagoggend hul plek in die halfeindronde bespreek het. Kort ná hom het die 20-jarige Shaun Maswanganyi (20.58) lank voorgeloop in sy uitdun maar hy het tweede geëindig. Clarence Munyai het dit drie uit drie vir Suid-Afrika gemaak toe hy in ’n blitsige sewende uitdun net vierde was, maar met die beste tyd van die SA trio (20.49).

Die halfeindronde van dié item is reeds vanmiddag (SA tyd).

“Ek moet vanaand weer hardloop, so ek wou nie te veel in die uitdunne doen nie, net ’n top3-uitslag (en daarmee saam outomatiese kwalifisering),” sê Jobodwana.

“Elke baan is dieselfde in ’n halfeindronde, so ek was net daaroor bekommerd om daar te kom.

“Daar is niks vir my om oor te kla nie – ek is by die Olimpiese Spele nadat ek ’n reddingsboei gekry het, en nou moet ek net die meeste van die geleentheid maak. In die vorige Spele het ek in die eerste ronde uitgeval en ’n mens is net so goed soos jou laaste Olimpiese Spele. Maar die keer het ek selfvertroue en glo ek dit kan van hier af net beter gaan.”

Maswanganyi, wat in Soweto gebore is en nou vir die Universiteit van Houston hardloop, het soos Jobodwana een oog op die halfeindronde gehad terwyl hy aan die voorpunt van sy uitdun gehardloop het.

“Dit was lekker, ek het die wedloop lekker rustig gevat en besluit om nie rondom die draai te hard te druk nie,” sê hy.

Maswanganyi het te kenne gegee dat hy die naweek in die 100 m (waarin hy nie vinniger as 10.10 kon hardloop nie), deur sy senuwees gepootjie is.

“Maar die bewerasies is nou weg, so ek kan net konsentreer op my uitvoering in die 200,” sê hy.

• Die spiesgooier Jo-Ané van Dyk kon net-net nie ’n plek in die Olimpiese eindronde van dié item haal nie.

Jo-Ané van Dyk Dinsdag tydens die spiesgooi-uitdunne. Sy was dertiende. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Van Dyk was met ’n beste gooi van 57.69 m dertiende in die uitdunne, met net die voorste 12 wat deur is na die eindronde.

Die twaalfde beste gooi was 58.60 m, deur Victoria Hudson van Oostenryk.

Van Dyk het vroeër vanjaar vir die eerste Spele in haar loopbaan gekwalifiseer met ’n afstand van 61.19, en toegegee sy was “ ’n bietjie teleurgesteld” dat sy nie weer so ver kon gooi nie.

“Dinge het nie verloop soos ek gehoop het nie, maar ek het my alles gegee,” sê sy.

“Daar is beslis ruimte vir verbetering. Vandag wou dinge net nie lekker in plek val nie – dalk was ek gespanne omdat dit my eerste Olimpiese Spele is – so ek is teleurgesteld, maar ook tevrede dat ek op die dag gedoen het wat ek kon.”

• Intussen het die naelloper Gift Leotlela bevestig dat sy Spele beëindig is deur die dyspierbesering wat hy Sondag in die halfeindronde van die 100 m opgedoen het. ’n Plaasvervanger moet dus vir hom gevind word in die 4x100-aflos, wat Donderdag begin.

Munyai is reeds ’n gereelde lid van die aflos-viertal, maar Leotlela se vertrek kan die deur oopmaak vir een of albei van Jobodwana en Maswanganyi om by die aflosspan aan te sluit.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Koronavirus  |  Anaso Jobodwana  |  Tokio-Spele  |  Iok  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.