Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Ashleigh toe ongelukkige nr. 13

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Ashleigh Moolman-Pasio se droom van ’n Olimpiese medalje in haar laaste Spele is Sondag wreed verydel, toe sy ondanks ’n slim renplan met die 13de plek in die padfietsren vir vroue tevrede moes wees.

Ashleigh Moolman-Pasio was Sondag 13de in die Olimpiese padfietsren. Foto: AP

Moolman-Pasio (35) neem vanjaar aan haar derde Olimpiese Spele deel en het die laaste paar maande meer en meer gewys sy het die ervaring en deursettingsvermoë om groot uitslae te behaal.

Vir ’n groot deel van Sondag se ren het dit gelyk of dit haar sou dra na een van die heel grootste oomblikke van haar loopbaan, terwyl sy haarself vir die grootste deel van die ren goed geposisioneer het en nooit meer afgebyt het as wat sy kon kou nie.

In Tokio se versengende hitte was dít egter nie genoeg om by te bly toe haar teenstanders laat in die ren begin wegbreek nie. Sy het uiteindelik aan die voorpunt van die peloton klaargemaak – ’n minuut en 46 sekondes ná die kampioen, Oostenryk se Anna Kiesenhofer, en ’n skrale 17 sekondes buite die medaljes.

Anna Kiesenhofer was in die wolke terwyl sy Sondag eerste oor die eindstreep van die Olimpiese padfietsren gery het. Foto: Getty Images

Kiesenhofer was reeds vir meer as ’n minuut anderkant die eindstreep, en in ’n hopie besig om trane van vreugde uit te snik, toe die silwermedalje-wenner, Nederland se Annemiek van Vleuten, klaargemaak het.

Van Vleuten was vyf jaar gelede voor in die Olimpiese padren in Rio de Janeiro toe sy gegly en baie sleg geval het. Toe sy Sondag in Tokio in die medalje-posisies klaarmaak, was dit ’n sprokieseinde aan die pad wat sy van daar na die volgende Spele gestap het – maar daar was ’n kinkel in die kabel.

Van Vleuten het nie besef daar was ’n ryer voor haar nie, en het gedink sy het die goud gewen.

“Ek was verkeerd,” het sy ’n paar minute later volgens Eurosport aan haar afrigter gesê. “Ons het geen inligting daarbuite gehad nie.”

Die Italianer Elisa Longo Borghini het brons gewen.

Waar Moolman-Pasio in die latere stadiums van die ren die oog gevang het, was haar landgenoot Carla Oberholzer een van die vroeë kolligstelers.

Oberholzer was saam met Kiesenhofer in ’n groep van vyf ryers wat van die peloton weggebreek het, en vir 75 km aan die voorpunt van die wedren.

Nadat sy ingekatrol het, kon sy egter nie die ren voltooi nie – nes Saterdag gebeur het met die Kapenaar Nicholas Dlamini, wat vir 180 km voor gery het.

Met die padren agter die rug, het Moolman-Pasio nou net een verdere Olimpiese uitdaging oor: die individuele tydtoets, wat Woensdag plaasvind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.