Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Atlete móét rou – maar nie vir te lank

In die “rouproses” wat volg op ’n teleurstellende uitslag op ’n verhoog so groot soos die Olimpiese Spele, is die belangrikste tydperk die eerste 24 uur daarna.

Akani Simbine reageer nadat hy Sondag vir die tweede keer in twee jaar ’n vierde plek op ’n groot internasionale byeenkoms behaal het. Hy was ook in 2019 se Wêreldkampioenskappe vierde in die 100 m. Foto: Gallo Images

Maar nadat ’n atleet vir daardie tydperk gesit en derms uitryg het oor die wat, waar en hoekom van daardie teleurstelling, moet die fokus dadelik draai na die toekoms en wat volgende wag.

Dís die raad wat die sportsielkundige Pieter Kruger, wat die Olimpiese Spele in Tokio in dié hoedanigheid as deel van Span Suid-Afrika meemaak, sou hê vir atlete wat platgeslaan is deur ’n verydelde droom.

Ná die euforie van verlede week, toe Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag Suid-Afrikaners van Musina tot Mosselbaai laat jubel het, het die land die afgelope paar dae swaar gesluk aan veral twee eina-seer uitslae op die atletiekbaan. Die 100 m-blits Akani Simbine het ’n Olimpiese medalje Sondag met net vier honderdstes van ’n sekonde misgeloop voordat die 400 m-wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, se verdediging van sy Olimpiese kroon Maandag in die halfeindronde in vlamme opgegaan het.

Dit is natuurlik voorafgegaan deur Chad le Clos se onvermoë om verby die uitdunne van die 100 m-vlinderslag te vorder, en die Blitsbokke se onverwagse nederlaag in hul kwarteindronde teen Argentinië.

Jy kan nie die horlosie terugdraai nie, maar jy kan beplan wat jou volgende skuif is en vir jou nuwe doelwitte stel.

Kruger het gesê hy is nie in ’n posisie om te sê watter raad hy aan individuele atlete gee wat pas deur sulke pyn is nie, maar het wel ’n paar algemene riglyne wat hulle kan volg.

“Hierdie atlete het 24 uur waarin hulle hul wonde kan lek en in sak en as kan sit oor wat met hulle gebeur het. Dis om die waarheid te sê ’n baie belangrike deel van die rouproses, want dan gaan hulle deur al die emosies wat met so iets gepaard gaan en onderdruk niks nie,” sê Kruger.

“Maar dis ook ongelooflik belangrik dat hulle daarna opstaan en vorentoe kyk. Hulle kan natuurlik aanhou ontleed waar hulle beter kon doen, maar daarvan kan jy ook net soveel op ’n dag doen. Jy kan nie die horlosie terugdraai nie, maar jy kan beplan wat jou volgende skuif is en vir jou nuwe doelwitte stel.”

In ’n geval soos dié van Simbine is daar ’n baie duidelike volgende doelwit voor hom. Van Donderdag af sal hy ’n lid wees van die 4x100 m-aflosspan, wat sedert goue sukses op vanjaar se Wêreld-aflosbyeenkoms droom van ’n Olimpiese medalje.

’n Atleet vir wie daar so gou weer iets nuut is om na te jaag, moet egter volgens Kruger baie spesifiek wees in watter doelwit hy stel vir die volgende uitdaging.

“In sport is daar drie kategorieë van doelwitte: uitkoms-doelwitte, met ander woorde die uitslag waarop jy hoop; prestasie-doelwitte, dus tye of afstande; en proses-doelwitte, wat behels hoe jy gaan uitkom by jou ideaal,” sê Kruger.

Die sportsielkundige Pieter Kruger ’n paar jaar gelede terwyl hy betrokke was by die Haaie. Hy is tans in Tokio saam met Suid-Afrika se Olimpiese span. Foto: Gallo Images

“Ideaal gesproke, is al die werk wat nodig was om die uitkoms- en prestasie-doelwitte te bereik, reeds gedoen. Al die fokus moet dus wees op die proses – op jou roetine voordat jy stadion toe gaan, jou roetine wanneer jy daar kom, die dinge wat jy doen om rustig en gefokus te bly . . .

“Om so kort voor die volgende uitdaging aan die uitkoms te dink, laai net druk op ’n atleet se skouers.”

Kruger, wat in sy loopbaan met etlike beroepspanne in ’n verskeidenheid sportsoorte gewerk het en onder meer op 2015 se Wêreldbeker-rugbytoernooi by die Springbokke betrokke was, sê dit is ’n ongelooflike ervaring om op vanjaar se Spele te wees – al is dit dan ook in die bioborrel van die Speledorp.

“Ek moet sê die Japanners verrig ’n uitstekende taak daarmee om almal in die dorp veilig te laat voel. Jy voel nie ingeperk nie en het oorgenoeg beweegruimte. Natuurlik vergeet jy nie dat ons in die Covid-era is nie – almal van ons moet elke dag in ’n botteltjie spoeg sodat ons getoets kan word en daar word baie streng gehou by die maatreëls.

“Maar daar is steeds ’n feestelike atmosfeer hierbinne, en vir maklik 20 uur van die dag aktiwiteit. Daar is ’n kosmos geskep waarbinne ons baie veilig en gelukkig kan bly.”

Dít, sê hy, speel waarskynlik ’n rol in die verandering van die sorge waarmee atlete hom nader.

“In die opbou tot die Spele was daar ’n sterk verhoging in atlete se angsvlakke weens die onsekerheid oor die voortgaan van die Spele, hoe Covid-19 en die maatreëls hulle hier sou raak . . . baie dinge gemoeid met die pandemie. Maar vandat ons hier aangekom het, is ek seker vir vyf, ses uur konstant besig met sessies, en omtrent 90% van die bekommernisse is nou prestasie-verwant – dinge soos kompetisie-angs en ’n lae gemoed. Die goed wat hulle vooraf gevrees het, het nie ’n werklikheid geword nie, so nou is al hul fokus op hoe hulle vaar op die Spele.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.