Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Aussie toets positief; Novak op pad na Spele

Die Australiese tennisspeler Alex de Minaur is positief getoets vir die koronavirus en sal dus nie meer op vanjaar se Olimpiese Spele in aksie wees nie.

Alex de Minaur se droom om op die Olimpiese Spele in aksie te wees, lê aan skerwe. Foto: Getty Images

De Minaur (22), 17de op die wêreldranglys, is twee keer positief vir die virus getoets voordat hy na Tokio, Japan, sou vertrek.

Dit is maar een van verskeie gevalle van Covid-19 wat die afgelope week kop uitgesteek het soos wat sportlui na Tokio vertrek vir die Spele wat op 23 Julie begin. Al die voorvalle was voordat sportlui na Japan vertrek het, of wanneer hulle daar aangekom het.

Sportlui het Dinsdag hul intrek in die Speledorp begin neem en daar is geen gevalle van Covid-19 binne die dorp aangemeld nie.

“Ons is baie teleurgesteld vir Alex,” sê Ian Chesterman, ’n ringkop van Span Australië op die Spele.

“Hy sê hy is verpletter deur die nuus dat hy nie kan kom nie. Dit was sy kinderdroom om Australië op die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Hy het sy beste wense aan die res van die span gestuur.”

De Minaur is in Spanje positief vir die virus getoets, van waar hy na Japan sou reis.

Organiseerders het onderneem dat die Spele, wat verlede jaar moes plaasvind maar toe uitgestel is, veilig sal wees. Daar is streng maatreëls in plek gestel wat betref toetse vir deelnemers en ander spanpersoneel.

• Intussen het Novak Djokovic, die wêreld se voorste manspeler, bevestig dat hy wel op die Spele in aksie sal wees.

Novak Djokovic die afgelope naweek in aksie gedurende die eindstryd van die mansenkelspel op Wimbledon. Foto: Getty Images

Die 34-jarige Serwiër, wat die afgelope naweek op Wimbledon koning gekraai het, is op koers om die “Golden Slam” – die vier Grand Slam-titels, asook die Olimpiese goud in een kalenderjaar – te verower.

Vroeër vanjaar het Djokovic reeds die Australiese, sowel as die Franse Ope, gewen.

Geen man kon nog ooit daarin slaag om die Golden Slam te behaal nie. Die enigste speler wat met die prestasie spog, is die Duitser Steffi Graf, wat dit in 1988 reggekry het.

Nadat Djokovic op Wimbledon gewen het, het hy gesê daar is ’n kans dat hy in Tokio sal aantree. Donderdag het die Serwiër egter aangedui dat hy ’n vlugbespreking na die Spele het.

“Ek is baie trots om na Tokio te vertrek om by die res van ons nasionale span aan te sluit, terwyl ons jag maak op die blinkste medaljes op die Spele,” het Djokovic, wat brons in 2008 in Beijing gewen het, gesê.

Van die wêreld se voorste spelers soos Roger Federer, Rafa Nadal, Serena Williams, Stan Wawrinka en Simona Halep het reeds aangedui dat hulle nie in Tokio in aksie gaan wees nie. – Reuters

Meer oor:  Tokio  |  Japan  |  Steffi Graf  |  Olimpiese Spele  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Alex De Minaur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.