Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Baba Van Niekerk spoor Wayde aan

Wayde van Niekerk probeer altyd om sy persoonlike lewe en sy werk op die atletiekbaan van mekaar te skei.

Maar met ’n pienkvoet op pad is dit nie deesdae so maklik om dit te doen nie, erken hy. So elke nou en dan vang hy homself dat hy dink aan die erfenis wat hy as atleet vir sy seuntjie kan laat.

Wayde van Niekerk tydens die Wêreldkampioenskap van 2017, waar hy sy laaste groot vertonings gelewer het voordat sy knie in ’n fratsongeluk beseer is. Al het hy sedertdien niks spesiaal op die atletiekbaan vermag nie, glo hy vas hy kan goed vaar by die Olimpiese Spele. Foto: Getty Images

“Dit laat my met heel ander oë kyk na hoekom ek doen wat ek doen op die atletiekbaan,” het Van Niekerk die afgelope week gesê.

“Deesdae dink ek, ek wil seker maak my seun het eendag baie om op trots te wees wanneer hy oud genoeg is om te weet wat ek in my lewe bereik het en deur my suksesse geïnspireer sal word ook sy drome na te jaag.”

’n Mens sou natuurlik kon argumenteer dat Van Niekerk reeds genoeg gedoen het om sy seun (wat teen die einde van die jaar verwag word) oor en oor te inspireer.

Ons praat darem nou hier van die enigste man in die geskiedenis wat die 100 m in minder as tien sekondes, die 200 in minder as 20 en die 400 in minder as 44 sekondes kon aflê.

En wat natuurlik een mooi somersaand in 2016 in Rio de Janeiro ’n 400-wêreldrekord in baan 8 aan flarde gehardloop het.

Baba Van Niekerk het reeds baie om eendag op trots te wees.

Dominique Scott kon nie die halfeindronde van die 5 000 m vir vroue haal nie. Foto: Gallo Images

Met dit gesê is dit tog ook verstaanbaar dat Van Niekerk droom van meer sukses. Dis nou al amper vier jaar vandat ’n fratsbesering aan sy knie sy loopbaan tot stilstand geruk het en dus vier lang jare sedert hy op sy beste was.

Tog meen die oud-Bloemfonteiner die Spele is die plek waar hy die wêreld weer aan al sy deugde kan herinner.

Hy sou nie in Tokio gewees het as hy nie geglo het hy kan hard daar brul nie, sê hy.

“Ek is nie net hier om hier te wees nie – ek is hier om mee te ding,” sê hy. “Ek wil nou bereik wat ek myself reeds voor my besering ten doel gestel het.”

Van Niekerk gee te kenne dat daar ’n paar verskille is tussen die Wayde van 2016 en die Wayde van 2021 – goeie sowel as slegte verskille.

“Voor die Rio-Spele het ek baie meer wedlope agter die blad gehad as nou. Met die effek van die pandemie en die nukke van my liggaam kon ek dié keer minder meeding.

“Maar natuurlik was ek ook in Rio baie minder ervare as nou en ek het sedertdien baie gegroei. Nie net as atleet nie, maar ook geestelik. Ek weet nou baie beter wanneer ek moet skouer aan die wiel sit en wanneer ek net die stuurwiel vir God moet gee en Hom vertrou,” sê hy.

’n Vraag oor watter tyd hy dink vanjaar vir Olimpiese goud nodig sal wees, beantwoord die Olimpiese kampioen met net twee woorde: “Hopelik myne.”

“Nee, op ’n ernstige noot, dit is maar moeilik om te voorspel. Daar is nou heelwat ouens wat die laaste tyd 43’s gehardloop het, en daar is baie diepte in die 400. So ek is nie seker nie – maar ek was ook nie in 2016 nie en toe verbeter ek die wêreldrekord (tot 43.03 sekondes).

“Ek weet die toestande gaan bevorderlik wees vir goeie tye en ek weet wat van my verwag word. Ek moet net gaan wys waartoe ek in staat is.”

Sokwakhana Zazini seil Vrydag in Tokio oor ’n hekkie. Foto: Gallo Images

Van Niekerk sal Sondag in aksie wees in die uitdunne van die 400. As alles volgens plan vir hom verloop, sal hy vroeg Dinsdagoggend aantree vir die verdediging van sy Olimpiese kroon.

• Die atletiek-kompetisie het Vrydag op ’n goeie noot begin vir Suid-Afrika, met die hekkiesloper Sokwakhana Zazini wat sy plek in die halfeindronde van die 400-hekkies bespreek het.

Zazini (21), wat in 2018 die o.20-wêreldkampioen in dié nommer was, het derde in sy uitdun geëindig, met ’n tyd van 49.51. Die topvier-atlete in elke uitdun is outomaties deur na die halfeindronde.

Dominique Scott het 13de in die tweede uitdun van die 5 000 geëindig in ’n tyd van 15:13.94 en nie die volgende ronde gehaal nie.

• Die eerste goue medalje van die atletiekkompetisie is deur Ethiopië se Selemon Barega verower. Hy het ’n naelskraapse sege in die 10 000 vir mans behaal.

Barega het gewen in 27 minute en 43.22 sekondes. Uganda se Joshua Cheptegei was tweede (27:43.63) en sy landgenoot Jacob Kiplimo derde (27:43.88).

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Wayde Van Niekerk  |  Tokio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.