Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Baie vrae, min hoop vir SA roeiers

Vyf jaar gelede was die Suid-Afrikaanse roeiers se laaste dag by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro die een wat die diepste kepe tussen die afrigter Roger Barrow se oë veroorsaak het.

In Tokio het daardie kepe reeds op die heel eerste dag verskyn.

Die Suid-Afrikaanse roei-viertal dryf Saterdag oor die eindstreep nadat hulle heel laaste in hul Olimpiese uitdun geëindig het. Hul lustelose vertoning het hulle met hope vrae gelaat. Foto: Reuters

Barrow en die land se roeiers is met hope vrae en baie min hoop gelaat nadat sowel die duo in die manspare-kompetisie as die vier in die mans-viertal Saterdag laaste in hul uitdunne geëindig het – in albei gevalle meer as ’n halfminuut agter die wenners.

Terwyl dit teleurstellend was om Jake Green en Luc Daffarn in die SA span se eerste uitdun te sien uitsak, was dit ’n veel kleiner skok as toe dieselfde lot die viertal tref. Dieselfde vier het immers twee maande gelede silwer in ’n Wêreldbeker-toernooi in Switserland gewen, en is met die Olimpiese medaljewenners John Smith en Lawrence Brittain in hul midde beskou as ’n groep om dop te hou.

Tog was daar niks om oor opgewonde te raak in hul uitdun nie, waarin hulle uit die staanspoor agterosse was, en met verloop van die ren net verder uitgesak het.

“Ek weet nie of ek ooit regtig sal weet wat fout was nie,” het Barrow Saterdagmiddag aan SuperSport gesê. “Daar was geen energie nie. Ons is nou al lank (in Japan), en dalk het dit ’n rol gespeel, maar ek het beslis nie daardie vertoning verwag nie.”

Die roeiers se Spele is wel nie verby nie, met ’n repechage Sondag waarin albei groepe steeds sake kan beredder.

Die mans-paar van Green en Daffarn sal deurdring na die halfeindronde as hulle Sondag in hul repechage in die topdrie eindig. Hulle sal hoopvol wees, met hul tyd in Saterdag se uitdunne die tweede vinnigste van die vier spanne wat tot die repechage deurgedring het.

Luc Daffarn en Jake Green was ook laaste in hul uitdun in die mans-parekompetisie. Foto: AP

Vir die viertal (Smith, Brittain, Kyle Schoonbee en Sandro Torrente) is die berg egter nou baie steil.

Hul repechage sou aanvanklik Maandag plaasgevind het, maar is na Sondag verskuif uit vrees dat die tropiese storm Nepartak Tokio ná die naweek kan tref en die roeiprogram in chaos dompel.

Daar is geen halfeindronde in die viertal-kompetisie nie, sodat die spanne wat eerste en tweede in die uitdunne geëindig het (Australië, Amerika, Brittanje en Italië) direk tot die A-eindronde deurgedring het.

Ses spanne sal in die repechage meeding, maar net die toptwee sal vir die eindronde kwalifiseer. Suid-Afrika was met ’n tyd van 6 minute en 25.34 sekondes by verre die stadigste van al die spanne in die uitdunne (meer as 20 sekondes stadiger as hul naaste teenstander, Kanada) en sal dus ’n aansienlik beter tweede dag moet hê om hul medalje-ambisies lewend te hou.

“Ons het net vanaand om sake om te keer, en gaan hard in die spieël moet kyk,” het Barrow gesê. “Ek het nie nou die antwoorde nie, maar ons sal beslis so hard veg as wat ons kan.

“As ek eerlik is, het ek nie veel hoop nie. Die ouens het van die begin af nie hul ritme gevind nie en ons sal moet tegniese veranderinge maak.

“Ek hoop net daar is (Sondag) meer in hul bene. Ons sal alles moet insit (in die repechage), maar die ouens sal sterf om daardeur te kom. Daaroor twyfel ek nie.”

Meer oor:  Luc Daffarn  |  Tokio 2021  |  Roei  |  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.