Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Bert: ‘Tokio-trauma sal Chad nie breek’

Kort nadat Chad le Clos se Olimpiese Spele Donderdagmiddag in Tokio op ’n galbitter noot geëindig het, het hy ’n boodskap aan sy pa gestuur.

“Hy het vir my gesê hy voel verleë oor wat gebeur het, hy weet nie wat verkeerd geloop het nie. Maar een ding moet jy weet: Hy sal nie verskonings maak nie . . . óns sal nie verskonings maak nie. Ons huil nie wanneer ons verloor nie, ons huil wanneer ons wen,” het Bert le Clos aan Netwerk24 gesê.

’n Droom aan skerwe . . . Vir die eerste keer sedert sy tienerjare kon Chad le Clos Donderdag nie die uitdunne van ’n vlinderslag-nommer op ’n groot byeenkoms oorleef nie – sodat hy nou vir die eerste keer in sy loopbaan sonder ’n medalje van ’n Olimpiese Spele sal terugkeer. Foto: Getty Images

’n Dag nadat Le Clos die bitter pil van ’n vyfde plek in die 200 m-vlinderslag (’n nommer wat hy eens oorheers en sy “baba” genoem het) moes sluk, kon hy Donderdag – met net die 18de vinnigste tyd – nie die uitdunne in die 100-vlinderslag oorleef nie.

Soos vroeër vandeesweek in die 200 het die 29-jarige Kapenaar in die laaste helfte van die resies uitgesak en uiteindelik sesde aan die muur geraak.

Sy tyd van 51.89 sekondes was ’n sekonde en ’n half stadiger as die Olimpiese rekord van 50.39, waarmee die Amerikaner Caeleb Dressel kort daarna ’n vroeë waarskuwingskoot aan sy teenstanders gestuur het.

Le Clos, wat op albei die vorige Spele silwer in die 100-vlinderslag gewen het, het vanselfsprekend bedremmeld uit die swembad geklim . . . en gesukkel om die regte woorde te vind toe hy die media te woord gestaan het.

“Dis moeilik. Ek weet nie wat gebeur het nie. Ek weet nie wat om te sê nie,” het hy volgens SuperSport gesê.

“Maar ek maak geen verskonings nie. Ek het teen almal anders verloor. Dis verpletterend.”

Ons huil nie wanneer ons verloor nie, ons huil wanneer ons wen.
Bert le Clos

Bert het dieselfde woord gebruik om sy emosies oor sy seun se uitslag te beskryf en gesê dis vir hom veral hartseer omdat Chad “verlede jaar een van die slegste jare van sy lewe gehad het – een van die slegste in die geskiedenis van die Le Clos-familie”.

Wat hy daarmee bedoel het, wou hy nie sê nie. “Ek gaan nie daaroor uitwei nie. Ek sal net sê dat ’n aaklige ding met Chad gebeur het en dat hy daarmee saam boonop ander struikelblokke gehad het.

“Hy kon nie oefen soos en wanneer hy wou nie omdat die swembaddens gesluit was (weens die Covid-19-inperking). En selfs nadat dit weer oopgemaak het, is hy by party plekke weggewys.

“In die tyd dat Matthew Sates en Ethan du Preez (twee van die tieners in die Olimpiese span) vroeër vanjaar hier gebly het, moes hulle rondry om ’n swembad te vind waar hulle kon oefen. Drie swemmers wat wou oefen vir die Olimpiese Spele en hulle kon nie oefen nie!”

Bert, wat in 2012 ewe bekend as Chad geword het ná sy uitbundige viering van sy seun se oorwinning oor Michael Phelps in Londen, het gesê ondanks Donderdag se teleurstelling in Tokio is hy steeds trots op hom.

“Jy weet, ek stap vroeër hier in die dorp toe keer ’n ou my voor en sê: ‘Nou wat is fout met Chad? Hoe kon hy net vyfde eindig?’

“Toe vra ek vir hom of hy kinders het en hoeveel van hulle al by ’n Olimpiese Spele uitgekom en vier medaljes daar gewen het. Wat my seun al in sy loopbaan gedoen het, is spesiaal.

“Hierdie keer het dinge maar net nie reg vir hom verloop nie – al van lank voordat hy na Tokio is, maar ek bly trots op hom,” sê Bert.

“Ek sal ook vir jou een ding sê – en maak ’n aantekening hiervan: Volgende jaar hierdie tyd gaan ons by die Statebondspele wees en jy gaan my bel en sê ek was reg. Solank daar nie siekte of dood oor sy pad kom nie, sal Chad oor ’n jaar Statebondspele toe gaan en almal daaraan herinner hoe goed hy is en vir almal wys dat hy steeds ’n kampioen is. Onthou hierdie woorde.

“Wat (Donderdag) in Tokio gebeur het, is sleg, maar dit gaan Chad nie breek nie.”

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Chad Le Clos  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.