Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Bianca vind silwer in ‘wasmasjien’

Vir Bianca Buitendag was branderry nog altyd terapie. Sy het dit Dinsdag beskryf as “die naaste ding wat daar is aan die hemel”. 

En dalk was daar inderdaad engele wat die toutjies vir haar getrek het terwyl sy Maandag en Dinsdag aanhou voortrol het na die Olimpiese podium, waarop sy uiteindelik silwer om haar nek gedra het.

Bianca Buitendag op een van die skuimerige stormbranders wat haar Dinsdag in Tokio na die Olimpiese podium voortgestu het. Foto: AP

Of dalk was dit net nog altyd bestem dat ’n kompetisie wat sy aanvanklik net as haar swanesang beskou het, uiteindelik haar heel grootste oomblik op die branders sou oplewer.

Die 27-jarige Buitendag het haarself oor die bestek van twee dae voorgestel aan ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wat nog nooit voorheen haar naam gehoor het nie. Sy het in dié tyd die etiket van buiteperd in die Olimpiese kompetisie sodanig omarm dat dit haar tot ’n silwermedalje aangespoor het.

Nadat die Suid-Kapenaar (wat net 17de gekeur was) Maandag met die sewemalige wêreldkampioen Stephanie Gilmore afgereken het, kon dit nog afgemaak word as ’n gelukskoot en dat Gilmore haar dalk onderskat het.

Maar toe seëvier sy ook Dinsdag in die kwarteindronde oor die negende gekeurde Yolanda Hopkins (met 9.50 teen 5.46) en laat rol in die halfeindronde die kop van die tweede gekeurde Caroline Marks (met 11 punte teenoor 3.67).

Ek is net trots daarop dat ek ’n Suid-Afrikaner is en die pragtige mense van ons land hier kon verteenwoordig.

Dit het haar verseker van ’n medalje en gesorg dat daar nie veel salf vir die wonde nodig was toe die eerste gekeurde Carissa Moore haar uiteindelik in die eindronde met 14.93 teenoor 8.46 verslaan nie.

“Ek is super-trots,” het Buitendag Dinsdag ná die eindronde gesê. “Ek is net trots daarop dat ek ’n Suid-Afrikaner is en die pragtige mense van ons land hier kon verteenwoordig. Ek hoop dit sal meisies aanmoedig om in die water te kom en voorgestel te word aan wat die liefde van my lewe is – iets wat ek sal doen totdat ek die dag dood neerslaan. Dis my terapie, dis vir my die naaste ding wat daar is aan die hemel.”

Buitendag en die ander branderryers wat Maandag se derde ronde oorleef het, is Dinsdagoggend by die Tsoerigasaki-strand begroet deur grys lug en ’n woedende oseaan. Met ’n tropiese storm op pad na Tokio het die branders dik en haastig kus toe gerol – en Buitendag-hulle het hul lippe afgelek.

“Vandag was ’n stryd, uit en uit. Die branders was ses voet hoog en morsig – dit was soos om in ’n wasmasjien te wees,” het sy gesê.

“Maar dis iets wat in die buiteperd se guns sal tel, want in sulke toestande kan enigiets gebeur. Wat vandag gebeur het, is net ’n bewys dat enigiemand dit kan maak.”

Greg Emslie, Buitendag se afrigter wat vir jare self op die hoogste vlak branders gery het, het haar silwer-sukses as “onwerklik” beskryf.

“Dit volg op omtrent vier jaar se werk, met die kwalifisering en alles anders wat ons gedoen het,” het hy gesê. “Ná elke tweestryd het Bianca na my gekom en gesê sy kan nie glo dat dinge aanhou om in haar guns te verloop nie, maar ek het vir haar gesê dis wat gebeur as jy voorberei – dit was nie geluk nie.”

Emslie sê die effek wat Buitendag se triomf op branderplankry in Suid-Afrika gaan hê, is enorm.

“Daar is baie mense by die huis wat hier kon gewees het of geïnspireerd was om hier te probeer uitkom. Hulle kon nou een van hul eie, ’n Suid-Afrikaner, sien silwer wen en dit raak vir hulle ’n werklikheid waarin hulle kan glo, dat hulle dit ook kan doen,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.