Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Blitsbokke ‘hou nie by plan, volg eie kop’

Dit voel effens onwerklik dat die Blitsbokke se aanslag op ’n goue medalje by die Olimpiese Spele Woensdag deur Argentinië van alle spanne tot ’n einde gebring is.

Maar dit is die werklikheid. Die Argentyne, wat vir die grootste gedeelte van die wedstryd met ses spelers oor die weg moes kom, het Suid-Afrika in die kwarteindronde in Tokio met 19-14 geklop.

Die Blitsbok Kurt-Lee Arendse word grond toe gebring deur Lucio Cinti van Argentinië Woensdag in Tokio. Foto: Getty Images

In die laaste paar sekondes van die wedstryd het die wenspan net vyf spelers op die veld gehad, met een wat koelkas toe gestuur is.

In die geval van so ’n nederlaag is dit sekerlik normaal om te wonder waar dinge skeefgeloop het.

Daar was uiteraard baie kleitrappery aan die kant van die Blitsbokke: hanteerfoute, ’n bal in die lynstaan wat nie bemeester is nie, duikslae wat verbrou is en ’n rits strafskoppe wat afgestaan is. Dit is foute wat heeltemal teen die karakter van die nasionale sewesspan indruis.

Hulle (Argentinië) het ’n rooi kaart gekry, maar ons het een-een gespeel.
Renfred Dazel

Renfred Dazel, hulpafrigter van die Blitsbokke, het ná die teleurstelling teen die Argentyne daarop gewys dat die spelers hul eie kop tydens die wedstryd gevolg het.

“Ons het nie as ’n span gespeel nie en ook nie by die plan gehou nie. Ons het nie ons plan in werking gestel nie.

“Hulle (Argentinië) het ’n rooi kaart gekry, maar ons het een-een gespeel. Die geleenthede wat ons gekry het, het ons nie in punte omskep nie,” sê Dazel.

“Ek dink ons was nie goed genoeg nie. Vir elke wedstryd is daar ’n plan en die ouens het nie daarby gehou nie.”

Vir getroue ondersteuners sal die nederlaag ’n bitter pil wees om te sluk. Veral omdat die Blitsbokke die gewoonte het om altyd tot die einde toe aan te hou met veg – as hulle dan wen, is dit ’n bonus.

Van daardie kenmerkende veggees was daar teen die Argentyne egter bitter min te sien.

Siviwe Soyizwapi, kaptein van die Blitsbokke, sê die spelers het hulself in die steek gelaat. Foto: Getty Images

Ook Siviwe Soyizwapi, kaptein van die nasionale sewesspan, wys daarop dat die span nie by die plan gehou het nie.

“Ons het nooit die geleentheid gehad om met die bal te speel nie en ons plan is nooit in werking gestel nie. Argentinië het gekom en sy wil en manier van speel op ons afgedwing. Ons het toegelaat dat dít gebeur,” sê Soyizwapi.

“Tans hang ons koppe; ons het onsself in die steek gelaat. Ons het simpel foute gemaak en nie ons standaarde gehandhaaf nie.”

Daar is natuurlik versagtende omstandighede en dit is nie onredelik om te sê dat Covid-19 die Blitsbokke erg benadeel het nie. So byvoorbeeld moes die span se afrigter, Neil Powell, die aksie vanuit ’n kwarantyn-gerief in Kagosjima volg nadat hy positief getoets is vir die koronavirus.

Asof dit nie genoeg is nie moes Ashley Evert, spanbestuurder, en die spelers met hul aankoms in Japan ’n paar dae in isolasie deurbring. Dit het die span waardevolle tyd op die oefenveld ontneem.

Maar ’n gebrek aan veggees het sekerlik niks met die ontwrigting weens Covid-19 te doen nie?

• Die Blitsbokke kom Woensdagoggend 03:30 (SA tyd) teen Australië te staan in ’n uitspeelwedstryd om die vyfde tot die agtste plek te bepaal. Kanada en Amerika is in die ander uitspeelwedstryd om dié plekke slaags. Die wenners van die twee wedstryde kom dan teen mekaar te staan om te bepaal wie vyfde en wie sesde klaarmaak.

• Nieu-Seeland en Brittanje is 04:00 in die eerste halfeindstryd slaags, met Argentinië en Fidji wat mekaar om 04:30 pak.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Sewes  |  Tokio-Spele  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.