Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Onoorwonne Blitsbokke g'n oorgerus

Die versoeking is groot om jou blind te staar teen die magdom foute wat die Blitsbokke in hul laaste wedstryd op die eerste dag van die sewesrugbytoernooi in die Olimpiese Spele gemaak het.

Suid-Afrika het Kenia Maandag met 14-5 in Tokio geklop in ’n wedstryd waarin die Blitsbokke soms balbesit op hul eie ingooi by die lynstane of by afbreekpunte verloor het.

Die Blitsbok Kurt-Lee Arendse word Maandag in die lug gehou deur Siviwe Soyizwapi in die kragmeting met Kenia. Regs staan Selvyn Davids nader. Foto: Gallo Images

Sulke foute kan jou maklik pessimisties oor die span se vooruitsigte in die Spele-toernooi maak. Die werklikheid is egter dat die Blitsbokke nie net die eerste dag onoorwonne afgesluit het nie (nadat hulle Ierland vroeër met 33-14 verslaan het), hulle is ook reeds verseker van ’n plek in die kwarteindronde.

Renfred Dazel, hulpafrigter van Suid-Afrika, besef weens die min internasionale mededinging wat die span in die opbou tot die Spele gehad het, sou die spelers nie sommer al op die eerste dag ’n vyfster-vertoning opdis nie.

“Ons het geweet dit gaan fisiek wees en dat Kenia ons altyd by die afbreekpunte gaan aanvat. Ek dink die ouens is regtig teleurgesteld in hul vertoning, maar hulle sal gereed wees vir môre (Dinsdag),” sê Dazel.

“Vir ons was dit goed om twee oorwinnings te behaal. Die laaste een was nie baie netjies nie, maar ons aanvaar dit. Ons het geweet dat ons bitter lank laas sulke strawwe mededinging gehad het. Ek dink die manne het hulle goed van hul taak gekwyt.”

Ook die spelers besef dat die vertoning teen veral Kenia ver van volmaak was.

Selvyn Davids het teen Kenia gewys dat hy nog sy danspassies kan uitvoer. Foto: AP

“Ek dink ons het dit vir onsself ’n bietjie moeilik gemaak deur balbesit op kritieke tye van die wedstryd te verloor,” sê Impi Visser, ’n voorspeler.

“Ons het ook twee van ons lynstane verloor. As jy nie jou vaste fasette kan wen nie, gaan jy dit altyd moeilik maak vir jouself.”

Tog was daar meer as genoeg tekens dat die Blitsbok-masjien binnekort weer op alle silinders kan vuur. Die span se kaptein, Siviwe Soyizwapi, Angelo Davids en Sako Makata het almal teen Kenia by geleentheid omgekeerde balbesit vir Suid-Afrika bewerkstellig. Ook toe Kenia knaend in die tweede helfte probeer het om nog ’n drie te druk, het die Blitsbokke se verdediging gehou.

Die Blitsbokke het reeds hul plek in die kwarteindronde van die sewestoernooi in die Spele bespreek. Foto: Gallo Images

Daarby het die klein towenaar Selvyn Davids vroeg in die wedstryd een van sy danspassies gewys toe hy gaan druk het.

Die Blitsbokke kom Dinsdag om 04:28 (SA tyd) in hul laaste kragmeting in Groep C teen Amerika te staan. Die laaste keer dat die twee spanne slaags was, in die kwarteindronde van die Vancouver-toernooi in Maart 2020 in Kanada, het Suid-Afrika met 26-10 gewen.

Ook die Amerikaners het Maandag onoorwonne afgesluit, nadat hulle met Ierland (19-17) en Kenia (19-14) afgereken het.

Wat die ander spanne in die kompetisie betref, is Fidji, Nieu-Seeland en Brittanje ook steeds onoorwonne. Dié drie spanne, saam met Suid-Afrika en Amerika, word as die gunstelinge beskou om Woensdag as kampioen gekroon te word.

• Die kwarteindronde word ook Dinsdag beslis.


Meer oor:  Sewesrugby  |  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.