Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Blitsbokke terug op oefenveld
Die Blitsbok Branco du Preez tydens Dinsdag se oefensessie in Kagosjima. Foto: SA Rugby

Meer as ’n week nadat die Blitsbokke na Japan vertrek het vir die Olimpiese Spele, kon die span Dinsdag – te midde van ’n aantal Covid-19-terugslae – uiteindelik op die oefenveld uitdraf.

Die nasionale sewesspan het die eerste keer op Japanse bodem (Kagosjima) geslyp – minder as ’n week voor sy eerste wedstryd by die skouspel in Tokio.

Die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, sê die spelers was baie energiek tydens die oefening.

“Dit is regtig lekker om buite te wees, nadat ons vir so ’n lang tyd in isolasie in ons kamers was. Wanneer jy slegte nuus kry, verwerk jy dit,” sê Soyizwapi.

“Ons het mekaar ondersteun sodat ons deur daardie laagtepunte kon gaan.

As ’n groep, spelers en bestuur, het ons besluit dat ons positief gaan wees. Dit is net nog hindernisse wat in ons pad is; dit gaan alles daaroor om dit te oorkom.
Siviwe Soyizwapi

“As ’n groep, spelers en bestuur, het ons besluit dat ons positief gaan wees. Dit is net nog hindernisse wat in ons pad is; dit gaan alles daaroor om dit te oorkom.”

Soyizwapi wys daarop dat die lang tyd weg van die oefenveld nie ’n onoorkombare probleem vir die span wees nie.

“Wanneer ons in toernooie in die Wêreldreeks speel, het ons ook min of meer dieselfde tyd (om voor te berei). Ek dink dit kon dalk goed gewees het om rus te kry en meer op die wedstrydplan te fokus. So, ons het nou vyf dae en ek dink ons sal dit regtig goed gebruik,” sê hy

Die eerste hekkie wat die Blitsbokke moes oorsteek, was toe die span verlede week Woensdag met sy aankoms in Tokio in kwarantyn moes gaan.

Die eerste hekkie wat die Blitsbokke moes oorsteek, was toe die span verlede week Woensdag met sy aankoms in Tokio in kwarantyn moes gaan. Dit was omdat ’n passasier op die vlug positief vir Covid-19 getoets is.

Deel van die Spele-protokolle vir Covid-19 is dat daar in die geval van ’n positiewe toets met ’n proses begin word om te bepaal wie in kontak met so ’n persoon was.

Dit het beteken dat die Blitsbokke in kwarantyn moes gaan en eers nadat hulle die groenlig gekry het, Saterdag na Kagosjima kon vertrek vir hul oefenkamp.

Ashley Evert, die Blitsbokke se spanbestuurder, kon egter nie saamreis nie, omdat hy beskou is as ’n nabye kontak met die positiewe geval.

Met die span se aankoms in Kagosjima is Neil Powell, afrigter, positief getoets. Hy moet 14 dae in kwarantyn deurbring en gaan gevolglik die Spele misloop.

Renfred Dazel, hulpafrigter van die Blitsbokke, wat in Neil Powell se afwesigheid die leisels vashou, tydens Dinsdag se oefensessie. Foto: SA Rugby

Dit het egter beteken dat almal weer in afsondering moes gaan, waarna ’n proses van sifting – wat onderhoude ingesluit het om almal in die span se bewegings te bepaal – plaasgevind het.

Die Blitsbokke kon toe uiteindelik Dinsdag voet op die oefenveld sit, nadat hulle die afgelope paar dae aanlyn oefensessies gehad het. Powell het die aanlyn sessies gelei, terwyl sy regterhand, Renfred Dazel, in beheer van Dinsdag se veldsessie was.

Verdere goeie nuus is dat Evert toestemming gekry het om kwarantyn te verlaat. Hy gaan egter nie na Kagosjima reis nie, maar direk na Tokio, waar die Blitsbokke die naweek hul intrek in die Speledorp neem.

• Die Blitsbokke kom Maandag op die eerste dag van die sewestoernooi teen Ierland en Kenia te staan.

Meer oor:  Siviwe Soyizwapi  |  Neil Powell  |  Tokio  |  Japan  |  Covid-19  |  Olimpiese Spele  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.