Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Bouwerk aan stadions vir Spele vorder

Die stadions vir die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio, Japan, sal betyds klaar wees.

So het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) Maandag tydens ’n driedaagse besoek aan dié land gesê.

’n Lugfoto van die Nasionale Stadion in Tokio wat in aanbou is. Foto: Getty Images

Plaaslike organiseerders het onder kritiek deurgeloop nadat die bodproses in Julie 2015 heropen moes word omdat daar ontevredenheid was oor die boukoste aan die nuwe Nasionale Stadion wat die hoogte ingeskiet het.

Dit het vrese laat ontstaan dat Japan se stadions nie betyds klaar sal wees nie.

Tog is een van die stadions wat in die skouspel gebruik gaan word reeds verlede maand voltooi. Dit het die hoop laat opvlam dat Japan wél al sy verpligtinge betyds sal nakom.

John Coates, voorsitter van die IOK se koördineringskomitee, is vol vertroue dat Japan die stadions betyds gereed sal hê.

“Dit is ’n uitstaande prestasie om die eerste permanente stadion te kon lewer. Daar moet nog ses stadions voltooi word en ons is oortuig dat die ses op die ooreengekome tye gereed sal wees,” sê Coates.

Ander besprekingspunte op die driedaagse besoek sluit in sekuriteit, maniere om die Spele-begroting van $12 miljard verder te verminder en die protokol rondom die gebruik van verbode middels.

Coates sê ook daar is ’n kortlys vir dié Spele se amptelike gelukbringer.

Skoolkinders van oor Japan heen sal deur middel van ’n stemming vir die amptelike gelukbringer stem.

Coates hoop dat die aanwysing van die gelukbringer verder sal bydra om die geloofwaardigheid van die Spele te bevorder.

“Die fokus op die jeug en geslagsgelykheid gaan een van die kenmerke van die Spele in 2020 wees,” sê Coates.

Konstruksiewerk aan die atletedorp in Tokio is aan die gang. Foto: Getty Images

Daar word verwag dat 48,8% van die deelnemers vroue gaan wees.

Die Japanse motorvervaardiger Suzuki sê die land se regering het ’n leidende rol om te speel om ’n veilige Olimpiese Spele te verseker.

Tokio het Istanbul en Madrid in 2013 uitgestof vir die reg om die Spele in 2020 aan te bied.

Maar dinge het nie vlot verloop nie. Ná die fiasko rondom die Olimpiese Stadion, was daar ook beskuldigings van plagiaat oor die logo vir die Spele.

Om alles te kroon het buitengewone reënval in Oktober parasitiese besmetting tot gevolg gehad op ’n terrein wat vir die driekamp en oopwater-swem geoormerk is. 

– Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.