Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Britte behou onoorwonne rekord teen SA

Brittanje het onoorwonne gebly ná vyf wedstryde (twee was gelykop) teen die Suid-Afrikaanse mans deur hul eerste wedstryd Saterdag op die Olimpiese Spele in Tokio met 3-1 te wen.

Suid-Afrika se kaptein, Tim Drummond, plaas sy lyf op die spel voor die aanstormende Chris Griffiths van Brittanje Saterdag in Tokio waar die Britte hul eerste wedstryd op die Spele met 3-1 gewen het. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaners was nie in die vorige Olimpiese Spele in aksie nie en het weens die Covid-19-pandemie vir langer as 16 maande nie enige mededingende internasionale hokkie gespeel nie.

’n Groot verskil tussen die spanne was die Britte se 10 strafhoeke teenoor die Suid-Afrikaners se enkele een waarmee hulle aan die begin hul doel aangeteken het.

Die telling sou heelwat groter gewees het as dit nie was vir die veteraan-doelwagter Rassie Pieterse nie, wat ná dié toernooi uit internasionale hokkie gaan tree. Hy moes veral in die tweede helfte sy keer ken.

Die druk het net te veel begin raak vir Suid-Afrika, wat in die laaste kwart in ’n stadium boonop net nege spelers op die veld gehad het. Bili Ntuli was toe vir 10 minute van die veld af ná sy derde geel kaart in die wedstryd.

Die spanne se vorige wedstryd in 2012 se Spele in Londen het met 2-2 gelykop geëindig ná drie doele in die laaste tien minute. Dié keer was daar met die intrapslag vuurwerk.

Sam Ward, die gesamentlike voorste doelskieter met die afgelope Europese kampioenskap toe hy vir Engeland gespeel het, het die doelhok reeds in die tweede minuut laat raas met die Britte se tweede strafhoek.

Die gemaskerde Ward (’n bal het in 2019 in ’n wedstryd teen Maleisië sy oogbank versplinter en hom met gedeeltelike sig in sy linkeroog gelaat) se trekhou was van die beenskut van Pieterse in.

Suid-Afrika het die vroeë doel onmiddellik geneutraliseer toe Matt Guise-Brown ook van ’n strafhoek suksesvol was.

Pieterse was net voor die einde van die eerste kwart op sy stukke om ’n trekhou van Ward uit te hou.

Sam Ward vier sy doel reg aan die begin van die wedstryd met sy tweede trekhou. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het in die tweede kwart sy voete effens begin vind. ’n TV-kykweer is net voor rustyd aangevra, wat nie duidelik kon wys of dit wel ’n strafhoek aan Suid-Afrika was nie en dit het 1-1 ná die eerste helfte gebly.

Liam Ansell se doel kort ná die hervatting van die tweede helfte uit gebroke spel was die enigste doel van die derde kwart.

Suid-Afrika was met dié doel, en met die Britte wat goed daarin geslaag het om die bal heeltyd voor hul stokke te hou, onder baie druk.

Pieterse en die verdedigingslinie het egter daarin geslaag om ’n handvol strafhoeke in die daaropvolgende 10 minute uit te hou.

Dit was met die laaste kwart net ’n kwessie van tyd voordat die Britte weer sou glimlag.

Ansell se poging, nadat ’n strafhoek ná ’n TV-kykweer toegeken is, is uitgehou, waarna die Suid-Afrikaners met Ntuli se oortreding verder uitgedun is.

Jack Waller kon toe in die 54ste minuut ’n dwarsaangee van Phil Roper afrond.

Suid-Afrika speel Sondag in sy tweede wedstryd teen Nederland, wat met 1-3 teen België vasgeval het.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Hokkie  |  Suid-Afrika  |  Tokio-Spele  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.