Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Britte huil van vreugde ná swemglorie

Trane van blydskap het Woensdag gevloei toe Brittanje se 4x200 m-vryslag-mansaflosspan ’n eerste goue medalje in dié nommer sedert 1908 verower het.

Tom Dean het sy tweede goue medalje op dié Spele losgeslaan toe hy Dinsdag die wenner in die individuele 200-vryslag was. James Guy, Matthew Richards en Duncan Scott het hul eerste medaljes verower.

Calum Jarvis het in die uitdunne geswem.

Guy en Scott het in 2016 in Rio de Janeiro ’n silwermedalje gewen, terwyl Amerika – met Michael Phelps en Ryan Lochte in die span – goud behaal het.

Die Britte het Woensdag egter as die gunstelinge aangetree en nie teleurgestel nie.

Matthew Richards, James Guy en Tom Dean moedig Woensdag hul spanmaat Duncan Scott aan wat die laaste been van die 4x200 m-vryslagaflos geswem het. Foto: Gallo Images

“Ons het in 2016 tweede gekom, maar tóé was dit ’n reuse-prestasie,” sê Scott, wat die laaste skof geswem het.

Hul tyd was 6 minute, 58.58 sekondes.

Dit is 0.03 sek. stadiger as die wêreldrekord, wat Amerika in 2009 opgestel het en 0.02 sek. stadiger as die Olimpiese rekord, wat die Amerikaners in 2008 opgestel het.

Dean het die eerste skof geswem, gevolg deur Guy, wat die span van die derde na die eerste posisie gelig het, en toe het Richards na Scott vir ’n gemaklike oorwinning oorgegee.

Amerika het op elke Spele sedert 1908 ’n medalje in dié nommer gewen, behalwe op die Moskou-Spele in 1980 wat geboikot is.

Die Amerikaners het Woensdag vierde geëindig.

Dit is ook die eerste keer sedert 1908 dat Brittanje op een Spele drie goue medaljes in die swembad verdien het. Adam Peaty het sy titel in die 100 m-borsslag behou.

Dit is ook die eerste keer in 113 jaar dat ’n Britse man (Dean) twee goues op een Spele verower het.

“As ’n kind het ek daarvan gedroom om ’n Olimpiese goue medalje te wen. Om dit eindelik as ’n 25-jarige te kon vermag, is nogal emosioneel,” het ’n tranerige Guy gesê, wat sy trane afgevee het nog voordat Scott die kant van die swembad geraak het.

“Ons is die beste vryslag-swemmers in die wêreld. Dit is ongelooflik hoe dinge verander het.

“Michael Phelps en Ryan Lochte het in Rio gewen, maar nou is ons die Olimpiese kampioene en dit is ’n droom wat bewaarheid is,” sê Guy. – Reuters

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.