Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Cassiem-broers ligpunt in hokkie-slagting

Die wêreldkampioen, België, het in ’n fees van altesaam 13 doele die Suid-Afrikaanse manshokkiespan Dinsdag met 9-4 in hul groepwedstryd by die Olimpiese Spele afgeransel.

Alexander Hendrickx het sy tweede driekuns aan doele in Tokio vir die wenspan aangeteken.

Dayaan Cassiem van Suid-Afrika (regs) en Victor Wegnez van België jaag die bal Dinsdag in Tokio. Foto: Getty Images

Ofskoon dit ’n deeglike loesing was, weet die wêreld nou van Suid-Afrika se Cassiem-broers. Die spel van Dayaan (22) en Mustaphaa (19) was ’n ligpunt in die slagting. Hulle het gewys die toekoms van die spel in Suid-Afrika lyk rooskleurig.

Dayaan het dit 1-elk in die vyfde minuut gemaak en vroeg in die tweede helfte sy tweede doel ook uit gebroke spel aangeteken wat dit toe 4-7 gemaak het.

Hy spog nou met drie doele ná drie wedstryde, terwyl sy tiener-kleinboet, Mustaphaa, ook gewys het hy kan afrond toe hy Dinsdag sy tweede doel by die Spele aangeteken het.

België het van meet af aan die doele ingeryg.

Die finalis in 2016 in Rio de Janeiro het in die eerste kwart reeds met 5-1 voorgeloop en dit het gelyk of hy Suid-Afrika se nederlaag van 0-10 in 2008 teen Australië gaan oortref.

Dit was 7-3 met rustyd en 9-4 ná die derde kwart, wat toe ook die eindtelling was.

Die wenspan het slegs vier strafhoeke gehad en Hendrickx het welslae met drie daarvan behaal.

John-John Dohmen het die wenspan vroeg laat voorloop en net voor die einde van die eerste kwart sy doel uit gebroke spel aangeteken.

Dit was vroeg in die tweede kwart 6-1 toe Hendrickx met sy tweede doel ná ’n strafhoek geslaag het.

Mustaphaa Cassiem en Bili Ntuli het kort voor rustyd doele vir Suid-Afrika aangeteken om dit 3-7 te maak.

Suid-Afrika sal homself in sy volgende wedstryd Donderdag teen Duitsland, sy vierde agtereenvolgende Europese teenstander, ’n geringe buitekans gee. Hy het in die vorige wedstryd teen Duitsland in 2020 gelykop gespeel nadat die besoekers die eerste twee wedstryde in Johannesburg gewen het.

Suid-Afrika sal in sy laaste groepwedstryd Vrydag teen Kanada beslis probeer om vir die eerste keer sedert Athene in 2004, toe hy Argentinië geklop het, weer ’n sege in die eerste ronde te behaal.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Hokkie  |  Sa Manshokkiespan  |  Tokio-Spele  |  België
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.