Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Chad le Clos droom van ’n nuwe etiket

In die nege jaar sedert Chad le Clos sy sport se heel grootste ikoon in ’n onvergeetlike Olimpiese eindronde in Londen geklop het, het hy nog nooit ophou soek na iets anders wat hom kon definieer nie.

Chad le Clos en sy afrigter, James Gibson, verlede week in die Olimpiese swemsentrum, waar hy van Maandag af in aksie sal wees. Foto: Getty Images

Om ’n erfenis soos daardie uit te wis is egter makliker gesê as gedaan. Die feit dat hy ’n viermalige Wêreldbeker-reekswenner is, ’n elfmalige wêreldkampioen en ’n sewemalige Statebond-kampioen kon nog nooit Le Clos se Michael Phelps-assosiasie wegvee nie.

So nou het Le Clos ’n nuwe ideaal: om iets te vermag wat minstens in dieselfde asem as sy 2012-triomf oor Phelps genoem kan word.

“Ek wil regtig herken word as die beste,” het Le Clos verlede week aan BBC Sport gesê. “Ek wil hê mense moet sê: ‘Chad le Clos – nie net die ou wat Michael Phelps geklop het nie, maar die beste atleet wat Suid-Afrika nog ooit gehad het.’ ”

Met soveel sukses op sy kerfstok kan ’n mens argumenteer Le Clos het reeds ’n aanspraak op daardie kroon. Maar streng in Olimpiese terme word hy tog oorskadu. Hy is een van ’n groot groep Suid-Afrikaners met een Olimpiese goue medalje, teenoor drie Suid-Afrikaners (Penny Heyns, Caster Semenya en Charles Winslow) wat twee kon wen.

En dis wat hom die komende week sal aanvuur.

Le Clos se aanslag op meer Olimpiese glorie begin Maandagmiddag (SA tyd) in die uitdunne van die 200-vlinderslag, waarin hy destyds vir Phelps ore aangesit het.

Die 29-jarige Kapenaar het sedertdien twee silwermedaljes in die 100-vlinderslag en in 2016 ook ’n verrassende silwer in die 200-vryslag opgeraap. Vanjaar sal hy egter nie in laasgenoemde swem nie.

Le Clos se vooruitsig van Olimpiese goud in die twee vlinderslag-items is wel maar skraal. Twee jong mans – die 24-jarige Caeleb Dressel (100-vlinderslag) en 21-jarige Kristof Milak (200-vlinderslag) – het die afgelope twee jaar na vore getree en Phelps se wêreldrekords in dié items uit die rekordboeke gevee. Dis vir hulle wat Le Clos nou moet pypkan as hy sy Olimpiese erfenis wil vergroot, en hy moet dit boonop doen ná ’n jaar waarin hy amper nooit in die buiteland kon deelneem nie.

“Ek het ses slegte maande gehad,” sê Le Clos. “Dis geen geheim dat ons nie die beste opbou tot die Spele gehad het nie. Suid-Afrika is op ’n rooilys geplaas en ons kon nie reis soos ons wou nie. Ek moes lank wag voor ek uiteindelik uit die land kon kom vir ’n paar byeenkomste in Europa.

“Ek het daai kompetisie in ’n 50 meter-bad nodig gehad, want dis al hoe ek beter raak: deur mee te ding. Jy kan oefen so hard soos jy wil, maar jy het die ‘wedstrydfiksheid’ nodig.”

Dis geen geheim dat ons nie die beste opbou tot die Spele gehad het nie. Suid-Afrika is op ’n rooilys geplaas en ons kon nie reis soos ons wou nie.

Ná sy chaotiese opbou tot die Spele is dit onmoontlik om te voorspel hoe Le Clos teen die room van die mans-vlinderslag sal vertoon. En hy wil dit ook nie waag nie.

“Ek kan nie goue medaljes belowe nie – ek kan geen medaljes belowe nie,” sê hy. “Maar wat ek wel kan belowe, is dat ek my absolute beste sal gee, en nooit sal ophou veg nie.”

• ’n Goeie vertoning Maandag deur Le Clos sal soos manna uit die hemel wees nadat net een Suid-Afrikaner (die borsslag-swemmer Tatjana Schoenmaker) oor die eerste twee dae van die Spele kon stem dik maak.

Schoenmaker het Sondag ’n nuwe Afrika-rekord in die 100-borsslag opgestel, maar is nie net die enigste swemmer wat tot dusver ’n uitdun kon wen nie – sy is die enigste wat nie laaste in ’n uitdun was nie.

Ná Erin Gallagher (100-vlinderslag) en Michael Houlie (100-borsslag) Saterdag laaste in hul uitdunne was, het die 17-jarige Pieter Coetze ook Sondag laaste aan die muur geraak in sy 100-rugslag-uitdun.

Coetze het ’n tyd van 54.05 opgestel vir die 24ste vinnigste tyd onder die 41 deelnemers.

Nog ’n 17-jarige, Ethan du Preez, sal Maandag saam met Le Clos aan die 200-vlinderslag deelneem, en Rebecca Meder aan die 200-individuele wisselslag.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Chad Le Clos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.