Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Chad ‘soos Lasarus’ op Tokio-Spele

Van broekskeur tot brullend – binne net 16 uur.

Chad le Clos het die veghond in hom Dinsdagoggend herontdek toe hy ’n bitter teleurstellende eerste dag op die Tokio-Spele met ’n uiters dapper vertoning in die halfeindronde van die 200 m-vlinderslag tot diep in sy geheuebank verban het.

s
Dit voel beter! Chad le Clos lig sy duim vir die fotograwe nadat hy Dinsdag in Tokio sy halfeindronde gewen het. Foto: Getty Images

16 uur nadat hy die uitdunne van dié nommer net-net oorleef het deur net die 16de vinnigste tyd op te stel, was Le Clos Dinsdag in die halfeindronde die derde vinnigste deelnemer – en dalk nou selfs terug in die medalje-gesprek.

Die 29-jarige Kapenaar het die eerste van twee halfeindrondes in ’n tyd van 1 minuut en 55.06 sekondes gewen nadat hy soos ’n pyl uit ’n boog van die wegspringblokke was.

Ná die eerste 100 m was hy reeds byna twee sekondes voor enigiemand anders, en het ’n mens begin wonder of hy ’n duur prys sou betaal vir al die energie wat hy in die proses verbrand het.

Tog het hy sy laaste draai steeds ’n sekonde voor sy naaste teenstander gemaak. Dit was eers daarna dat dit gelyk het of die Kapenaar begin olie lek, maar hy kon nietemin vasbyt om die halfeind met 11 honderdstes van ’n sekonde te wen.

Le Clos se 1:55.06 is wel nie ’n tyd om oor huis toe te skryf nie, en hy was al talle kere in sy loopbaan vinniger as dit. Maar die wete dat al agt mans in die ander halfeind vinniger as hy sou moes swem om hom uit die eindronde te hou, het Le Clos kalm gehou. 

Uiteindelik kon net twee mans op sy tyd verbeter: die wêreldrekordhouer en oorweldigende gunsteling, Kristof Milak (met ’n blitsige 1:52.22), en die Brasiliaan Leonardo de Deus (1:54.97). 

“Ons is op die Olimpiese Spele en ek het dit gister (Maandag) nie genoeg gerespekteer nie,” het Le Clos ná sy halfeindronde gesê. “Ek het ’n morsige einde aan die uitdun gehad en amper ’n duur prys daarvoor betaal. Ek was gelukkig.

“Dis hoekom ek vandag net wou seker maak ek is in die eindronde, en ons sal (Woensdagoggend) sien wat daarin gebeur. Dit gaan ’n taai resies wees teen taai teenstanders. En ek weet Milak is die gróót gunsteling. Maar my uitkyk is eenvoudig: Moor of word vermoor. Dis vir my so eenvoudig soos dit.”

Milak, van Hongarye, is net 21 jaar oud, maar reeds vir jare onstuitbaar in die 200-vlinderslag. Die jongeling het twee jaar gelede die wêreldrekord wat 18 jaar agter Michael Phelps se naam gestaan het, verbeter, en het oor die eerste twee dae van die Olimpiese kompetisie gewys hy het nie tans sy gelyke in dié nommer nie.

s
Le Clos het met ’n Suid-Afrikaanse vlag om sy skouers uitgestap vir sy halfeindronde. Foto: Getty Images

Le Clos was self op daardie ouderdom die grootste hond in die 200-vlinderslag nadat hy ’n triomftog wat twee jaar sou duur in 2012 se Olimpiese eindronde met ’n oorwinning oor Phelps afgeskop het.

Hy het Dinsdag gesê hy raak steeds tranerig wanneer hy beeldmateriaal van daardie groot sukses sien, en sal enigiets doen om weer die boonste trappie van die Olimpiese podium te betree.

“Dit was iets baie spesiaal, en ek dink die afgelope jaar se inperkings en probleme het my net herinner hoeveel sulke oomblikke beteken. Ek wil amper huil net omdat ek nou daaroor praat.

“Dis ’n pragtige ding om hier te kan wees, en ek sal regtig enigiets doen om weer ’n Olimpiese kampioen te word. Hopelik eendag . . . Ek glo ek kan weer in die toekoms ’n kampioen wees – dalk nie op hierdie Spele nie, maar kom ons kyk in 2024. Ek sal beter wees in Parys, dit kan ek belowe.”

As daar selfs ’n klein deeltjie van Le Clos is wat glo hy kan Milak in Woensdag se eindronde skok, spreek hy dit nie uit nie. Maar hy steek glad nie die respek wat hy vir die jong blits het weg nie.

“Hy is ’n ongelooflike swemmer en ’n wonderlike mens ook. Ek wens hom net die beste toe – hy is jonk en het ’n baie groot toekoms.

“Ek is bly hy is hier en dat ek teen hom kan meeding. Ek geniet die uitdaging. En ek kan dit sê: Ek sal eerder teen Milak verloor as om te wen omdat hy gediskwalifiseer word of so iets. Dit was nog altyd ’n bron van trots vir my dat ek teen die bestes swem.”

• Le Clos se halfeindronde was Dinsdag enkele minute nadat Tatjana Schoenmaker silwer in die 100-borsslag gewen het, wat verduidelik hoekom hy met ’n Suid-Afrikaanse vlag om sy lyf uitgestap het vir sy nommer.

“Tatjana het my gemotiveer,” het hy gesê toe hy daaroor gevra is.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker  |  Chad Le Clos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.