Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Chad vermy verdriet met net 0.08 sekondes

Chad le Clos was verlede week versigtig om beloftes te maak oor die medaljes wat hy moontlik by die Olimpiese Spele in Tokio kan wen. Maandagmiddag was dit duidelik hoekom.

Die 29-jarige Suid-Afrikaner het op sy basvelle deurgeskuur tot die halfeindronde van die 200 m-vlinderslag, nadat hy oor die laaste 50 meter sleg uitgesak het. Hy het vyfde in sy uitdun geëindig met ’n tyd van 1 minuut en 55.96 sekondes, en was algeheel 16de.

O genugtig, dis nie goed nie! Chad le Clos lyk skoon oorbluf terwyl hy opkyk na die elektroniese bord in Tokio se Olimpiese swemstadion. Die Kapenaar het die halfeindronde van die 200-vlinderslag met net agt honderdstes van ’n sekonde gehaal. Foto: Getty Images

Om die waarheid te sê, hy het die top-16 wat tot die halfeindronde deurdring met ’n haarbreedte gemaak.

Die Duitser David Tomasberger, die 17de vinnigste swemmer, was net agt honderdstes van ’n sekonde stadiger as Le Clos.

“Ek het die muur geraak en gesien ek was vyfde in 1:55.9 – en gedink dis alles verby,” het Le Clos teenoor SuperSport erken. “Ek is net bly ek is darem in (die halfeindronde).

“Ek het goed en ontspanne gevoel. Ek het gedink ek was in die wedloop en dat ek heel goed geswem het, maar toe eindig ek vyfde en dink: ‘O nee!’

“Dit het nog nooit voorheen met my gebeur nie, beslis nie in die vlinderslag nie. Duidelik sal ek (Dinsdag in die halfeindronde) meer moet bring.

“Ek is ’n bietjie verleë, want almal in die swemspan het gekom om my te ondersteun, en toe eindig ek 16de. Dis ’n bietjie van ’n verleentheid, maar dis oukei. Dit is wat dit is, maar ek voel goed. Ek het vertroue.”

Uit Le Clos se opmerkings lei ’n mens af dat hy Maandag te vroeg die voet van die spreekwoordelike petrolpedaal gehaal het, eerder as dat sy asem opgeraak het.

Dit is nietemin kommerwekkend om te hoor dat hy nie besef het hoeveel ander swemmers hom ingehaal het nie, en laat ’n mens verlang na die dae toe hy knaend rondgekyk het terwyl hy geswem het.

Dit was natuurlik iets waaroor ewe veel gelag as gekla is in die eerste jare van die Suid-Afrikaner se loopbaan. Selfs in die 2012-eindronde van die 200-vlinderslag waarin hy sy beroemde sege oor Michael Phelps behaal het, het hy nie sy kop stil gehou nie.

In die nege jaar wat verloop het sedert daardie goue triomf, het daar natuurlik baie water in die see geloop in die vlinderslag-items.

In 2016 se Spele kon die Suid-Afrikaner net vierde in dié item eindig, en hoewel hy in 2017 weer die wêreldkampioen geword het, het al hoe meer jongelinge na vore begin tree.

Die Hongaar Kristof Milak het Maandag gewys hy gaan baie moeilik van goud in die 200-vlinderslag weerhou word. Foto: AP

Veral een van hulle, die 21-jarige Hongaar Kristof Milak, lyk deesdae onstuitbaar. Hy het Michael Phelps se 18 jaar as wêreldrekordhouer in die 200-vlinderslag in Julie 2019 beëindig deur ’n 1:50.73 te swem.

Milak was Maandag in dieselfde uitdun as Le Clos, en het dit gewen in 1:53.58 – ’n stadige tyd vir hom, maar die beste van die lot, en meer as twee sekondes vinniger as wat die Kapenaar kon lewer.

Le Clos se tyd is terloops presies drie sekondes stadiger as die tyd waarmee hy as 20-jarige Olimpiese goud gewen het. Die grootste verskil tussen destyds en nou, is dat die Kapenaar in aansienlik minder internasionale byeenkomste kon voorberei as voor 2012 se Spele, weens die afgelope jaar se reisbeperkings op Suid-Afrikaners.

Maandag het dit gelyk asof dit Le Clos se fiksheid belemmer het. Nadat hy oor die eerste helfte van die resies gewys het hy het nog die spoed wat nodig is op die wêreldverhoog (en daardie 100 meter in ’n baie skaflike 54.07 sekondes voltooi het), was hy die enigste van die 16 kwalifiseerders wat die laaste been in meer as 31 sekondes voltooi het (31.43).

• Die 17-jarige Ethan du Preez was in dieselfde uitdun as Le Clos en Milak. Hy was laaste met ’n tyd van 1:58.50.

Tot dusver is Le Clos, die borsslag-ster Tatjana Schoenmaker en die wisselslag-swemmer Rebecca Meder die enigste Suid-Afrikaanse swemmers wat nie laaste in hul uitdunne was nie.

Meder het Maandagmiddag met ’n tyd van 2:14.79 sewende in die tweede uitdun van die 200-individuele wisselslag geëindig. Haar tyd was die 23ste vinnigste, uit 27 deelnemers.

Meer oor:  Swem  |  Chad Le Clos  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.