Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Chad se 1ste keer as vlagdraer
Chad le Clos by die 2018 Statebondspele met die Suid-Afrikaanse vlag. Hy sal Vrydag vir die eerste keer ’n amptelike vlagdraer by die Olimpiese Spele wees. Foto: Getty Images

Met twee Olimpiese Spele en vier medaljes op sy kerfstok, is daar min wat Chad le Clos nog nie by ’n Olimpiese Spele beleef het nie. En ná Vrydag gaan daar nog minder wees nadat hy vir die eerste keer as een van Suid-Afrika se vlagdraers vir die openingseremonie aangewys is.

Le Clos (29) kon nog nooit voorheen dié glorieryke rol vervul nie, aangesien hy in 2012 in Londen en 2016 in Rio de Janeiro reeds op die eerste oggend van die Spele sy eerste items gehad het en dus nie die openingseremonie bygewoon het nie.

Vanjaar het hy egter minder items op sy skedule, met net die 100- en 200-vlinderslag in sy visier. Hy sal eers op die derde aand vir die eerste keer in aksie wees, in die uitdunne van die 200-vlinderslag.

Dít is die item waarin hy nege jaar gelede as Olimpiese kampioen gekroon is en hoewel hy vanjaar baie laag op die wêreldranglys daarvan is, sal daar steeds hoë verwagtinge van hom wees in Tokio.

Le Clos het in albei die vorige Speles silwer in die 100-vlinderslag gewen.

Phumelela Mbande, die onderkaptein van Suid-Afrika se vroue-hokkiespan. Foto: Gallo Images

Elke nasie word vanjaar toegelaat om twee vlagdraers in die vlagparade te hê (een man en een vrou), wat die deur oopgemaak het vir Phumelela Mbande, doelwagter van die vrouehokkiespan, om langs hom te stap.

Mbande (28), wat ook die onderkaptein van die span is, sal vir die eerste keer die Olimpiese Spele ervaar. Die gebore KwaZulu-Nataller het, soos die meeste ander Suid-Afrikaanse hokkiespelers, nie die vryheid om haar sport professioneel te beoefen nie en balanseer dit met die eise van haar beroep as ’n geoktrooieerde rekenmeester.

Die uitdaging om sport op die hoogste vlak te koördineer met die lewe weg van die hokkieveld, het haar vir ’n paar jaar laat wegstap van hokkie. Maar teen die einde van 2016 het die roepstem daarvan te luid geword vir haar om te ignoreer.

“Meer as enigiets anders het hokkie my ’n plek gegee waar ek voel ek hoort,” het sy vroeër vanjaar aan EWN gesê.

“As dit nie goed gaan met my hokkie nie, voel dit of alles uitmekaar val. Jy het een slegte toernooi en dit voel soos die einde van die wêreld.

“Ek kan my dit nie indink om nie hokkie te speel nie. Dis ’n pragtige sport en het my al baie vreugde gegee.”

Ek kan my dit nie indink om nie hokkie te speel nie. Dis ’n pragtige sport en het my al baie vreugde gegee.
Phumelela Mbande

Die vrouehokkiespan se veldtog begin Saterdagaand (Japanse tyd) met ’n wedstryd teen Ierland.

Barry Hendricks, die president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), sê Le Clos en Mbande is gekies om vooraan die Suid-Afrikaanse span te stap omdat hulle “rolmodelle en inspirerende figure in hul onderskeie sportsoorte is”.

Barry Hendricks

“Ons is trots daarop dat hulle die vlag vir ons sal dra,” sê hy.

Soos elke ander land by die Spele sal Suid-Afrika ’n kleiner groep atlete as gewoonlik by die openingseremonie hê, weens beperkings op die tydsduur wat deelnemers in die Speledorp mag deurbring.

Deelnemers mag eers vyf dae voor die aanvang van hul kompetisies in die Speledorp intrek. Baie atlete is dus nog buite Tokio gesetel, in voorbereidingskampe in ander stede in Japan.

Daar is vroeër vandeesweek aan Netwerk24 gesê sowat 80 Suid-Afrikaanse atlete van sportsoorte soos waterpolo, hokkie, swem en judo sal saamstap.

Die openingseremonie sal vanjaar minder glans en geraas as voorheen hê, om die tydsgees waarin ons leef te weerspieël. Weens die beperkinge van die Covid-19-pandemie sal daar net sowat 950 joernaliste, beamptes en afgevaardigdes in die paviljoene wees. Daar is nie ’n beperking op die hoeveelheid atlete wat in die vlagparade mag loop nie, maar elke land mag nie meer as ses beamptes daarin hê nie.

TV: Vrydag 13:00 (SS 201, SS 209, SABC 2; volg Netwerk24 se regstreekse blog).

Meer oor:  Chad Le Clos  |  Phumelela Mbande  |  Japan  |  Suid-Afrika  |  Tokio  |  Swemmer  |  Olimpielse Spele  |  Openingseremonie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.