Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Chelius sluit Spele af met SA rekord

Die Durbaniet Emma Chelius het Saterdagoggend die gordyn laat sak oor Suid-Afrika se aanslag in die Olimpiese swembad toe sy nie vir die eindronde van die 50 m-vryslag kon kwalifiseer nie.

Emma Chelius het Vrydag ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in die 50-vryslag opgestel. Foto: Gallo Images

Desondanks kan Chelius tevrede voel met haar werk in die Tokio-swembad, nadat sy Vrydag in die uitdunne ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 24.64 sekondes opgestel het, en dié tyd Saterdag herhaal het.

Sy was net twee honderdstes van ’n sekonde weg van die Afrika-rekord van 24.62, wat Egipte se Farida Osman in 2017 opgestel het.

Chelius het Saterdagoggend sesde in die eerste halfeindronde geëindig, 0.56 sekondes ná die wenner, Denemarke se Pernille Blume. Die Aussie Emma McKeon het daarna die tweede halfeind oorheers, en ’n Olimpiese rekord van 24.00 opgestel.

Die Suid-Afrikaanse swemspan het sy kleinste aantal Olimpiese medaljes sedert 2008 (toe niemand op die podium kon staan nie) opgeraap, met net Tatjana Schoenmaker (goud in die 200-borsslag en silwer in die 100-borsslag) wat ’n bydrae kon maak. In ’n dwarsklap vir die mans is dit ook die eerste keer sedert Penny Heyns se Goue Spele van 1996 dat al Suid-Afrika se swem-medaljes in vroue-items gewen is.

Vanselfsprekend was Schoenmaker se verrysing tot die wêreld se toonaangewende swemmer in die langer vroue-borsslag-items die grootste ligpunt vir Span Suid-Afrika, terwyl haar oefenmaat Kaylene Corbett ook na vore getree het as iemand wat groot dinge in die toekoms kan vermag.

Onder die mans was daar ongelukkig min om oor opgewonde te raak, met Matthew Sates wat sy Olimpiese kans die beste aangegryp het.

Sates het Woensdag, op sy 18de verjaarsdag, vir die halfeindronde van die 200 m- individuele wisselslag gekwalifiseer. Hy was een van net vier Suid-Afrikaners (saam met Schoenmaker, Corbett en Chad le Clos) wat ’n halfeind kon haal.

Matthew Sates het die afgelope week sy 18de verjaarsdag gevier deur ’n Olimpiese halfeindronde te haal. Foto: Gallo Images

Die feit dat daar ses tieners in die groep van 15 was, kan met verloop van tyd ook as ’n groot positiewe uit hierdie Spele bestempel word. Drie van hulle – Aimee Canny, Rebecca Meder en Dune Coetzee – het Suid-Afrika in die 4x200-vryslag-aflos tot ’n nuwe Afrika-rekord gehelp, en sal hopelik as individue in die volgende drie jaar van krag tot krag gaan.

Die grootste teleurstelling van die week was natuurlik die vertonings van Chad le Clos, wat in albei sy vorige Spele op die Olimpiese podium was, maar dié keer ’n beste uitslag van vyfde (in die 200-vlinderslag) behaal het. In die 100-vlinderslag, waarin hy in 2012 en 2016 Olimpiese silwer gewen het, kon hy nie verby die uitdunne kom nie.

Met net drie jaar oor voor die volgende Spele moet die land se swemmers nou in ’n korter siklus as gewoonlik op ’n vlak probeer kom waar hulle van medaljes kan droom. En almal van hulle kan inspirasie skep uit Schoenmaker se snelle opgang.

Net vier maande gelede was die 24-jarige Tukkie se beste tyd in die 200-borsslag 2:21.79. Ná hierdie Spele spog sy met ’n wêreldrekord van 2:18.95 – byna drie sekondes vinniger.

Ook in die 100-borsslag het sy haar beste tye teen ’n yslike spoed afgebring. In Februarie was haar beste daarin 1:06.32. Nou is dit die 1:04.82 waarmee sy verlede Sondag ’n nuwe Olimpiese rekord aangeteken het.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker  |  Tokio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.