Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
C-19-inenting vir atlete ‘nie verpligtend’
Die ingang van die Olimpiese museum in Tokio Foto: Getty Images

Ofskoon atlete aangemoedig word om ingeënt te word teen Covid-19 voor die Olimpiese Spele in Tokio, is dit nie verpligtend nie, het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se adjunkpresident gesê.

“Ons kan dit nie afdwing nie,” het John Coates, wat ook die hoof van die IOK se koördineringskomitee vir die Tokio-Spele is, Donderdag in Brisbane gesê.

“Dit word egter aangemoedig en die IOK het ’n ooreenkoms met Covax (die Wêreldgesondheidsorganisasie se program waardeur hy wil toesien dat die entstof wêreldwyd regverdig verkoop en versprei word) wat sal help om die verspreiding van die entstowwe te fasiliteer.”

Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee. Foto: Getty Images

Thomas Bach, die IOK se president, het verlede maand gesê hy is nie ten gunste daarvan dat atlete prioriteit moet geniet wanneer dit by die inenting teen Covid-19 kom nie, en bygevoeg dat dit die plaaslike olimpiese komitees se verantwoordelikheid is om met hul regerings oor die toegang tot entstowwe te onderhandel.

Coates, wat ook die president van die Australiese Olimpiese Komitee is, verwag dat al dié land se atlete teen Junie op die laatste ingeënt sal wees, kort voort die uitgestelde skouspel op 23 Julie begin.

Volgens Coates sal Japan se regering teen April ’n besluit aankondig met betrekking tot die aantal toeskouers wat by die Spele toegelaat sal word.

Die hoop is egter steeds dat die Spele nie agter geslote deure gehou gaan word nie, ten spyte van gerugte wat die ronde doen dat die skouspel gekanselleer gaan word.

Volgens Coates moes die organiseerders die Speledorp en die stadions “die veiligste plekke in Tokio” maak.

Hy het bygevoeg hulle is tans besig om te kyk na sitplekke op busse om seker te maak die regte sosiale afstand tussen insittendes kan gehandhaaf word. Dit beteken egter dat hulle sowat dubbeld die aantal busse gaan benodig as waarvoor beplan was voordat die pandemie uitgebreek het.

• Intussen het sowat 1 000 vrywilligers wat by die Spele sou werk hulle die afgelope maand onttrek nadat Josjiro Mori, die voormalige president van die Tokio-reëlingskomitee, seksistiese opmerkings gemaak het. Mori het intussen op sy swaard geval en is vervang.

Die rol wat vrywilligers by elke Spele vervul, is van kardinale belang. Hulle help om aanwysings te gee, tree as tolke op en help om besoekers rond te ry.

Die Tokio-reëlingskomitee het 80 000 vrywilligers in totaal betrek en sê die sowat 1% wat hulle onttrek het, sal nie ’n wesenlike uitwerking hê nie.

Die Tokio-reëlingskomitee het 80 000 vrywilligers in totaal betrek en sê die sowat 1% wat hulle onttrek het, sal nie ’n wesenlike uitwerking hê nie.

Tokio se metropolitaanse owerheid het boonop self ook 30 000 vrywilligers aangestel, maar wou nie kommentaar lewer oor hoeveel van hulle onttrek het nie.

Die Olimpiese vlam is ’n enkele dag ná die uitstel van die Tokio-Spele in 2020 aangesteek. Foto: Getty Images

• Die Tokio-Spele se reëlingskomitee het intussen Donderdag ’n waarskuwing gerig dat toeskouers wat vir die komende fakkel-aflos saamtrek, wat regstreeks uitgesaai sal word, samedromming sal vermy en hul ondersteuning wys deur hande te klap.

Die Olimpiese fakkel se aflos, wat op 25 Maart begin, kan boonop uitgestel word uit kommer oor die pandemie as groot saamtrekke op die dag gesien word. Só het Joekihiko Noenomoera, ’n senior uitvoerende beampte van die reëlingskomitee, op ’n nuuskonferensie gesê. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Thomas Bach  |  Japan  |  Tokio  |  Iok  |  Olimpiese Spele  |  Inenting  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.