Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Covid gaan nie Spele kelder, sê IOK

Koronavirus-pandemie of te nie, die Olimpiese Spele sál voortgaan in 2021.

Dit is die nuwe deuntjie wat ringkoppe, wat betrokke by dié skouspel is, nou sing ná uitlatings vroeër vanjaar dat die uitgestelde Tokio-Spele dalk geskrap sou word indien ’n teenmiddel vir Covid-19 nie voor volgende jaar gevind word nie.

Die Olimpiese Spele se kenteken buite Japan se Nasionale Stadion, waar die atletiek-items onder meer gehou gaan word. Foto: Getty Images

John Coates, adjunkpresident van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), sowel as Seiko Hasjimoto, Japan se Olimpiese minister, hou nou vol dat daar “geen ander keuse is” as om volgende jaar met dié viering van sport voort te gaan nie.

Volgens Coates sal die Tokio-Spele ’n simbool wees dat die wêreld die Covid-19-siekte oorkom het.

“Die Olimpiese Spele sal voortgaan met of sonder Covid. Die Spele sál op 23 Julie volgende jaar begin,” het hy gesê.

Voor die uitbreek van die wêreldwye pandemie, was die gedagte dat Tokio 2020 bekend sou as die “Herkonstruksie Spele” met verwysing na hoe dié land homself herbou het nadat ’n katastrofiese aardbewing en tsoenami in 2011 groot skade in Japan aangerig het.

“Nou sal dit eerder die ‘Spele wat Covid oorkom het’ wees. Die lig aan die einde van die tonnel,” sê Coates.

Hasjimoto, wat op ’n nuuskonferensie gepraat het, sê dit is nodig dat die Spele voortgaan omdat dit voordelig sal wees vir atlete, ongeag die uitdagings wat deur die pandemie meegebring is.

“Almal wat by die Spele betrokke is, werk saam om voor te berei. Die atlete is ook almal besig om hard te werk vir volgende jaar,” sê Hasjimoto.

“Ek dink ons moet die Spele ten alle koste hou. Ek wil al ons pogings daarop fokus om maatreëls in te stel teen die koronavirus.”

Dit volg nadat Japan se regering, Tokio se munisipale regering en die Tokio-Spele se reëlingskomitee almal verlede week vergader het om stappe te bespreek oor hoe verhoed kan word dat die koronavirus probleme veroorsaak by volgende jaar se skouspel.

John Coates, adjunkpresident van die Internasionale Olimpiese Komitee, sê die Tokio-Spele sál voortgaan in 2021. Foto: Getty Images

Daar word tans gekyk na opsies wat onder meer die verslapping van reisbeperkings insluit, asook maatreëls vir die atletedorp en hoe om die toevloei van toeskouers te hanteer.

Masa Takaja, woordvoerder vir die Tokio-Spele, het ook gesê dinge beweeg in die regte rigting wat die beplanning betref.

Die organiseerders word ook bemoedig deur die feit dat verskeie sportgeleenthede wêreldwyd in die afgelope paar maande suksesvol gehou is en dat die moontlikheid daar is dat meer toeskouers binnekort weer in stadions in Tokio toegelaat sal word vir sokker- en bofbalwedstryde.

Tans word 5 000 per wedstryd by dié sportsoorte toegelaat, maar ’n versoek is aan die regering gerig om dit na 20 000 te vermeerder.

Die Spele is vanjaar vir die eerste keer in sy bestaan uitgestel nadat reisbeperkings en vrese vir mense se gesondheid en veiligheid die IOK tot ’n ongekende besluit gedwing het.

Die IOK het dit egter duidelik gemaak dat die Spele nie nog ’n keer uitgestel sal kan word nie en dat die skouspel gekanselleer sal word indien dit nie in 2021 kan plaasvind nie.

Japan se grense is steeds grootliks geslote vir buitelanders en terwyl die wêreld steeds na ’n teenmiddel soek vir Covid-19, het gerugte reeds die rondte begin doen dat dit dalk glad nie finansieel sal sin maak om die Olimpiese Spele volgende jaar te hou nie.

’n Onlangse meningspeiling in Japan het bevind dat net een uit elke vier inwoners wil hê dat die Olimpiese Spele steeds in 2021 gehou word. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Iok  |  Japan  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.