Die Olimpiese Spele se reëlingskomitee verwag dat astronomiese koste vir die bestryding van die koronavirus aangegaan sal word wanneer atlete en toeskouers volgende jaar op Tokio toesak.
Luidens die Japanse nuusagentskap Kyodo News sal die koste vir maatreëls om te verseker dat die skouspel in ’n veilige omgewing kan plaasvind, nagenoeg ¥100 miljard (sowat R14,6 miljard) beloop.

Die Nasionale Stadion in Tokio sal in 2021 gasheer speel vir die Olimpiese Spele. Foto: Getty Images
Die Japanse media het Maandag berig dat die uitstel van die Spele met ’n jaar die land tot ¥200 miljard uit die sak kan jaag.
Toe ’n woordvoerder van die reëlingskomitee oor die bedrag van die voorkomingsmaatreëls gepols is, het dié gesê dat ’n aankondiging daaroor Woensdag in ’n tussentydse verslag gedoen sal word ná gesprekke tussen die reëlingskomitee, metropolitaanse regering en die Japanse regering.
Die laaste volledige begroting is reeds in Desember 2019 deur die reëlingskomitee ingehandig, ’n hele ruk voor die uitbreek van die pandemie en die daaropvolgende uitstel van die Spele.
Die bedrag was toe nagenoeg R1,9 miljard.
Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het gesê dat hy verwag om $800 miljoen in addisionele koste te betaal vir die uitstel, maar dat die organiseerders wat in Japan gesetel is, nog nie ’n spesifieke bedrag deurgegee het nie.
Die Tokio-reëlingskomitee sal na verwagting voor die einde van die jaar ’n volledige aangepaste begroting aankondig. – Reuters