Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Hoogtepunte – dag 13: Gardiner vat 400-titel

Dit is dag 13 van die Tokio-Spele.

• Die Bahamas se 400 m-wêreldkampioen, Steven Gardiner, voeg die Olimpiese kroon agter sy naam en vat goud in 43.85 sekondes om Wayde van Niekerk amptelik as die verdedigende kampioen te onttroon.

• Damian Warner stel ’n nuwe Olimpiese rekord op met sy 9 018 punte in die mans se tienkamp. Hy volg in Andre de Grasse se spore en verower goud vir Kanada.

• Onder die Suid-Afrikaanse deelnemers eindig Kyle Blignaut sesde in die eindronde van die gewigstoot. Suid-Afrika se 4x100-aflosspan bêre Wayde van Niekerk vir die eindronde, maar voltooi nie hul uitdun nie en is uit die kompetisie.

Hou dié Suid-Afrikaners Donderdag dop

• Spele-program

• Spele-uitslae

• Spele-medaljelys

Akani Simbine kry nie eens sy hande op die stokkie
Akani Simbine kry nie eens sy hande op die stokkie nie, in die eerste uitdun van die 4x100 m-aflos in Tokio. Foto: Gallo Images

LEES OOK:

De Grasse breek byna eeu lange Spele-droogte

McLaughlin doen Warholm dit na

Weber: ‘Dit was soos om in ’n jacuzzi te swem’

05 Aug. 21:16:06

Hou dié Suid-Afrikaners Vrydag dop:

08:30: Baanfietsry: Vroue, naelry, kwalifiserend – Charlene du Preez.

13:35: Atletiek: Mans, 4x400 m-aflos, uitdun 2

Dit lyk of die kwik Saterdag in Sapporo, waar die vrouemarathon beslis word, gaan styg. Gerda, kan ons maar hoop dié weervoorspelling is nie akkuraat nie!

05 Aug. 19:56:22

VOORSKOU

Gerda en Irvette kan skitter in Sapporo

Ja, dit gaan warm en bedompig wees. En ja, hulle gaan te staan kom teen vinniger vroue as hulle. Maar geen van daardie elemente hoef noodwendig ’n doodskoot te wees vir Gerda Steyn en Irvette van Zyl wanneer hulle Saterdagoggend in Sapporo aantree vir die Olimpiese marathon nie.

Dis die versekering wat Nick Bester, Steyn en Irvette se afrigter, gee voor sy twee ster-atlete se aanslag op die Olimpiese podium. Beter voorbereid kon hulle nie in Japan aangekom het nie.

• Die Olimpiese vroue-marathon begin Saterdagoggend in die vroeë ure (00:00 SA tyd, dus Saterdagoggend om 07:00 in Japan). Dit is na vroegoggend verskuif om die verwagte hitte te probeer teenwerk.Die hitte het ook ’n rol gespeel daarin dat die marathons eerder in Sapporo as Tokio (wat 800 km uitmekaar is), sal deelneem, omdat dit gewoonlik koeler is in Sapporo.

Lees die volledige berig hier.
05 Aug. 17:27:55

AS JY DIT MISGELOOP HET ...

Michael in die wolke ná top-10-uitslag op Spele


Toe die Durbaniet Michael McGlynn Donderdag in Tokio se Odaiba Marine-park die Olimpiese 10 km-swemmarathon voltooi, het hy geen idee gehad watter posisie hy behaal het nie.

En dus geen idee gehad dat hy pas beter gevaar het as enige ander Suid-Afrikaanse oopwaterswemmer tot nog toe op ’n Olimpiese Spele nie.

Die 21-jarige McGlynn het gewys hy kan nog vir jare amok in die wêreld van marathonswem maak toe hy in sy eerste Olimpiese Spele ’n tyd van 1 uur, 51 minute en 32.7 sekondes opgestel het. Hy het net minder as drie minute ná die wenner, Duitsland se Florian Wellbrock (1:48:33.7), klaargemaak.

“Ek het nie geweet hoeveelste ek was toe ek die muur raak nie, maar toe sê almal vir my ek’s agtste,” het McGlynn luidens ’n Swem Suid-Afrika-verklaring gesê.

“Ek is baie tevrede daarmee, ek kan regtig nie kla nie.

“Ek het tien dae terug hier aangekom, so ek het die aksie in die swembad dopgehou en gevoel hoe die afwagting in my begin opbou. Ek het hard gewerk hiervoor, so toe ons kompetisie uiteindelik kom, het ek gevoel dis nou my beurt om my werk te gaan doen. Gelukkig het alles mooi uitgewerk.”



Lees die volledige berig hier.

UIT DIE ARGIEF

Onthou jy dié glorieryke oorwinning van Josiah Thugwane in die marathon?

Inspireer die Spele jou ook soos vir Gary Player?

05 Aug. 15:37:03

AS JY DIT MISGELOOP HET ...

Koelkop Gardiner verower 400 m-goud

Steven Gardiner het soos Wayde van Niekerk in 2016 gemaak en ’n Olimpiese titel oor 400 m by sy wêreldtitel gevoeg. Dié 25-jarige van die Bahamas was Donderdag strykdeur koelkop in die eindronde en het in ’n tyd van 43.85 sekondes glorie behaal.

Dít in ’n wedloop waar verskeie van sy teenstanders doelgerig was om alles oor die eerste 200 m in te sit, terwyl hy rustig en soos ’n hardebaard by sy wedloopplan gehou het.

Amerika se Michael Norman was soos ’n vuurpyl uit die blokke in die vyfde baan, maar teen die tyd dat hy die laaste draai moes trotseer, het sy tenk begin leegloop.

Gardiner het rustig verby hom geskuif en ’n redelik groot gaping tussen hom en die silwermedaljewenner, Colombia se Anthony Jose Zambrano, bewerkstellig.

Nadat hy sy landsvlag gegee is, het Gardiner op die tartan bly sit en dit het gelyk of hy steeds nie kon glo wat hy pas vermag het nie.

Gardiner was die enigste van die atlete in die eindronde wat onder 44 sekondes gehardloop het. Zambrano se tyd was 44.08.


Lees die volledige berig hier.

TIENKAMP

Nog ’n goue vir Kanada

Damian Warner stel ’n nuwe Olimpiese rekord op met sy 9 018 punte in die mans se tienkamp. Hy volg in Andre de Grasse se spore en verower goud vir Kanada. Die Fransman Kevin Mayer wen silwer vir sy gesamentlike totaal van 8 726 punte, terwyl Ashley Moloney Australië se eerste medalje in Tokio in atletiek wen met brons vir sy 8 649 punte.  

SEWEKAMP

Dié titel bly myne, dankie!

Die Belg Nafissatou Thiam behaal ’n merkwaardige prestasie deur haar Olimpiese titel in die sewekamp te verdedig. Haar totaal van 6 791 punte is net 102 punte beter as Nederland se Anouk Vetter, wat silwer wen met 6 689 punte, maar die 26-jarige sal glad nie kla nie. Nóg ’n Nederlander, Emma Oosterwegel, behaal brons met 6 590 punte.

HOKKIE

Vreugde vir België ná dramatiese uitskietstryd


Die doelwagter Vincent Vanasch was een van die groot helde toe België se manshokkiespan op die Olimpiese Spele in Tokio die eerste keer met goud weggestap het.

België is ná ’n dramatiese uitskietstryd aan die einde as kampioen gekroon nadat die eindstryd met 1-1 gelykop geëindig het.

Die eerste helfte het nie enige doele opgelewer nie. Florent van Aubel het België met die begin van die tweede helfte laat voorloop. België was met 13 minute oor in die laaste kwart nog voor toe Thom Wickham ’n gelykmaker vir die Aussies behaal het.

Die wenspan het die uitskietstryd daarna met 3-2 gewen.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Regstreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.