Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Dag 14: Nóg naellope-goud vir Italië

Dit is dag 14 van die Tokio-Spele.

• Die wegspring van die Olimpiese vrouemarathon is met 'n uur vervroeg. Deelnemers sal nou reeds Vrydagaand (vanaand) om 23:00 (SA tyd) aantree vir die wedloop. Die marathon was aanvanklik geskeduleer vir Saterdag 07:00 (Japanse tyd), maar is vervroeg na 06:00 weens kommer oor die hitte en bedompigheid in Sapporo.

• Die nuwe 100m-kampioen, Marcell Jacobs, se droom-Spele duur voort, nadat 'n onverwagse sege vir Italië in die 4x100m-aflos van Jacobs 'n dubbele Oimpiese kampioen maak. Jacobs se spanmaat Filippo Tortu, wat 'n groot agterstand oor die laaste been uitwis om 'n honderdste van 'n sekonde voor die Brit Nethaneel Mitchell-Blake oor die eindstreep te hardloop, is die keer die held van die dag.

• Suid-Afrika beleef nog 'n teleurstelling op die atletiekbaan en eindig sewende in 3:01.18 in die 4x400 m-aflos se uitdunne vir mans.

• Spele-program

Spele-uitslae

• Spele-medaljelys

Die stapper Marc Mundell gooi water oor homself ty
Die stapper Marc Mundell gooi water oor homself tydens die uitmergelende 50km-stapren in Sapporo. Foto: Getty Images

LEES OOK:

Gerda en Irvette kan skitter in Sapporo

Michael in die wolke ná top-10-uitslag op Spele

MARATHON VERVROEG

Maak seker jy sit vanaand reeds 23:00 voor die TV


Suid-Afrika se Gerda Steyn en Irvette van Zyl sal reeds Vrydagaand (vanaand) om 23:00 (SA tyd) aantree vir die Olimpiese vroue-marathon, nadat die wegspring met ‘n uur vervroeg is.

Die marathon was aanvanklik geskeduleer vir 07:00 (Japanse tyd), maar is vervroeg na 06:00 weens kommer oor die hitte en bedompigheid in Sapporo.

Die feit dat dit in dié stad, 800 km van Tokio, plaasvind eerder as in die Olimpiese gasheerstad, was reeds te wyte daaraan dat dit warmer in Tokio is as in Sapporo. Die organiseerders het nog nie aangedui of die mans se marathon, wat Sondagoggend om 07:00 (middernag in SA) moet begin, ook vervroeg sal word nie.

06 Aug. 19:23:33

Hou dié Suid-Afrikaners die naweek dop:

Vrydag vanaf 23:00: Atletiek: Marathon, vroue – Gerda Steyn, Irvette van Zyl.

Saterdag

08:48: Baanfietsry: Mans, keirin, eerste ronde – Johan Spies.

12:45: Atletiek: Vroue 10 000 m – Dominique Scott.

Sondag

00:00: Atletiek: Marathon, mans – Stephen Mokoka, Desmond Mokgobu, Elroy Gelant.

Sondag 12:15: Afsluitingseremonie.

06 Aug. 19:20:24

‘Ons het Wayde gemis in aflos’

As ons maar net vir Wayde gehad het . . .

So het die 400 m-atleet Thapelo Phora Vrydag gesug, nadat Suid-Afrika se 4x400-aflosspan sonder die wêreldrekordhouer, Wayde van Niekerk, aangetree het vir hul uitdun – en net sewende daarin kon eindig.

Op die Olimpiese webtuiste het Van Niekerk se naam getel onder die vyftal atlete uit wie Span Suid-Afrika die vier op die baan kon kies, maar uiteindelik was hy nêrens te sien nie.

Lythe Pillay, Zakhiti Nene en Ranti Dikgale, wat Suid-Afrika in Mei in Pole gehelp het om vir die Spele te kwalifiseer, het uiteindelik saam met Phora die viertal gevorm.

Hulle het uiteindelik ’n seisoenbeste tyd van 3 minute en 1.18 sekondes opgestel, maar nie naby daaraan gekom om te kwalifiseer nie.

Phora het nie doekies omgedraai oor wat hy dink anders moes gewees het nie.“As ek eerlik moet wees, het ons Wayde in ons span nodig gehad as jy kyk na die top-atlete waarmee lande soos Jamaika en Amerika gehardloop het,” het Phora aan Sport24 gesê.

“Ons het gehoop Wayde sou inspring. Dit sou ’n groot verskil gemaak het – ons het hom gemis.”


Lees die volledige berig hier.

Ná 14 dae van wedywering in Tokio, is dit byna tyd om die Olimpiese vlam uit te doof ... maar maak jou die naweek reg vir nog baie aksie. Daar is nog byna 50 goue medaljes op die spel!

06 Aug. 17:37:16

SOKKER

Kanada wen goud ná dramatiese uitskopstryd


Kanada se vroue-sokkerspan het na hy in 2012 en 2016 brons gewen het geskiedenis gemaak deur Swede in 'n dramatiese uitskopstryd in die eindstryd in Jokohama te troef.

Die Kanadese het die strafdoel-stryd aan die einde met 3-2 gewen nadat die wedstryd vroeër ná 120 minute met bykomende tyd met 1-1 geëindig het.

Kanada het aan die einde drie agtereenvolgende pogings met die uitskietstryd verbrou. Swede het sy kans verspeel deur toe ook drie pogings na mekaar te verbrou.

Die plaasvervanger Julia Grosso het Kanada aan die einde met haar span se sewende poging laat jubel en Swede moes soos met die vorige Spele weer met silwer tevrede wees.

Jessie Flemming het dit vroeër in die 67ste minuut 1-1 gemaak vir Kanada met 'n strafdoel.

Stina Blackstenius het Swede met rustyd met 1-0 laat voorloop.

06 Aug. 16:00:02

4X100M-AFLOS - MANS

Dis nog 'n naellope-goud vir Italië! Die nuwe 100m-kampioen, Marcell Jacobs, en sy spanmaats, skok die wêreld deur Brittanje met een honderdste van 'n sekonde te verslaan. Hul wentyd van 37.50 is 'n nuwe nasionale rekord.

Dis die Italianers se eerste medalje in die 4x100-aflos in meer as sewe dekades - en hul eerste goue ooit. En dis die keer nie Jacobs wie se naam rondom die wêreld sal weergalm nie, maar die van Fillipo Tortu, wat Brittanje se Nethaneel Mitchell-Blake van agter inhaal om die oorwinning met die kleinste van marges te verseker.

Kanada eindig derde in 37.70, nadat die 200m-kampioen, Andre de Grasse, die laaste been teen 'n yslike spoed voltooi.

Foto: Filippo Tortu kry homself net voor die Brit Nethaneel Mitchell-Blake oor die eindstreep om aflos-goud vir Italië te verseker. (Reuters)

06 Aug. 15:40:19

4X100M-AFLOS - VROUE

Jamaika hardloop eerste oor die eindstreep en stop die stophorlosie op 41:02 sekondes ('n nasionale rekord), met Amerika se viertal tweede in 41.45. Brittanje eis brons op in 41.88.

Nie een van die Jamaikane se oorgeë is perfek nie, maar die spoed in hul bene verseker dat dit nie 'n probleem is nie. Die uitslag verseker hul land se vierde Olimpiese goue medalje van die Spele, en Elaine Thompson-Herah se derde, na sy ook die 100 m en 200 m gewen het.

Foto: Shericka Jackson hardloop oor die eindstreep om aflos-goud vir Jamaika te verseker. (Reuters)

06 Aug. 15:07:55

SPIESGOOI
China se Liu Shiying verower die spiesgooi-goud met 66,34 m, wat sy in die eerste ronde aangeteken het.

Australië se Kelsey-Lee Barber wen brons met ’n beste van 64,56 m, net vyf sentimeter agter Pole se  Maria Andrejczyk, wat silwer verower met 64,61 m.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Regstreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.