Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Dag 5: Nog 'n Olimpiese rekord vir SA!

Chad le Clos eindig op dag 5 van die Tokio-Spele vyfde in die eindronde van die 200m-vlinderslag nadat hy vir die eerste keer hierdie week onder die 1:55-kerf gegaan het. Ashleigh Moolman-Pasio sluit haar Olimpiese loopbaan af met haar beste uitslag tot nog toe in die tydtoets (8ste). Die Blitsbokke klop Amerika om vyfde in die sewestoernooi te eindig en die silwermedaljewenner Tatjana Schoenmaker sorg vir nog 'n Olimpiese rekord in die uitdunne van die 200m-borsslag.

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

KYK WEER:

Tatjana laat spat nóg 'n Olimpiese rekord

Tatjana Schoenmaker
Tatjana Schoenmaker het Woensdag tegelykertyd gelag en gehuil nadat sy die tyd gesien het waarmee sy die uitdunne van die 200 m-borsslag oorheers het. Foto: Getty Images

LEES OOK:

Spelebase loop deur oor vermorsing van kos

Coe: ‘Russe mag nie kla oor net 10 atlete by Tokio-Spele’

Britte huil van vreugde ná swemglorie


28 Jul. 19:26:38

Hou dié Suid-Afrikaners Donderdag dop

00:30: Gholf: Eerste ronde, houespel: Garrick Higgo, Christiaan Bezuidenhout.

03:00: Fietsry: BMX, mans, kwarteindronde: Alex Limberg.

03:00: Waterpolo: Mans, Groep A: SA t. Hongarye.

04:45: Hokkie: Mans, Groep B: SA t. Duitsland.

04:54: Swem:
Vroue, 200-borsslag, halfeindronde 1 – Kaylene Corbett.

05:01: Swem:
Vroue, 200-borsslag, halfeindronde 2 – Tatjana Schoenmaker.

05:05: Seiljagvaart:
Mans, Skiff 49er – Alex Burger, Benjamin Daniel.

05:14: Swem:
Mans, 200- individuele wisselslag, halfeindronde 2 – Matthew Sates.

07:35: Seilvaart:
Mans, Finn – Leo Davis.

12:54: Swem:
Mans, 100-vlinderslag, uitdunne: Matthew Sates.

12:56: Swem:
Mans, 100-vlinderslag, uitdunne: Chad le Clos.

GIMNASTIEK

'n Jong ster om dop te hou.

28 Jul. 18:17:18

Corbett gaan ‘ruk en rol’

Kaylene Corbett was een van ’n rits Suid-Afrikaners wat in die vyfde aandsessie van die Olimpiese swemprogram nuwe hoogtes bereik het, met ’n vertoning wat haar nie net in die halfeindronde gekry het nie, maar ook van ’n goeie baan daarin verseker het.

Net drie vroue – onder wie haar goeie vriendin en mede-Pretorianer Tatjana Schoenmaker, wat almal anders oorskadu het met ’n amperse wêreldrekord – kon in die uitdunne vinniger as Corbett swem.

“Ek het twee moeilike jare gehad, want ek kon nie weer naby my persoonlike beste kom nie en het so nou en dan nogal ontmoedig geraak daaroor,” het Corbett gesê.

“Nou is ek net so dankbaar. My enigste doelwit was om ’n nuwe beste tyd op te stel . . . maar toe gee God my soveel meer as waarvoor ek durf hoop het.

“My stoutste verwagtinge is reeds oortref deur wat ek hier beleef het, so van hier af gaan ek net pret in die swembad hê – net ‘ruk en rol’.”

LEES MEER

UIT DIE SPELE-ARGIEF

Rafael Nadal is nie vanjaar by die Olimpiese Spele nie, maar dié Spanjaard spog met twee goue medaljes – ’n enkelspeltitel in 2008 in Beijing en een in die dubbelspel in 2016 in Rio de Janeiro, waar hy ook Spanje se vlagdraer was.

Nadal het hom vroeër aan Wimbledon en die Olimpiese Spele onttrek in ’n poging om sy tennisloopbaan te probeer verleng.

28 Jul. 17:21:35

AS JY DIE VROUEHOKKIE MISGELOOP HET . . .

Ofskoon Nederland die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan Woensdag met 5-0 by die Olimpiese Spele geklop het, sal die wêreldkampioen bekommerd wees oor sy afronding met strafhoeke.

Nederland het altesaam 15 strafhoeke gehad, maar kon net twee keer welslae daarmee behaal.

Die Suid-Afrikaanse doelwagter, Phume Mbande, was op haar stukke en het haar 50ste wedstryd gevier met meestal uitstekende keerwerk.

LEES MEER
28 Jul. 17:01:46

Amperse wêreldrekord vang Tatjana heel onkant

“Dit was eerlikwaar die beste resies wat ek nog ooit gehad het – verreweg.”

So het ’n oorstelpte Tatjana Schoenmaker in Tokio gejubel nadat sy nog ’n keer ’n Olimpiese uitdun gebruik het om ’n waarskuwingskoot af te vuur – en dié keer luid genoeg om oortromme te bars.

Die 24-jarige Pretorianer is nou die eienaar van die naasbeste tyd tot nog toe in die 200 m-borsslag vir vroue nadat sy Woensdag ’n skrale vyf honderdstes van ’n sekonde stadiger as die wêreldrekord was. Haar tyd van 2 minute en 19.16 sekondes is ’n nuwe Olimpiese rekord en net minder as ’n sekonde vinniger as haar vorige Afrika-rekord.

“Ek het my beste tyd vandag met nog ’n sekonde verminder, so ek is baie, baie gelukkig,” het Schoenmaker, wat so oorstelp was toe sy haar tyd sien dat sy tranerig geraak het, gesê.

“Ek het my afrigter in ’n stadium gehoor skree, en gedink: ‘Wat nou, gaan ek te stadig?’ ” het sy gelag.


LEES MEER
28 Jul. 16:46:28

Penny: Tatjana ’n voorbeeld vir jonges

“Ek is baie trots (op Tatjana),” het Penny Heyns, ’n dubbele Olimpiese kampioen in 1996, aan die internasionale swemliggaam (Fina) se amptelike webblad gesê nadat haar jong landgenoot in die 100 m-borsslag silwer gewen het.

“Ek is om die waarheid te sê baie emosioneel – en dis iets wat ek nooit met my eie renne gevoel het nie,” sê sy. “Die trots is nie net oor Tatjana se vertonings nie, dis ook vir die mens wat sy is. Haar sportgees is merkwaardig. Sy is ’n baie goeie voorbeeld vir jong swemmers om te volg.”

Heyns, wat in 1996 in Atlanta Olimpiese goud in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen het, sê sy het Schoenmaker jare gelede by ’n Afrika-kompetisie vir die eerste keer gesien swem en vir almal vertel die opkomende borsslag-swemmer het ’n briljante toekoms voor haar.

LEES MEER

SOKKER

Die deelname van die Suid-Afrikaanse sokkerspan aan die Olimpiese Spele in Tokio het op ’n teleurstellende noot geëindig.

Mexiko het Suid-Afrika Woensdag in die laaste Groep A-wedstryd in Sapporo oortuigend met 3-0 geklop.

LEES MEER

Wêreldrekord!

Zhiyong Shi (China) het 'n meesterlike vertoning in die 73kg-afdeling van die gewigoptel gelewer. 

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Regstreeks  |  Dag 5
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.