Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Hoogtepunte - Dag 6: Tatjana-hulle skitter

Só het dag 6 van die Tokio-Spele verloop. Nadat Kaylene Corbett die eerste halfeindronde van die 200 m-borsslag gewen het, kraai Tatjana Schoenmaker in die tweede koning. Dis weer 'n persoonlike beste tyd vir Corbett, terwyl die wêreldrekord Schoenmaker weer net-net ontwyk.

Negentig minute later sorg die Suid-Afrikaanse hokkiemans vir die grootste opskudding van hul kompetisie, deur 2012 se Olimpiese kampioen, Duitsland, met 4-3 te verslaan.

Dis 'n glorielose einde aan sy derde Olimpiese Spele vir Chad le Clos, wat nie daarin kon slaag om die halfeindronde van die 100 m-vlinderslag te haal nie.

Hou dié Suid-Afrikaners Donderdag dop

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Tatjana Schoenmaker lag uit haar maag nadat sy wee
Tatjana Schoenmaker lag uit haar maag nadat sy weer die wêreldrekord skrik gemaak het in die Olimpiese halfeindronde van die 200-borsslag. Foto: Reuters

LEES OOK:

Amperse wêreldrekord vang Tatjana heel onkant

Met Spele-doelwit bereik, gaan Corbett nou ‘ruk en rol’

Powell oor erge frustrasie om Blitse op TV te volg


29 Jul. 20:05:49

Hou dié Suid-Afrikaners Vrydag dop

00:30: Gholf: Mans, tweede ronde – Garrick Higgo, Christiaan Bezuidenhout.

01:30 en 10:30: Ruitersport: Victoria Legendre-Scott.

02:30: Hokkie: Vroue, Groep A: SA t. Duitsland.

03:41: Swem: Vroue, 200-borsslag, eindronde – Tatjana Schoenmaker, Kaylene Corbett.

04:57: Atletiek: Mans, 400-hekkies, eerste ronde – Sokwakhana Zazini.

05:05: Seilvaart: Mans, Skiff 49er – Alex Burger, Benjamin Daniel.

05:15: Hokkie: Mans, Groep B: SA t. Kanada.

07:00: Waterpolo: Vroue, Groep A: SA t. Nederland.

08:00: Duik: Vroue, 3 m, uitdunronde – Julia Vincent, Micaela Bouter.

12:20: Swem: Mans, 50-vryslag, uitdunne – Brad Tandy.

12:26: Atletiek: Vroue, 5?000, uitdunne – Dominique Scott.

12:43: Swem: Vroue, 50-vryslag, uitdunne – Emma Chelius.

13:57: Swem: Vroue, 4x100-wisselslag-aflos, uitdunne.

29 Jul. 19:53:14

AS JY DIT MISGELOOP HET ...

Sien, ons kan bo ons gewig boks, jubel hokkiemans

In die oomblikke nadat die eindfluitjie Donderdag in die Suid-Afrikaanse manshokkiespan se Olimpiese wedstryd teen Duitsland geblaas het, het die doelevraat Mustaphaa Cassiem (19) uit die “koelkas” langs die veld gestorm en die trane vryelik laat vloei.

Die telbord langs die baan het gewys dat die Suid-Afrikaners vir een van die grootste opskuddings in die geskiedenis van die sport gesorg het: Hulle het ’n Duitse span wat die afgelope 20 jaar op die Olimpiese podium boer, met 4-3 verslaan.

Matthew Guise-Brown, wat die Suid-Afrikaners se eerste doel aangeteken het, kon sy opgewondenheid oor die grootsheid van die uitslag skaars beteuel.

“Sjoe, dis moeilik om dit in woorde uit te druk. Dis goed, nè? Dit is een van my beter dae hierdie,” het hy blinkoog gesê. “Ons kom na hierdie toernooie en is groot buiteperde, maar vandag het ons gewys ons kan bo ons gewig boks. Jis, dis eintlik baie emosioneel.”

(Foto: Getty)

LEES MEER
29 Jul. 19:36:15

Op julle merke, gereed ...

Die Olimpiese atletiekprogram begin Vrydag, met die hekkiesloper Sokwakhana Zazini (400-hekkies) en langasem Dominique Scott-Efurd (5 000) wat die Suid-Afrikaanse aanslag sal afskop.

Akani Simbine sal van Saterdag af in die 100-uitdunne in aksie wees en hoop om Sondag die Olimpiese podium te bestyg.

LEES: Akani: ‘Ek is bang vir niemand’
29 Jul. 19:16:58

Bert: ‘Tokio-trauma sal Chad nie breek’

Kort nadat Chad le Clos se Olimpiese Spele Donderdagmiddag in Tokio op ’n galbitter noot geëindig het, het hy ’n boodskap aan sy pa gestuur.

“Hy het vir my gesê hy voel verleë oor wat gebeur het, hy weet nie wat verkeerd geloop het nie. Maar een ding moet jy weet: Hy sal nie verskonings maak nie . . . óns sal nie verskonings maak nie. Ons huil nie wanneer ons verloor nie, ons huil wanneer ons wen,” het Bert le Clos aan Netwerk24 gesê.

(Foto: Getty)

LEES MEER
29 Jul. 19:03:57

TENNIS

Novak vee Nishikori van baan

Novak Djokovic het vroeër Donderdag tot die halfeindronde van die mansenkelspel in Tokio deurgedring toe hy Kei Nishikori van Japan van die baan gevee het. Hy het in 1 uur en tien minute met 6-2, 6-0 geseëvier.

Djokovic is ook saam met Nina Stojanovic in die gemengde dubbelspel in aksie – die eerste keer dat hy by die Spele aan dié afdeling deelneem.

Hy sal in die halfeindronde te staan kom teen die Duitser Alexander Zverev of Jeremy Chardy van Frankryk. Die eindstryd is Sondag.

GIMNASTIEK:

Jy het dit gedoen, Suni!

Kyk hoe het inwoners van die Amerikaanse deelstaat Minnesota gereageer nadat Sunisa Lee die individuele veelsydige kompetisie beklink het.

Lee se sege is die vyfde agtereenvolgende Olimpiese goue medalje vir Amerika in die individuele veelsydige kompetisie.

Die Amerikaanse span se oorheersing in die sport is bevraagteken nadat die span van die Russiese Olimpiese Komitee twee dae gelede goud in die spankompetisie gewen het.

GIMNASTIEK

Amerika se diepte in gimnastiek is merkwaardig.

Nadat die stergimnas Simone Biles aan die kompetisie onttrek het, wen Sunisa Lee die individuele veelsydige kompetisie.

29 Jul. 15:00:17

TENNIS

Belinda in twee tenniseindstryde


Belinda Bencic, voormalige junior-wêreldkampioen van Switserland, het Donderdag in vier ure en 19 minute op die tennisbaan, in haar eerste Olimpiese Spele, twee eindstryde in Tokio gehaal.

Bencic (foto) is sedert tennis se terugkeer tot die Spele in 1988 die vyfde speler na Serena en Venus Williams, Andy Murray en Nicolas Massu om in twee eindstryde by dieselfde Spele te speel.

Bencic (24) het eers Kazakstan se Elena Rybakina in ’n uitmergelende stryd van byna drie ure waarin sy in versengende hitte terugbaklei het met 7-6(2), 4-6, 6-3 in die halfeindstryd geklop.

Sy en Viktorija Golubic het daarna in die dubbelspel-halfeind die Brasiliaanse paar Laura Pigossi en Luisa Stefani met 7-5, 6-3 verslaan. - Johann de Jager

(Foto: Getty Images)

HET JY GEWEET?

29 Jul. 13:49:54

SWEM:

Hokaai met medalje-praatjies

Ná Tatjana Schoenmaker se eerste twee 200-vertonings, wil ’n mens amper nou reeds die goue medalje in haar hand stop en dit voel of net rampspoed haar van die boonste trappie van die podium kan hou.

Maar Schoenmaker self wil niks daarvan hoor dat die stryd reeds gewonne is nie. Ons het in die 100 gesien enigiets kan gebeur.

“Ek dink nie ons moet te opgewonde raak nie, veral nie wanneer jy voor is nie. Mense kan jou vang oor die tweede helfte – die 200 is so ’n strategiese nommer,” sê sy.

“Ek wil (Vrydag) net fokus op my eie baan. Ek het daardie les geleer uit die 100 en dink as ek net dít kan deurvoer, sal ek die volmaakte resies hê.”

(Foto: Reuters)

LEES MEER
Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Regstreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.