Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Novak pak sy tas; rekord, goud vir Tatjana

Dit is dag 7 van die Tokio-Spele – en dis Tatjana Schoenmaker se dag! Schoenmaker is die nuwe Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 200 m-borsslag! Tennis se wêreldnommereen, Novak Djokovic, se droom van 'n "Super-slam" word deur Alexander Zverev van Duitsland verydel.

Hou dié Suid-Afrikaners Vrydag dop

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

KYK: Klik hier om Tatjana se volle 200m-eindronde te sien

Tatjana Schoenmaker kan haar oë nie glo nie nadat
Tatjana Schoenmaker kan haar oë nie glo nie nadat sy die wêreldrekord in die 200 m-borsslag Vrydagoggend verbeter het en as Olimpiese kampioen gekroon is. Foto: Getty Images

LEES OOK:

Akani: ‘Ek is vir niemand bang’

Bert: ‘Tokio-trauma sal Chad nie breek’


30 Jul. 16:25:51

Veertig jaar gelede was Stefan Schauffele ’n tienkamp-atleet met groot drome van ’n kans om Duitsland by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Maar toe beland hy eendag, onderweg na die oefenveld, in die pad van ’n dronk bestuurder en verloor die sig in sy linkeroog. Vanselfsprekend was sy Olimpiese ideale daarmee heen. Vier dekades later bevind Schauffele hom egter wel by die Olimpiese Spele – en ’n potensiële sprokie wink.

Schauffele beleef Olimpiese sprokie
30 Jul. 15:06:10

Nou gaan die water omtrent spat in die Tuks-swembad! So het Ruan Ras, Tatjana Schoenmaker se kêrel en mede-Tuks-swemmer, Vrydagoggend laggend gesê in reaksie op die wêreldrekord en Olimpiese goue medalje waarmee Schoenmaker Suid-Afrika ’n nuwe huppel in die stap gegee het. Ras was natuurlik wakker om te sien hoe Schoenmaker Vrydag kort voor 04:00 (SA tyd) Suid-Afrika se eerste goue medalje van die Olimpiese Spele in Tokio wen, deur ’n wêreldrekord van 2 minute en 18.95 sekondes in die 200 m-borsslag op te stel.

Tatjana: Seer stembande en leë traankliere ná goue medalje
30 Jul. 13:30:45

Die gimnastiek-superster Simone Biles, wenner van vier Olimpiese goue medaljes, is dankbaar vir die ondersteuning wat sy ontvang het nadat sy haar aan die spankompetisie en individuele veelsydige kompetisie op die Tokio-Spele onttrek het. Die 24-jarige Amerikaner het weens geestesgesondheidskwessies besluit om vir eers haar veldtog in Tokio te staak.

Simone Biles bedank ondersteuners ná onttrekking

Novak pak sy tas

Novak Djokovic is Vrydag in die halfeindronde van die tennistoernooi uitgeskakel.

Alexander Zverev van Duitsland het hom met 1-6, 6-3, 6-1 geklop. Die Serwiër se droom om sy eerste goue medalje in die enkelspel te wen en vanjaar ‘n “Super Slam” te behaal, is so verydel.

Zverev sal Sondag in die eindstryd teen Karen Khachanov van die Russiese Olimpiese Komitee te staan kom. Hy het die Spanjaard Pablo Carreno Busta met 6-3, 6-3 geklop.

30 Jul. 12:17:33

Novak Djokovic (regs) se droom om Olimpiese goud by Tokio 2020 te wen, is aan flarde.

Hy het in die halfeindronde teen Duitsland se Alexander Zverev met 1-6, 6-3, 6-1 verloor. 

Djokovic het reeds vanjaar die Australiese en Franse Ope en Wimbledon gewen en kan steeds die kalender-Grand Slam verower, mits hy die Amerikaanse Ope ook kan beklink. Foto: AP

30 Jul. 11:51:03

Fietsrybaas huis toe gestuur ná rasvoorval

Die direkteur van die Duitse Fietsryunie is huis toe gestuur nadat hy hom skuldig gemaak het aan rassistiese taalgebruik op die Olimpiese Spele in Tokio.

Patrick Moster is deur verskeie omstanders gehoor toe hy in die tydtoets vir mans vir sy fietsryer Nikias Arndt skreeu: “Vang die kameel-ryers, vang die kameel-ryers, komaan!” terwyl die Duitser gepoog het om die Ethiopiër Amanuel Ghebreigzabhier en die Algeriër Azzedine Lagab in te haal.

Die Duitse Olimpiese Komitee (DOSB) sê in ’n verklaring Moster “is van sy pligte in Tokio onthef” nadat die beheerliggaam met hom vergader het.

LEES MEER
30 Jul. 11:08:09

Aussie-atlete vir res van Spele in kwarantyn

Twee Australiese baan- en veldatlete en ’n lid van die atletiekspan sal vir die res van die Olimpiese Spele in kwarantyn bly.

Die atlete, wie se name nie bekend gemaak is nie, was in kontak met die Amerikaanse paalspringer Sam Kendricks, wat hom Donderdag aan die Spele moes onttrek nadat hy positief getoets is vir die koronavirus.

Volgens die Australiese span sal die atlete toegelaat word om mee te ding indien hulle later negatief toets.

Die ganse Aussie-span het Donderdag vir ’n wyle saam met Kendricks, ’n dubbele wêreldkampioen, in kwarantyn gegaan nadat die trio met die Amerikaner in kontak was.

Die span is ’n rukkie later uit kwarantyn gelaat, maar die drie lede sal in isolasie bly en tot die einde van hul byeenkomste op hul eie oefen.

Volgens die Aussies se spandokter, David Hughes, het die trio naby kontak met Kendricks gehad, blad geskud en drukke uitgedeel.

“Ek glo hul risiko is laag tot matig,” sê Hughes. “Al drie is ten volle ingeënt, maar ons kan nie kanse vat nie.” – Reuters

Breier gewaarsku nadat hy judoka klap, rondruk

Die Olimpiese afrigter wat sy judoka geklap en rondgeruk het om haar te motiveer voor ’n kragmeting in Tokio, is aangespreek.

Die Duitse breier Claudiu Pusa het sy landgenoot Martyna Trajdos aan haar uitrusting gegryp, rondgeruk en met ’n plat hand deur die gesig geslaan voordat sy in die judo-ring geklim het.

Die voorval is egter deur die Internasionale Judofederasie (IJF) ondersoek en Pusa het ’n formele waarskuwing ontvang.

LEES MEER

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Regstreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.