Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Tubby se moses
Die vrou wat Tubby Reddy gestuit het
Haar durf bring Saskok se magtige baas tot ’n val

Desiree Vardhan is agtervolg, geteiken en geteister. Foto: Wessel Oosthuizen

Daar was oproepe tweeuur die oggend, met net statiese stilte aan die ander kant van die lyn. Daar was karre wat haar agtervolg het. Vir maande het sy gesukkel met slaaploosheid, en haar verknies oor die tol op haarself, haar man en hul kinders.

Toe Desiree Vardhan in April 2017 in ’n brief uitlê hoe Tubby Reddy vir haar smerige e-posse gestuur het, onwelvoeglike aanmerkings en onbehoorlike voorstelle gemaak het en later haar vlerke as Saskok se afrigtingsbaas geknip het omdat sy hom die koue skouer gegee het, het sy gehoop vir ’n vars begin.

Saskok-huis was ’n toksiese plek, waar Reddy (die Olimpiese liggaam se uitvoerende hoof) met ’n ystervuis regeer het. Hy alleen het besluit wie verlof kry, hoeveel geld aan elke departement beskikbaar gestel word en wie op oorsese reise gaan. Daar was ’n kultuur van vrees, sê Vardhan.

Iets moes gedoen word.

Ek het vir jare gewag dat iemand anders opstaan en iets sê oor die dinge wat daar aangegaan het.
Desiree Vardhan

“Ek het vir jare gewag dat iemand anders opstaan en iets sê oor die dinge wat daar aangegaan het. Dit het nie net gegaan oor wat met my gebeur nie, ek kon nie meer net toekyk hoe die topbestuur die reëls buig en nuwe reëls maak om hulself te pas nie. Sport het agterweë gebly,” sê Vardhan die afgelope week.

Maar op ’n dag het Vardhan besef: As sy verandering wou sien, moes sy verandering teweegbring.

Daarom het sy een dag in April 2017 gaan sit en ’n brief aan Sas­kok se president, Gideon Sam, begin skryf. Haar enigste hoop was die Saskok-raad.

“Ek het in daardie brief alles uiteengesit oor hoe ek geteister en geïntimideer is. Die seksuele teistering het sommer vroeg nadat ek in 2009 by Saskok begin werk het, begin.

“Die eerste was ’n onvanpaste antwoord toe ek hom, en ander mense, in 2009 ’n gelukkige Diwali toegewens het. Toe begin Tubby vir my pornografiese foto’s stuur. Hy sou my in vergaderings aansê om reg oorkant hom te gaan sit en kwaad raak wanneer ek weier. Hy het vir masserings gevra. En toe hy nie daaruit kry wat hy wou hê nie, het hy besluit om my te probeer vernietig en in die pad van my doelwitte as afrigtingshoof gaan staan. Hy wou my nie help om my ideale van wetgewing vir ’n professionele afrigtersliggaam te help verwesenlik nie. Hy het soms geweier om my na vergaderings en konferensies te stuur,” sê Vardhan.

Tubby Reddy is in Januarie afgedank. Foto: Herman Verwey

Die seksuele teistering wat Vardhan in haar brief aan Sam aangemeld het, was die eerste bom wat die fondamente van die Reddy-empire geskud het. Maar Reddy sou nooit net sit en kyk hoe alles rondom hom verkrummel nie.

Haar lewe, sê Vardhan, het hel geword. “Toe ek die eerste dag ná my klag bekend geword het by die werk instap, het ek gevoel soos iemand wat deur landmyne moet loop,” sê sy.

“Niemand van die senior bestuur het my ooit ingeroep om met my te praat oor wat ek geskryf het nie. Ek het eerder die koue skouer gekry. En deur dit alles moes ek aanhou werk saam met Tubby. Die seksuele teistering het in 2013 opgehou, maar die intimidering het aangehou totdat hy uiteindelik (in Julie 2017) geskors is. Ek moes elke dag my ‘oorlogsrok’ aantrek werk toe en my kop hoog hou.”

Vardhan sê sy het middernagtelike foonoproepe gekry en moes elke dag ’n ander pad werk toe volg omdat sy agtervolg is.

En daar was ook ’n ander groot hamerhou: kuberkrakers neem haar rekenaar oor.

Op 22 Mei was Vardhan in ’n vergadering met haar span om ’n afrigtingswerksessie vir die volgende dag te beplan. Sonder haar medewete is ’n boodskap waarin sy aangehaal word dat sy die beskuldigings teen Reddy gemaak het omdat Sam hom wou uitwerk, van haar e-pos-adres af aan die media gestuur.

“Die eerste teken dat iets fout was, was toe daar kennisgewings in my e-pos begin val van boodskappe wat nie afgelewer kan word nie. Toe sien ek die boodskap wat namens my uitgestuur is. Ek was rasend.

“Ons het later uitgevind iemand het op 21 Mei in Sandton in my Saskok-e-pos-rekening ingegaan. Ek was daardie dag in Durban. Toe ek die volgende dag terug in Johannesburg self my Gmail-rekening oopmaak, is die wagwoord gelees en kon hulle ook daar inkom. Op 29 Mei het die krakers alles op my geheuestafie uitgevee. In ’n stadium het hulle my sekondêre Gmail-rekening begin namaak met ’n adres waarin ’n 9 na ’n 8 verander is en dit laat lyk asof ek boodskappe uitstuur.”

Ons het later uitgevind iemand het op 21 Mei in Sandton in my Saskok-e-pos-rekening ingegaan. Ek was daardie dag in Durban.
Desiree Vardhan

Vardhan sê sy is bitter dat daar in al hierdie maande niks deur Saskok gedoen is om haar te beskerm nie.

Patience Shikwambana, Saskok se waarnemende uitvoerende hoof, en Ezera Tshabangu, die hoëprestasie-bestuurder en Vardhan se direkte lynhoof, het albei die afgelope week by die minister van sport se ondersoek na Sas­kok gesê hulle het stappe geneem om die probleme met Vardhan se rekenaar op te los. Hulle het nie verder gespesifiseer wat gedoen is nie, en Vardhan betwis dat haar rekenaar op enige manier beveilig is.

“Ek is geteiken. Ek is agtervolg en geteister, maar tog het niemand ’n vinger gelig nie. Nadat Tubby Safa (die nasionale sokkerliggaam) in 2013 van korrupsie beskuldig het, is daar lyfwagte vir hom aangestel, maar toe ek begin vrees vir my veiligheid, wou niemand my help nie,” sê sy.

Vardhan sê ondanks die pyn van die laaste maande is sy nie spyt dat sy ’n saak teen Reddy gemaak het nie.

“Al waaroor ek spyt is, is dat ek dit nie vroeër gedoen het nie,” sê sy. “Ek het aanvanklik gedink dis iets wat ek ter wille van Sas­kok se beeld intern en vriendskaplik moet probeer uitklaar. Ek het meer as een keer vir Hajera Kajee (Saskok se adjunkpresident en hoof van die Vroue in Sport-komitee) vertel hoe ek behandel is. Ek het alles in my vermoë gedoen om ’n vergadering met Tubby self te belê om te praat daaroor. My versoeke het elke keer op dowe ore geval.”

Uiteindelik het Reddy self die mure van sy ryk begin stukkend kap, toe hy ’n ongemagtigde verslag waarin hy Sam en ander Saskok-­raadslede beswadder, aan die media gelek het. Hy is daaroor geskors en in die daaropvolgende ondersoek is dokumentasie op sy eie en Jean Kelly (die uitvoerende bestuurder in sy kantoor) se rekenaars gevind wat sy doppie geklink het.

Sy was verlig toe Reddy uiteindelik verlede maand afgedank is, sê Vardhan – maar haar oorheersende emosie was blydskap dat ’n nuwe era in Saskok nou op die horison is.

“Ek kom uit die dae van Sacos (die Suid-Afrikaanse Raad vir Sport, wat in die dekade voor demokrasie teen apartheid begin opstaan het). Ek was ’n vlugbalspeler, ’n afrigter en ’n administrateur op nasionale en internasionale vlak. Ek ervaar self hoe Suid-Afrika deur ander ontwikkelende lande beskou word as ’n baken in sport.

“Dis hoekom dit my so seergemaak het om te sien hoe speletjies by Saskok-huis die eerste prioriteit is. Ek wil skoon sport in hierdie land sien. Ek wil werk by ’n organisasie wat al ons talent, in al die verskillende afdelings van die sportwêreld, toelaat om te floreer,” sê Vardhan.

Vardhan sê sy dink nie die afdanking van Reddy, Kelly en die finansiële hoof Vinesh Maharaj (wat almal in Januarie die trekpas gekry het) het ál die gif uit Sas­kok getrek nie.

Maar sy voel tog die proses om die liggaam heeltemal skoon te maak, het begin.

Dat sy “ ’n klein rol daarin gespeel het”, maak alles die moeite werd.

‘Vardhan is wraaksugtig’

Tubby Reddy het nog altyd volgehou dat hy Vardhan nooit seksueel geteister het nie. In ’n ope brief wat hy op 12 Januarie, ná sy afdanking as uitvoerende hoof van Saskok, aan die media en sportfederasies gestuur het, het hy gesê die aantygings is ’n “totale versinsel en wraaksugtigheid omdat ek verhoed het dat haar man op ’n oneerlike manier geld deur Saskok verdien”. 

Reddy het nie gistermiddag op Rapport se telefoniese of SMS-navrae gereageer nie. Hy het ’n WhatsApp-boodskap gelees waarin hy gevra is om weer op Vardhan se aantygings te reageer, maar dit nie beantwoord nie.

Die voormalige Saskok-hoof is verlede jaar deur ’n onafhanklike komitee op drie aanklagte van seksuele teistering verhoor, en skuldig bevind op een klag – dat hy ’n erotiese kalender aan Vardhan gestuur het. 

Hy is ook skuldig bevind aan korrupsieklagte.

Meer oor:  Tubby Reddy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.