Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Dlamini-hulle droom groot oor Spele
Nicholas Dlamini ry vroeër vandeesmaand oor die eindstreep van die Tour de France se negende skof. Foto: Getty Images

Moet ons nie vlak kyk nie!

So het die Suid-Afrikaanse fietsryer Nicholas Dlamini vroeër vandeesmaand gewaarsku toe hy gevra is oor die verwagtinge wat hy vir Saterdag se Olimpiese padfietsren het.

Dlamini (25) sal Suid-Afrika saam met Ryan Gibbons (26) en Stefan de Bod (24) in een van die heel eerste medalje-nommer op vanjaar se Tokio-Spele verteenwoordig – en hoewel dit hul almal se eerste Spele is, meen Dlamini hulle kan saamwerk om vir ’n verrassing te sorg.

Ek kan bybly by die wegbreekgroepe, Stefan is ’n sterk klimmer en vir die naelritte het ons vir Ryan. So na my mening gaan ons met ’n sterk span Spele toe.
Nicholas Dlamini

“Ons is almal verskillende soort fietsryers en ek dink dit maak van ons ’n groep wat kan verras. Ek kan bybly by die wegbreekgroepe, Stefan is ’n sterk klimmer en vir die naelritte het ons vir Ryan. So na my mening gaan ons met ’n sterk span Spele toe,” het die Qhubeka NextHash-ryer twee weke gelede gesê.

“Daar sal groter fietsry-lande wees, maar daardie ouens is mense teen wie ons gereeld meeding, so dit sal niks nuuts wees nie. Dit is net nog ’n groot ren, en ons almal sien baie uit daarna.”

Stefan de Bod in die Suid-Afrikaanse kleure in die Wêreldkampioenskappe van 2019. Foto: Getty Images
Ryan Gibbons in aksie in vanjaar se Suid-Afrikaanse padfietsren. Foto: Gallo Images

De Bod sou aanvanklik nie in die span gewees het nie, maar is ingetrek nadat die veteraan Daryl Impey voorverlede maand reg voor die eindstreep van die Ruta del Sol-fietstoer in Spanje se laaste skof geval het. Die 36-jarige Impey is ernstig genoeg beseer om hom aan die Spele te onttrek.

“Dit sou goed gewees het om Daryl te hê, want sy ervaring sou ons regtig gehelp het in ons strewe na ’n medalje,” het Dlamini gesê. “Maar ons sal steeds ’n goeie ren hê; ons is almal regtig opgewonde.”

Die laaste keer wat die wêreld Dlamini op ’n fiets gesien het, was toe hy ’n uur en ’n half ná die afsnypunt in die Tour de France se negende skof oor die eindstreep gery het. Al het sy Tour geëindig omdat hy nie binne die toegelate tyd klaargemaak het nie, is hy wyd en syd geloof vir sy vasberadenheid om die eindstreep te haal, en hoe dit ander geïnspireer het.

“Ek het net gevoel ek is ’n geleentheid gegee, en as ek in die kar geklim en nie klaar gemaak het nie, sou ek ondankbaar wees daarvoor,” het Dlamini verlede week op die radiostasie 702 verduidelik.

Daardie veggees sal belangrik wees in die Olimpiese ren, wat teen die laer hange van Japan se berg Foedji en die berugte Mikoeni-pas sal plaasvind. Die roete van 234 km behels ’n totale klim van 4 865 m en sal beslis aan die ryers se spiere vat.

Die roete van 234 km behels ’n totale klim van 4 865 m en sal beslis aan die ryers se spiere vat.

Daardie pyn is egter iets wat beroepsfietsryers aanvaar. De Bod het die swaarkry wat gepaardgaan met fietsry ná verlede jaar se Vuelta a España teenoor In The Bunch beskryf as iets wat “jou meer diepte vir die toekoms gee . . . (iets) waaruit jy kan leer en ontwikkel”.

De Bod se Tour de France het vandeesmaand ook in die negende skof geëindig. Die dag tevore het hy saam met die voorbokke geklim op die eerste skof in die Alpe, voor ’n valslag hom uit die wedloop gedwing het. Dit was nietemin ’n bemoedigende vertoning waarop die jong Stellenbosser kan voortbou.

Die gunstelinge vir glorie in die Olimpiese ren is die Sloween Tadej Pogacar, wat albei die laaste Tour de France-titels gewen het, sy landgenoot Primoz Roglic, België se Wout van Aert en die Brit Simon Yates. Die Suid-Afrikaanse trio word nie veel van ’n kans gegee om met hulle saam te praat nie – maar dit beteken nie hulle gaan nie veg om by die groot honde te bly nie.

TV: Saterdagoggend om 04:00 (SS 207)

Meer oor:  Stefan De Bod  |  Nicholas Dlamini  |  Tokio  |  Japan  |  Fietsry  |  Olimpielse Spele  |  Drietal  |  Padfietsren  |  Podiumplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.