Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Dokters sê Tokio ‘kan nie Spele bekostig’

’n Voorste mediese vereniging span al sy kragte in agter die groeiende protes en pleidooie dat die Olimpiese Spele in Tokio afgelas moet word.

Japannese protesteer daagliks in Tokio se strate teen die aanbied van die Olimpiese Spele. Volgens ’n onlangse peiling is 60% van die bevolking gekant teen die Spele. Foto: Getty Images

Tokio se Mediese Praktisynsvereniging, wat sowat 6 000 dokters verteenwoordig, sê hospitale in die hoofstad “het hul hande vol en het feitlik geen ekstra kapasiteit” nie te midde van ’n toename in Covid-19-infeksies.

“Ons doen ’n ernstige beroep op owerhede om die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) te oortuig dat dit moeilik is om die Spele te hou, en hulle moet hulle laat besluit om dit te kanselleer,” sê die vereniging in ’n ope brief aan Josjhihide Soega, die land se eerste minister.

Die vereniging het ook die brief op sy webblad gepubliseer.

’n Erge toename in infeksies het gelei tot toenemende kommer te midde van ’n tekort aan mediese personeel en hospitaalbeddens in sommige gebiede van die hoofstad. Die regering het sy derde noodtoestand in Tokio en omliggende gebiede tot 31 Mei verleng.

Met die somer om die draai, gaan dokters binnekort ook te doen kry met mense wat sukkel met hitte-uitputting.

Sou die Spele bydra tot ’n toename in infeksies en sterfgevalle, sal Japan “die maksimum verantwoordelikheid” dra.

Ander gesondheidskenners en mediese groepe het reeds gesê die aanbied van die Spele moet heroorweeg word.

’n Aanlyn petisie waarin gevra word dat die Spele afgelas word, is deur honderdduisende mense geteken.

In vergelyking met ander lande, kon Japan tot dusver daarin slaag om ’n grootskaalse verspreiding van die virus te beheer.

Die regering word egter kwaai gekritiseer vir die stadige pas van die inenting van sy landsburgers.

Ons doen ’n ernstige beroep op owerhede om die Internasionale Olimpiese Komitee te oortuig dat dit moeilik is om die Spele te hou, en hulle moet hulle laat besluit om dit te kanselleer.

Net sowat 3,5% van sy bevolking van sowat 126 miljoen is reeds ingeënt, volgens ’n Reuters-opname.

Besprekings by groot inentingsentrums in Tokio en Osaka gaan gebuk onder tegniese probleme.

Soega hou vol Japan kan “ ’n veilige Spele hou” as hy al die voorgeskrewe Covid-19-protokolle handhaaf.

Voorbereiding vir die Spele, wat op 23 Julie moet begin, gaan voort onder streng protokolle, soos toetsbyeenkomste vir atletiek en die marathon, wat begin Mei gehou is.

Oefenkampe wat lande vóór die Spele in Japan wou hou, is gekanselleer.

Sportlui laat al hoe meer hul stem hoor dat hulle meen die Spele kan nié te midde van ’n pandemie plaasvind nie.

• Met nuwe vlae van die virus in die grootste deel van Asië, het die Wêreld- Ekonomiese Forum Maandag sy jaarlikse vergadering, wat in Augustus in Singapoer sou plaasvind, afgelas.

Volgens die openbare uitsaaier NHK was Japan se getal nuwe Covid-19-gevalle Maandag 3 680 – die laagste vlak sedert 26 April – maar die getal mense wat ernstig siek is weens die Covid-19-virusiekte, is nou ’n rekord 1 235, sê die ministerie van gesondheid. – Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Petisie  |  Tokio  |  Tokio-Spele  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.