Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Doktor wil nie fietsry as beroep nie
Anna Kiesenhofer toe sy Sondag die padwedren vir vroue by die Olimpiese Spele gewen het. Foto: Reuters

Die onbesonge Oostenrykse amateurfietsryer wat die naweek daarin geslaag het om die vrouepadren by die Olimpiese Spele te wen, het geen begeerte om ’n beroepsryer te word nie.

Om die waarheid te sê, is Anna Kiesenhofer ’n akademikus verbonde aan ’n universiteit in Switserland.

Sy het die wêreld verstom toe sy Sondag die padren oor 137 km in Tokio, Japan gewen het in ’n tyd van 3 uur, 52 minute en 45 sekondes. Annemiek van Vleuten (Nederland) het ’n hele 1 minuut en 15 sekondes ná Kiesenhofer oor die eindstreep gery om die silwermedalje te kry.

Die Oostenryker het aan die begin van die ren in ’n wegbreekgroep van vyf ryers, wat Carla Oberholzer (Suid-Afrika) en Vera Looser (Namibië) ingesluit het, beland.

Die res van die peloton het Kiesenhofer (30), wat volgens haar LinkedIn-profiel ’n PhD-graad in toegepaste wiskunde het, nie weer gesien nie.

“Dit was eers toe ek die eindstreep oorsteek dat ek besef het wat ek reggekry het,” het Kiesenhofer ná die ren volgens cyclingweekly gesê.

“Baie mense het opofferings vir my fietsryloopbaan gemaak. Ek is baie bly dat ek met hierdie medalje iets vir hulle kan teruggee. My mikpunt is nie om ’n beroepsloopbaan op die pad te hê nie.”

Daar was ’n tyd dat Kiesenhofer, ’n klimmer, wel vir ’n beroepspan gery het. Sy was in 2017 in Lotto-Soudal se span, maar haar kontrak is nie verleng nie.

Sy het daardie jaar nie een van die vyf renne waaraan sy deelgeneem het, wat die Amstel Gold Race in Nederland insluit, voltooi nie. In 2018 het sy glad nie deelgeneem nie.

Sedert 2019 het ’n aantal middelmatige vertonings gevolg. In 2020 was sy byvoorbeeld 44ste by die Wêreldkampioenskap in Imola, Italië – ’n hele 11 minute en 53 sekondes ná die wenner, Anna van der Breggen (Nederland).

Selfs by haar land se nasionale kampioenskap net meer as ’n maand gelede, moes Kiesenhofer met die sesde plek in die padren tevrede wees. Sy het wel toe die individuele tydtoets vir ’n derde agtereenvolgende jaar gewen.

Daar is voor die Spele algemeen verwag dat die sterk Nederlandse span bestaande uit Van der Breggen, Van Vleuten, Demi Vollering en Marianne Vos die ren sou oorheers het. – Sportredaksie

• Addisionele bronne: cyclingnews.com, procyclingstats.com

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio-Spele  |  Fietsry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.