Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Durban se Rory nou ’n trotse Slowaak

Die gebore Durbaniet Rory Sabbatini het sy besluit om eerder vir Slowakye te begin gholf speel Sondag as “ ’n fantastiese een” beskryf.

Rory Sabbatini Sondag op die tweede trappie van die Olimpiese podium, ná ’n manjifieke Sondag by die Kasumigaseki-buiteklub in Tokio. Foto: AP

Sabbatini het by die Kasumigaseki-buiteklub silwer vir Slowakye verower, deur die laaste ronde van die Olimpiese gholfkompetisie in ’n nuwe Olimpiese rekord van 61 (tien houe minder as baansyfer) te voltooi.

Die vorige rekord was 63.

Die oud-Suid-Afrikaner het tien voëltjies, ’n arend en twee brouhoue aangeteken om op 267 (17-onder) ’n hou agter die Amerikaner Xander Schauffele (67) te eindig.

“Het ek gedink ek het ’n 10-onder in my? Ná gister, geen kans nie,” het Sabbatini gesê met verwysing na sy Saterdag-rondte van 70, wat hom ná drie rondes sewe houe agter gelaat het.

“Ek was so ver agter die voorlopers dat dit nie eens in my gedagtes was om vir ’n medalje te probeer meeding nie. Ons (hy en sy vrou, Martina, wat sy sak dra) het net ’n ontspanne dag gehad, sonder verwagtinge, en aggressiewe gholf gespeel.”

Martina, Sabbatini se tweede vrou, is ’n Slowaak, en Sabbatini het in 2019 besluit om ook vir burgerskap van dié land aansoek te doen. Destyds is al gevra of hy dít gedoen het omdat hy geweet het dit kon hom in die Olimpiese Spele kry, maar hy het Sondag gesê sy redes was meer edel.

Sabbatini en sy vrou, Martina, glimlag Sondag breed ná die ronde waarmee hy ’n Olimpiese rekord én silwer losgespeel het. Foto: Getty Images

“Ek dink die besluit was ’n fantastiese een, maar dit het net daaroor gegaan om meer belangstelling in gholf te probeer aanwakker onder jongmense in Slowakye. Die Olimpiese geleentheid het daaruit gevloei.

“My vrou se neef (Rastislav Antal) was die vise-president van die Slowaakse Gholfvereniging en in ons gesprekke het ons vir mekaar gesê, Suid-Afrika het so baie gholfspelers en Slowakye geen.

“Daar is soveel sporte wat groter is (in Slowakye), so ons moes ’n manier vind om meer oë na gholf te trek,” het Sabbatini gesê.

Sabbatini, wat op die skoonvelde van die Royal Durban-klub leer gholf speel het, het Suid-Afrika in sy fleur by vyf Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig het en een daarvan in 2003 saam met Trevor Immelman gewen. Met verloop van tyd het ’n klomp jonger spelers hom begin inhaal op die wêreldranglys.

In hierdie stadium is hy die wêreld se nr. 204, agter vyftien Suid-Afrikaners, en sou hy nie eens in die Spele-gesprek gewees het as hy nie van burgerskap verander het nie.

Hy het dit egter Sondag duidelik gemaak dat hy nou trots Slowaaks is en bly was om onder sy nuwe landsvlag op die podium te staan.

“Dit was so ’n trotse oomblik vir my om Slowakye te verteenwoordig en te sien hoe die vlag gehys word,” het hy gesê. “Ek is baie dankbaar.

“Dit het (in die pylvak van sy ronde) ’n bietjie meer druk op my gesit om te dink ek kan ’n medalje vir my land wen, maar terselfdertyd het dit my aangespoor en ’n hupstoot teen gegee.”

• C.T. Pan, ’n 29-jarige van Chinese Taipei, het die bronsmedalje verower ná hy ses ander spelers in ’n uitspeelstryd om die derde plek verslaan het.

Pan het in regulasiespel saam met Sabbatini gespeel en ’n 63 aangeteken. Daarna het hy vir vier uitspeelputjies staande gebly terwyl die major-kampioene Hideki Matsuyama, Rory McIlroy en Collin Morikawa se ideale die een ná die ander in vlamme opgegaan het.

“Die bronsmedalje is vir my ’n verrassing, veral ná my telling van 74 op die eerste dag. So ná alles was hierdie ’n baie gelukkige einde,” het hy gesê.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Gholf  |  Rory Sabbatini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.