Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Ek reik na die sterre – Wayde van Niekerk
Usain Bolt wat sy derde agtereenvolgende goue medalje in die 100 m gewen het, wens Wayde van Niekerk geluk met sy wêreldrekord en goue medalje op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

Ná wat hy nou in Rio de Janeiro se Olimpiese stadion vermag het, is daar geen plafon vir wat hy kan bereik nie, glo die Suid-Afrikaanse blits Wayde van Niekerk.

“Ek kan reik na die sterre,” het die nuwe Olimpiese kampioen én wêreldrekordhouer in die 400 m Maandagoggend (SA tyd) aan ’n volgepakte mediasaal gesê. “Ek gaan geen perk plaas op waar ek kan uitkom nie.”

Van Niekerk het Suid-Afrika se eerste goue medalje van die Rio-Spele verseker toe hy Michael Johnson se 17 jaar-oue wêreldrekord van 43.18 te pletter gehardloop het en ná net 43.03 sekondes oor die wenstreep is.

Kirani James, die Olimpiese kampioen van 2012, is tweede in 43.76 en LaShawn Merritt derde in 43.85.

Boonop het al vier die voorste mans so byna vir die eerste keer ooit onder 44 sekondes gehardloop. Machel Cedenio het dit net-net misgeloop met ’n 44.01.

Van Niekerk kan hom nou ’n wêreldkampioen, Olimpiese kampioen én wêreldrekordhouer noem – en op die jeugdige ouderdom van 24 het hy nog baie jare om selfs groter hoogtes te bereik.

Dít, het die Bloemfonteiner gesê, is presies wat hy beplan om te doen.

Ongelooflik! Wayde van Niekerk reageer ná sy goue 400 m.

“Van hier af is die doelwit om net beter te vaar elke keer wat ek op die baan stap. Ek glo ek is deur God geseën met ’n talent en ek mag dit nie verspeel nie,” sê hy.

“Ek is nog steeds verstom dat ek hier sit en in hierdie posisie is. Met die laaste Olimpiese Spele (in 2012 in Londen) het ek by die huis voor my TV gesit en kyk na wat hierdie ouens (James en Merritt) doen, en nou is ek in dieselfde geselskap as hulle. Ek is dankbaar om deel te wees van hierdie wonderlike generasie atlete.”

Van Niekerk is in sommige oorde voor die eindronde afgeskryf omdat hy in baan 8 geloot was, vanwaar hy geen van sy teenstanders sou kon sien nie. Maar vir die Suid-Afrikaner was die baan waarin hy hardloop minder belangrik as die geleentheid om sy plek in atletiek-annale te verseker.

“Ek dink nie enige atleet sal ooit heeltemal tevrede daarmee wees om in baan 8 te hardloop nie, maar ek het besluit dit was iets wat ek moes aanvaar en omarm,” sê hy. “Ek het geweet daar is voordele én nadele daaraan verbode. Dit het my byvoorbeeld die perfekte kans gegee om van die begin af so hard en vinnig as moontlik te hardloop en ’n stelling te maak.

“Dit kon natuurlik na die ander kant toe gegaan het en lelik skeefgeloop het, maar gelukkig het dit nie.”

Van Niekerk is twee keer gevra hoe hy daaroor sal voel as sy wêreldrekord-vertoning in sommige oorde aan opkikkergebruik toegeskryf word. Die Bloemfonteiner het geweier om in ’n debat daaroor betrokke te raak.

Wayde van Niekerk blitsig in die eindronde van die 400 m vir mans op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Getty
Wayde van Niekerk word deur die Suid-Afrikaanse naelloper Akani Simbine gelukgewens.

“Ek weet ek is nie (’n dwelmverneuker nie), so wat anders kan ek daaroor sê?” het hy geantwoord.

Hy sê hy besef daar rus nou ’n groot verantwoordelikheid op sy skouers: hy moet ander inspireer.

“(James en Merritt) was my inspirasie, en nou kan ek ’n inspirasie wees vir ander en ’n nalatenskap bou. Ek dink terug aan my situasie vier jaar gelede (toe hy nie vir die Spele kon kwalifiseer nie) en waar ek nou is, en dink dit moet aan almal wys enigiets is moontlik as jy genoeg glo.

“Ek wil alle jong atlete, en veral jong Suid-Afrikaners, aanmoedig om soveel te probeer bereik as wat hulle kan.”

Meer oor:  Spele  |  Wayde Van Niekerk  |  Goue Medalje  |  400 M  |  Rio  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.