Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Gallagher in Tokio ná pad vol klippe
Erin Gallagher in April in aksie by die SA kampioenskap in Gqeberha. Foto: Gallo Images

Wanneer Erin Gallagher Saterdagmiddag (SA tyd) stelling inneem op die wegspringblokke langs Tokio se Olimpiese swembad, sal sy iets doen wat net ’n paar maande gelede onbereikbaar ver gevoel het.

Gallagher (22) sal die Olimpiese swemprogram afskop vir Suid-Afrika in die uitdunne van die 100 m-vlinderslag, om uiteindelik lig te gee aan ’n jaar wat oorskadu is deur Covid-19.

Die Durbaniet het die virussiekte verlede Oktober opgedoen terwyl sy by ’n vriendin in Pretoria gaan kuier het. Waar menige atlete dit relatief vinnig afskud, het Gallagher “omtrent elke simptoom denkbaar” gehad, en eers ná vyf maande gereed gevoel om te kompeteer in die swembad.

“Ek het regtig slegte hoofpyne gehad, wat vir omtrent twee maande aangehou het,” het Gallagher vroeër vanjaar aan New Frame gesê. “My kop was ook dof. Ek sou in die middel van ’n gesprek wees en dan net skielik ophou praat sonder enige idee waaroor ons gesels het. Dit het ook lank aangehou.

Een dag sou dit terug wees en die volgende dag weg. Ek het vir lank nie geweet met watter simptome ek sou wakker word nie.
Erin Gallagher

“Ek het al die pyne gehad, en was uitsonderlik moeg. Ek het my smaak- en ruiksintuie verloor – een dag sou dit terug wees en die volgende dag weg. Ek het vir lank nie geweet met watter simptome ek sou wakker word nie.”

Teen April was Gallagher gelukkig gereed om aan die nasionale kampioenskap in Gqeberha deel te neem – maar die groot geluk was dat sy reeds in 2019 Olimpiese kwalifiseringstye in die 100-vlinderslag en 100-vryslag opgestel het, en dus nie daardie druk in die Baai gehad het nie.

Daardie byeenkoms kon dien as ’n “terugkeer-geleentheid”, ná ’n vyf maande lange stryd.

Gallagher gaan haar heel eerste Olimpiese Spele weliswaar met hope onsekerheid binne, ná ’n vreemde jaar waarin sy bitter min kans gehad het om deel te neem. Maar dat dié jong swemmer die talent het om haar merk oor die volgende dae in Tokio te maak, is daar geen twyfel nie.

Sy het immers in 2019 se Afrika-kampioenskap (haar laaste werklike groot byeenkoms) altesaam tien medaljes gewen, en spog met die Afrika-rekord in die 100-vryslag, wat sy as ’n 19-jarige by die Statebondspele opgestel het.

Hulle wil in die pandemie wys ons kan steeds bymekaar kom en saam deelneem by ’n Spele.
Erin Gallagher

En ongeag wat sy in Tokio vermag, is hierdie Spele vir haar spesiaal vir redes buite swem.

“Ek het heeljaar gedink, hoe kan hulle die Olimpiese Spele in hierdie tyd aanbied – dis mal. Maar toe lees ek ’n artikel waarin hulle sê hulle wil voortgaan met die Spel om die wêreld te verenig in ’n tyd van krisis. Hulle wil in die pandemie wys ons kan steeds bymekaar kom en saam deelneem by ’n Spele,” het sy aan New Frame gesê.

“Toe ek dit lees het ek gedink dit maak heeltemal sin, en ek wil deel wees daarvan. Niks hiervan het nog ooit gebeur nie, so dis ’n voorreg om deel van hierdie Spele te wees.”

Michael Houlie sal in aksie wees in die 100-borsslag. Foto: Gallo Images

• Suid-Afrika se enigste ander swemmer in Saterdag se aksie is die borsslag-swemmer Michael Houlie, wat ook sy eerste Spele beleef.

Die 21-jarige Kapenaar het drie jaar gelede goud in die 50-borsslag gewen by die Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires en ’n jaar later in die 100-borsslag vir vanjaar se Spele gekwalifiseer met ’n tyd van 59.64 by die Universiteitspele in Italië.

Hy sal in dié item probeer volg in die voetspore van Cameron van der Burgh, wat by die laaste twee Spele onderskeidelik goud en silwer gewen het.

’n Plek op die podium is dalk vanjaar nog onwaarskynlik, maar Tokio sal hom darem broodnodige ervaring gee met die oog op die 2024-Spele.

spele
Suid-Afrika se tydlyn by die Olimpiese Spele.

Meer oor:  Erin Gallagher  |  Suid-Afrika  |  Tokio  |  Japan  |  Covid-19  |  Swem  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.