Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Farah: Uitstel van Spele bedekte seën
Mo Farah sal in 2021 probeer om sy Olimpiese titel in die 10 000 m te verdedig. Foto: Getty Images

Die Britse langasem Mo Farah glo die uitstel van die Olimpiese Spele in Tokio kan ’n bedekte seën vir hom wees met betrekking tot sy voorneme om sy Olimpiese 10 000 m-titel daar te verdedig.

Farah het sy uittrede uit baanitems in 2017 aangekondig ná sy sege in die 10 000 in die Wêreldkampioenskappe in Londen. Sy plan was om op padwedlope te fokus.

Die 37-jarige Farah het egter in November 2019 ’n U-draai gemaak met die hoop om sy Olimpiese titel in sy voorkeurnommer in Tokio te verdedig.

Die Spele was oorspronklik geskeduleer om op 24 Julie te begin, maar is weens die Covid-19-pandemie met ’n jaar uitgestel.

Dit gee my ’n bietjie meer tyd om daarvoor te oefen en meer wedlope op die baan te doen.
Mo Farah

Farah, wat in 2012 in Londen reeds Olimpiese glorie in die 5 000 en 10 000 behaal en daarna albei sy titels in 2016 in Rio de Janeiro verdedig het, glo die uitstel van die Spele kan in sy guns tel.

“Dit is, as ek nou eerlik moet wees, waarskynlik nie ’n slegte ding vir my nie,” het hy aan athleticsweekly.com gesê.

“Dit gee my ’n bietjie meer tyd om daarvoor te oefen en meer wedlope op die baan te doen.”

Farah erken dat die beste dae van sy loopbaan waarskynlik reeds verby is, maar glo hy kan steeds ’n merkwaardige aanslag lewer om vir die derde agtereenvolgende keer as die Olimpiese kampioen in die 10 000 gekroon te word.

In 2018 en 2019 was sy aandag op die marathon gewees, waar hy sover gemengde welslae behaal het.

In 2018 het hy derde in die Londen-marathon geëindig en die Chicago-marathon gewen.

In 2019 het hy onderskeidelik vyfde en agtste in dié twee wedlope geëindig.

Farah het vandeesweek ook vertel hoe hartseer hy is oor die afsterwe van sy voormalige afrigter Neil Black.

Black was een van die groot name wat Farah verdedig het toe die opkikker-bom gebars het rondom die omstrede afrigter Alberto Salazar.

Salazar is vir vier jaar geskors terwyl Nike se Oregon-projek ook gesluit is. Hy het saam met Farah gewerk toe hy sy vier Olimpiese goue medaljes gewen het.

“Ek het ’n goeie vriend verloor,” sê Farah oor Black.

“Ek ken hom al sedert ek 14 was. Neil het my deur die loop van my hele loopbaan ondersteun.

“My hart is gebroke. Ek sou nie hier gewees het sonder Neil Black nie,” sê hy. – Sportredaksie, AFP

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Mo Farah
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.