Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Federer verdere slag vir beleërde Spele

Roger Federer se besluit om hom aan die Tokio-Spele te onttrek, het straks finaal ’n einde gemaak aan sy droom om ’n goue medalje in Olimpiese enkelspel-tennis te verower.

Roger Federer het hom weens ’n kniebesering aan die Olimpiese Spele onttrek. Foto: Getty Images

Federer het Dinsdag getwiet dat hy “tydens die grasbaan-seisoen ’n terugslag met my knie gehad het en moet aanvaar dat ek my aan die Tokio-Spele moet onttrek”.

Hy het in 2008 in Beijing Olimpiese goud in die dubbelspel saam met Stan Wawrinka gewen.

Vier jaar later is hy voor die Londen-Spele as die gunsteling in die enkelspel beskou, nadat hy net weke vroeër op Wimbledon (waar die Spele se tennisaksie daardie jaar plaasgevind het) koning gekraai het.

Die tuisgunsteling, Andy Murray, het hom egter in die Olimpiese eindstryd verslaan.

In 2016 is Federer ook deur ’n kniebesering uit die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gedwing.

Murray, wat in Rio die eerste man geword het wat die Olimpiese enkelspel-titel suksesvol verdedig het, sal in Tokio probeer om dit drie in ’n ry te maak, maar ’n rits ander mans het reeds aangedui dat hulle nie gaan speel nie.

Hieronder tel Rafael Nadal (die Olimpiese enkelspel-kampioen van 2008), Nick Kyrgios (wat onttrek het omdat daar nie toeskouers sal wees nie) en die Kanadees Denis Shapovalov (wat aangedui het dat hy nie kans sien om nog tyd in ’n bioborrel deur te bring nie).

Novak Djokovic het nog nie ’n amptelike aankondiging oor sy deelname aan die Spele gedoen nie. Die Serwiër sal net die tweede persoon nóg word (ná die Duitser Steffi Graf in 1992) wat ’n Goue Slam wen as hy in die komende weke Olimpiese goud en die Amerikaanse Ope-kroon voeg by die Australiese Ope-, Franse Ope- en Wimbledon-titel wat hy reeds vanjaar verower het.

Die IOK-president, Thomas Bach, Woensdag voor ’n vergadering met Japan se eerste minister, Josjihide Soega. Foto: Getty Images

• Intussen berig Reuters in ’n meningspeiling wat Ipsos in 28 lande gedoen het, is gevind dat die belangstelling in die Spele wêreldwyd laag is.

Luidens die peiling, wat Dinsdag uitgereik is, stel net 46% van respondente wêreldwyd in die Spele belang. In Japan is dit selfs laer: net 35%.

Steun vir die Spele is reeds maande lank baie laag in Japan en is wêreldwyd swaar getref deur die besluit om geen toeskouers toe te laat nie. Dit het gekom nadat ’n noodtoestand, wat vir die duur van die Spele sal geld, in Tokio ingestel is.

Slegs 22% van Japanse respondente het aan Ipsos gesê die Spele moet voortgaan.

Desondanks beur die Internasionale Komitee (IOK) en die Japanse organiseerders voort.

Thomas Bach, president van die IOK, het Dinsdag volgens Inside The Games gesê “Japan se mense kan vertroue hê in al ons pogings om hulle veilig te hou, danksy die intensiewe en streng Covid-maatreëls, asook die inentingsprogram wat ons wêreldwyd geloods het.

“Die IOK staan langs julle, ons sit in een boot en ons roei saam in dieselfde rigting, met al ons mag.”

Die “wêreldwye inentingsprogram” waarna Bach verwys het, het ook nie so glad verloop soos hy te kenne gee nie. Suid-Afrika se atlete het byvoorbeeld laat in Mei as deel van die land se Sisonke-program die Johnson & Johnson-inenting ontvang, omdat hulle in daardie stadium steeds nie van die IOK gehoor het wanneer die beloofde Pfizer-dosisse ontvang sou word nie en die tyd min geraak het om dié tweedosis-inenting te gebruik.

Daar begin boonop reeds ’n wolk vorm oor Bach se versekering dat hul maatreëls voldoende is om die virus uit te hou.

Drie Olimpiese atlete is reeds positief getoets met hul aankoms in Tokio, die Suid-Afrikaanse sewesspan moes Woensdag in kwarantyn gaan omdat iemand op hul vlug ’n positiewe uitslag op die lughawe gekry het en sewe werknemers van ’n hotel waar Brasiliaanse Olimpiërs tuisgaan, is positief getoets.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Wimbledon  |  Tennis  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.