Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Frankryk blaas SA se droom aan flarde

Suid-Afrika se o.23-sokkerspan het die einde van die pad in die Olimpiese Spele bereik, nadat hul tweede teenstander, Frankryk, Sondag ’n oorwinning uit die kake van ’n nederlaag gered het.

Die Fransman Teji Savanier vier die doel waarmee hy Suid-Afrika se Olimpiese sokkerspan Sondag gesink het, terwyl ’n groep Suid-Afrikaners in die agtergrond tot verhaal probeer kom. Foto: Reuters

Die Fransmanne het ’n opwindende en aanskoulike kragmeting met 4-3 gewen – maar hulle moes diep delf om ’n agterstand in die laaste 15 minute uit te wis.

Die Suid-Afrikaners het ’n veel beter vertoning gelewer as in hul eerste Olimpiese wedstryd, Donderdag teen Japan, en was welverdiende voorlopers ná Kobamelo Kodisang die wedstryd se eerste doel in die 53ste minuut aangeteken het.

Die opwinding daarvan het hulle egter hul konsentrasie gekos, sodat die Franse doelskieter Andre-Pierre Gignac net vier minute later die gelykmaker kon aanteken.

Die Suid-Afrikaners het egter teen daardie tyd geweet hulle is in staat tot ’n sege oor die Fransmanne, en daar was groot joligheid toe Evidence Makgopa hul voorsprong in die 72ste minuut herstel.

Maar dit was net daar waar Frankryk sy veggees ontdek het.

Die laaste 15 minute was die tellinghouers se bedrywigste fase van die hele wedstryd, met die onderskeie doelnette wat vier keer gebult het. Ongelukkig vir Suid-Afrika is drie van daardie doele teen hulle aangeteken. Met die laaste een was die spanne reeds in beseringstyd en het die Amaglug-glug waarskynlik al begin dankbaar voel oor die een punt wat hulle uit die kragmeting sou verdien.

Teji Savanier het egter ander planne gemaak, met ’n doel wat ’n paar Suid-Afrikaners teleurgesteld op hul knieë laat neerval het.

Hul nederlaag beteken dat Suid-Afrika steeds nie ’n punt in die Spele kon verdien nie, en met net een wedstryd oor nie meer genoeg kan doen om tot die uitspeelrondes deur te dring nie. Hul laaste wedstryd is teen die taaiste span in die groep, Mexiko, wat Donderdag ’n groot sege van 4-1 oor die Franse behaal het.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Japan  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.