Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Gaan Biles verder deelneem?

Simone Biles se verdere deelname aan die Olimpiese Spele hang aan ’n dun draadjie nadat dié ster-gimnas haar aan die spankompetisie onttrek het.

Sy het haar Dinsdag ná ’n teleurstellende vertoning in die spronge onttrek en die Amerikaners moes met die silwermedalje tevrede wees.

Simone Biles misreken haar met haar rotasie in die spronge in Dinsdag se spankompetisie. Sy het ongemaklik geland. Foto: Getty Images

Die span van die Russiese Olimpiese Komitee het die kompetisie laataand gewen, met Brittanje wat brons verower het.

“Ná die vertoning wat ek gelewer het, wou ek net nie aangaan nie,” het die 24-jarige Biles oor haar onttrekking gesê.

Volgens haar is sy onseker of sy Donderdag aan die veelsydige kompetisie gaan deelneem.

Daar is verwag dat die Amerikaners hul goue medalje van die Rio-Spele sou behou, maar hul kroon het reeds Sondag gewankel toe hulle in die kwalifisering gesukkel het.

Biles het voor die Spele haar visier gehad op ’n rekordgetal van ses goue medaljes nadat sy in 2016 goues gewen het.

Haar eerste rotasie in die spronge was heeltemal foutief en sy het ’n lae telling van 13.766 behaal.

Voordat die ongelyke brug-roetine begin het, het die letter “R” langs die Amerikaner se naam op die deelnemerslys verskyn, wat aangedui het dat sy uitgetree het en nie verder sou deelneem nie.

Haar onttrekking het opslae gemaak en selfs haar spanmaats was verbaas.

Simone Biles word ná haar onttrekking getroos. Foto: Getty Images

VSA Gimnastiek het aanvanklik gesê hul ster-gimnas het ’n “mediese kwessie” en sy sal daagliks ondersoek word voordat sy verder mag deelneem.

Toe Biles later gevra is of sy beseer is, het sy gesê “nee, net my trots het seergekry”.

Daar was reeds vroeër tekens dat die ster-gimnas sukkel om aan haar eie hoë standaarde te voldoen.

Sy was in Junie ná ’n teleurstellende vertoning in die Amerikaanse proewe in trane.

In Tokio het die druk verder opgelaai en sy het Sondagaand ná ’n oninspirerende vertoning op Instagram geskryf dit voel asof die hele wêreld op haar skouers rus.

Dinsdag het sy gesê sy moet na haar geestelike welstand omsien.

“Ons moet ons siel en liggaam beskerm, en nie net doen wat die wêreld wil hê ons moet doen nie,” het Biles gesê.

Ses goues is nou buite Biles se bereik, maar sy kan steeds die rekord van nege ewenaar wat die Russiese gimnas Larisa Latynina op drie Spele opgestel het – in 1956 in Melbourne, in Rome in 1960 en in 1964 in Tokio.

• Die Amerikaanse swemmer Michael Phelps is met 23 goues die suksesvolste Olimpiër van alle tye.

Die swemmer Mark Spitz en die atlete Paavo Nurmi en Carl Lewis spog met nege goue medaljes elk. – Reuters

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Gimnastiek  |  Tokio-Spele  |  Simone Biles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.