Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
God het my geseën, sê Kaylene

Drie maande gelede moes Kaylene Corbett Swem Suid-Afrika vra of sy in ’n spesiale tydtoets op die nasionale kampioenskappe kon probeer kwalifiseer vir die Olimpiese Spele.

Vrydag in Tokio het sy ’n vyfde plek in die Olimpiese eindronde van die 200 m-borsslag behaal.

Kaylene Corbett is oorweldig deur emosie terwyl sy en haar oefenmaat, Tatjana Schoenmaker, hul uitslae in die Olimpiese eindronde van die 200 m-borsslag vier. Corbett het met ’n vyfde plek haar beste uitslag nóg in ’n internasionale kompetisie gehad, terwyl Schoenmaker met ’n wêreldrekord goud gewen het. Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI

Terwyl Suid-Afrika met goeie rede in ekstase is oor die wêreldrekord en Olimpiese goue medalje waarmee Tatjana Schoenmaker dié eindronde afgesluit het, was dit ewe veel van ’n triomftog vir Corbett, haar oefenmaat en goeie vriendin.

Corbett (22) se persoonlike beste tyd voor die Spele was 2 minute en 24.18 sekondes. Maar toe verlaag sy dit tot 2:22.48 in Woensdag se uitdunne; tot 2:22.08 in Donderdag se halfeind – en tot 2:22.06 in Vrydag se eindronde.

“Ek is net so gelukkig oor alles wat hierdie week gebeur het – dit was ’n geskenk van God,” het Corbett Vrydagoggend deur die trane gesê.

“Hy het my drie keer geseën met ’n nuwe persoonlike beste tyd, en nou is ek vyfde in die wêreld. As jy in ag neem dat ek nie eens gedink het aan eindrondes toe ons hierheen gekom het nie, en eerlikwaar net my beste tyd wou verbeter . . . Om vyfde in die Olimpiese Spele te eindig is enorm – en om dan nog my spanmaat ’n wêreldrekord te sien breek . . . ek is in die wolke!”

Corbett het Vrydag aangetree vir haar derde groot internasionale eindronde nadat sy ook in 2018 se Statebondspele en 2019 se wêreldkampioenskappe so ver gevorder het. In albei gevalle het sy agtste geëindig, maar sy was in haar noppies met die 2:24.18 wat sy in laasgenoemde eindronde behaal het.

Die Amerikaners Lilly King (heel links) en Annie Lazor koek saam met Kaylene Corbett (heel regs) om die nuwe Olimpiese kampioen, Tatjana Schoenmaker. Foto: Reuters

Daardie tyd oortref die Olimpiese kwalifiseringsvereiste, maar het buite die toegelate kwalifiseringsvenster geval. Met die wêreld in ’n harwar vir die grootste deel van die venster het Corbett baie min kanse gehad om weer te kwalifiseer, en moes sy Swem Suid-Afrika vir ’n spesiale guns vra.

Die 2:25.18 wat sy in ’n tydtoets in Gqeberha geswem het, was eindelik genoeg om haar in Tokio te kry, maar ver van die soort tye wat swemmers in eindrondes behaal. Maar die Pretorianer het hard gewerk om op haar beste te wees vir die Spele – en die afgelope week die soete vrugte daarvan gepluk.

Die groot treë vorentoe wat Corbett in die Japanse hoofstad geneem het, was nie net waardevol omdat dit spreek van daadwerklike vooruitgang nie, maar ook omdat dit haar die kans gegee het om Schoenmaker se grootste oomblik (en Suid-Afrikaanse swem se grootste triomf in nege jaar) persoonlik mee te maak.

Die Tukkie was die heel eerste mens wat Schoenmaker ’n drukkie gegee het ná haar wêreldrekord-triomf.

“Moet my nie eens laat begin oor Tatjana nie,” het Corbett agterna gesê. “Sy is net die ongelooflikste oefenmaat en mens. Sy het ’n baie spesiale plek in my hart en dis vir my ’n groot, gróót ding om te sien wat sy bereik het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.