Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Hideki in wedloop om Olimpiese goud

Die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, gaan hom Sondag uit sy skoene moet speel en hoop vir ’n klomp gunste om ’n Olimpiese medalje vir sy land te verwerf.

Hideki Matsuyama sal Sondag die hoop van die Japanse nasie op sy skouers dra, nadat hy die derde dag van die Olimpiese gholfkompetisie net een hou agter die Amerikaner Xander Schauffele afgesluit het. Foto: AP

Bezuidenhout het die derde ronde van die Olimpiese gholfkompetisie Saterdag sewe houe agter die voorloper afgesluit, ná ’n ronde van 68 (drie houe minder as baansyfer), wat vyf voëltjies en twee brouhoue ingesluit het.

Die Delmas-boorling het wel met drie posisies op die voorlopersbord verbeter, van 20ste ná die tweede ronde tot gesamentlik 17de, maar is op 206 (7-onder) baie klein in die pasaangeër, Xander Schauffele, se truspieël.

Suid-Afrika se hoop op ’n gholf-medalje word verder verwater deur die feit dat die 22-jarige sensasie Garrick Higgo ná ’n ronde van 70 op 212 (1-onder) heeltemal uit die wedloop is.

Met 18 putjies oor is dit steeds onmoontlik om te voorspel wie Sondag as die nuwe Olimpiese kampioen gekroon sal word, met nege spelers (wat drie major-wenners insluit) binne drie houe van Schauffele se 199 (-14).

Die naaste van almal is die Japanner Hideki Matsuyama, wat in April as die Amerikaanse Meesterskampioen gekroon is en ’n sprokiesverhaal sal oplewer as hy Olimpiese goud in sy geboorteland wen. Matsuyama is een hou agter Schauffele danksy ’n 67, wat vier voëltjies oor die eerste nege opgelewer het.

Die Brit Paul Casey (66) en Mexiko se Carlos Ortiz (69) is ’n verdere hou terug, met Ierland se twee major-wenners, Rory McIlroy (67) en Shane Lowry (68), onderskeidelik drie en vier houe agter die voorloper.

Terwyl ’n oorwinning vir Matsuyama beslis die vreugdevure hoog sal laat brand in Japan, het die Amerikaner Schauffele (68) self ’n familiegeskiedenis wat Japanners aan sy kant kan hou.

Die 27-jarige Kaliforniër se ma is in Taiwan gebore en het in Japan grootgeword. Haar ouers woon steeds in Tokio, maar mag hul kleinseun nietemin nie by die Kasumigaseki-buiteklub ondersteun nie weens die beperking op toeskouers.

Schauffele se pa, Stefan, is wel in die klein groepie wat toegelaat is om saam met hom na die Spele te reis, as sy seun se swaai-afrigter.

Stefan het self vier dekades gelede daarvan gedroom om ’n Olimpiër te word, as ’n tienkamper in Wes-Duitsland. ’n Ernstige motorongeluk, waarin ’n dronk bestuurder teen hom vasgery het, het hom egter sy linkeroog – en sy Olimpiese ideale – gekos.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Gholf  |  Christiaan Bezuidenhout  |  Tokio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.