Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
'Hokaai met medalje-praatjies'

Die Suid-Afrikaanse swemspan is altyd raserig in die Tokio-swemstadion se paviljoene wanneer een van hul eie in die swembad spring – so jy kan jou net indink hoe hulle die dak gaan lig wanneer twéé Suid-Afrikaners Vrydagoggend vir die eindronde van die 200 m-borsslag aantree.

Tatjana Schoenmaker lag van oor tot oor nadat sy Donderdag nog ’n blitsige tyd in die halfeindronde van die 200 m-borsslag opgestel het. Foto: Reuters

Tatjana Schoenmaker sal die laaste 200 m van haar skynbaar onstuitbare opmars na Olimpiese goud Vrydagoggend in die geselskap van haar goeie vriendin en mede-Pretorianer Kaylene Corbett voltooi, nadat albei Donderdag tot die eindronde deurgedring het.

Corbett het Suid-Afrikaners eerste laat jubel toe sy ’n uitmuntende eindpoging in die item se eerste halfeindronde geloods het om van derde tot eerste te storm. Haar wentyd van 2 minute en 22.08 sekondes is vier tiendes van ’n sekonde beter as die persoonlike beste waaroor sy ná Woensdag se uitdunne so in haar noppies was – en meer as twee sekondes vinniger as die “PB” waarmee sy in Tokio aangekom het.

Schoenmaker het daarna as oorweldigende gunsteling vir die tweede halfeindronde uitgestap – en wéér, soos Woensdag, met die wêreldrekord geflankeer.

Die 24-jarige swem-ster was uiteindelik met ’n 2:19.33 slegs 0.22 sekondes stadiger as die wêreldkerf en 0.17 stadiger as haar eie Olimpiese rekord. Maar die tyd wat die stophorlosie weerspieël het, was in dié resies van minder waarde as die sielkundige opstopper wat sy almal anders gegee het.

Niemand het na vore getree as ’n werklike bedreiging vir Schoenmaker se goue ambisies nie.

Haar naaste teenstander, die 16-jarige Rus Evgeniia Chikunova, was meer as ’n sekonde agter haar in 2:20.57, en die derde vinnigste kwalifiseerder, Amerika se Annie Lazor, ook klein in haar truspieël met ’n 2:21.94.

Corbett het die vierde vinnigste tyd opgestel om ’n goeie baan vir die grootste ren van haar loopbaan te bespreek. Die 22-jarige Pretorianer het reeds in die eindrondes van 2018 se Statebondspele en 2019 se Wêreldkampioenskap geswem, maar het nie voor een daarvan ’n rede gehad om van ’n podiumplek te droom nie.

Dié keer is dit anders, nadat sy in sowel die uitdunne as halfeindronde gewys het sy beskik oor hope veggees en die nodige spoed om haar teenstanders in die pylvak in te katrol. Sy het ook Woensdag haar uitdun gewen deur die aanvanklike pasaangeërs van agter af in te haal.

Kaylene Corbett kon haar oë nie glo nie toe sy sien sy het vir die tweede dag in ’n ry ’n nuwe persoonlike beste tyd opgestel. Foto: Getty Images

Nietemin het Corbett aan SuperSport gesê sy het nie haar oog op die podium nie.

“Nee, ek dink nie daaraan nie,” het sy gesê. “Ek het net gehoop om die eindronde te haal. As jy op hierdie vlak swem, wil jy net jou beste tye kry en jou eie resies aflê. As God jou dan ook wil seën met ’n medalje, is dit ongelooflik.

“Ek is in die wolke – ek dink ek gaan weer huil,” het sy bygevoeg. “As iemand in 2016 vir my gesê het ek sou in ’n Olimpiese eindronde swem, sou ek toe al gehuil het, so ek sukkel om nou die trane terug te hou.”

Schoenmaker sê dit was ’n reusehupstoot vir haar om Corbett weer so vinnig te sien eindig.

“Dinge was ’n bietjie taaier as (Woensdag), want die skedule was 10 minute agter, so ons moes sit en wag in die wagkamer. En as jy eet voor jy deelneem, beplan jy dit volgens die tyd wat jy veronderstel is om te swem,” het Schoenmaker gesê.

“Maar toe ek Kaylene daai groot tyd sien swem, het ek by myself gedink, as sy kan vinniger gaan, kan ek ook. So dit was lekker dat sy voor my deelgeneem het.”

Ná Schoenmaker se eerste twee 200-vertonings, wil ’n mens amper nou reeds die goue medalje in haar hand stop en dit voel of net rampspoed haar van die boonste trappie van die podium kan hou.

Maar Schoenmaker self wil niks daarvan hoor dat die stryd reeds gewonne is nie.

Ons het in die 100 gesien enigiets kan gebeur.

“Ek dink nie ons moet te opgewonde raak nie, veral nie wanneer jy voor is nie. Mense kan jou vang oor die tweede helfte – die 200 is so ’n strategiese nommer,” sê sy.

“Ek wil (Vrydag) net fokus op my eie baan. Ek het daardie les geleer uit die 100 en dink as ek net dít kan deurvoer, sal ek die volmaakte resies hê.”

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.