Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Hokaai met kwalifisering, sê Wêreldatletiek
Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek. Foto: Getty Images

Wêreldatletiek het Dinsdag ’n stokkie voor kwalifikasie vir die 2020-Spele in Tokio gesteek.

Enige uitslae wat tussen 6 April en 30 November deur ’n atleet by ’n kompetisie behaal word, sal nie in aanmerking kom vir die Olimpiese Spele se kwalifiserende vereistes nie.

Dié uitslae sal ook nie ’n invloed op wêreldranglyste hê nie, hoewel dit steeds in aanmerking sal kom vir amptelike rekords en vir statistiese doeleindes, mits die toestande wettig is.

Só het atletiek se moederliggaam in ’n verklaring gesê, met van die Diamantliga-reeks se byeenkomste wat nog vir later vanjaar geskeduleer is wat veral hierdeur geraak kan word.

Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) Foto: Getty Images

Soos sake tans staan, sal die kwalifikasietydperk op 1 Desember hervat word en van toepassing wees tot die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se nuwe sluitingsdatum.

Dit kan ook daarop dui dat Wêreldatletiek beoog om van sy uitgestelde byeenkomste wel aan die einde van die jaar te laat plaasvind.

Die totale tydperk waarbinne atlete vir die skouspel in Japan kan probeer kwalifiseer, sal eindelik vier maande langer wees as wat dit sou gewees het as die byeenkoms steeds in 2020 gehou is.

Volgens Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het die Atlete se Kommissie en Wêreldatletiek se raad vergader en oor die besluit ooreengestem.

Coe sê die opskorting van die kwalifikasietydperk sal hopelik verseker dat meer atlete ’n regverdige kans het om vir die byeenkoms, wat op 23 Julie 2021 begin, te kwalifiseer.

Dit volg nadat talle atletiekbyeenkomste uitgestel en afgestel is te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Dit is die beste manier om regverdigheid te verseker in wat ’n ongelyke jaar gaan wees wat kompetisies betref, gegewe regerings se inperking van internasionale reise.
Sebastian Coe

“Dit is die beste manier om regverdigheid te verseker in wat ’n ongelyke jaar gaan wees wat kompetisies betref, gegewe regerings se inperking van internasionale reise,” sê Coe.

Wêreldatletiek het verder bevestig dat alle atlete wat reeds gekwalifiseer het, nie weer aan die vereistes hoef te voldoen nie en steeds volgende jaar hul kaartjie na Tokio sal kan bespreek, mits hul plaaslike Olimpiese liggame dit toelaat.

Die nuwe afsnypunt vir atlete om te kwalifiseer is 29 Junie 2021 vir alle items, buiten die marathons en 50 km-stapwedlope, waarvan se afsnypunt reeds op 31 Mei 2021 is.

* Intussen het die moederliggaam besluit om 50% van die werknemers in sy hoofkantoor met verlof te stuur, om te verseker dat hy op lang termyn nie afleggings hoef te doen nie.

Alle werknemers wat met verlof is, sal steeds hul volle salarisse verdien.

“Alle werknemers wat met verlof is, sal steeds hul volle salarisse verdien,” sê Wêreldatletiek.

Die uitstel van alle byeenkomste wat deel van Wêreldatletiek se reekse is en streng regulasies rondom inperking en self-isolasie in Monaco en Frankryk, waar die meeste van sy personeel gebaseer is, het hiertoe gelei.

Meer oor:  Sebastian Coe  |  Tokio  |  Japan  |  Olimpiese Spele  |  Iok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.