Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
IOK loof Japanse eerste minister

Olimpiese beamptes het die Japanse eerste minister, Shinzo Abe, bedank vir sy toewyding om die Spele na Tokio te bring.

Shinzo Abe, Japans prime minister, reacts during a
Shinzo Abe, Japanse eerste minister, het bedank weens gesondheidsprobleme. Foto: Getty

Die 65-jarige Abe het Vrydag sy uittrede aangekondig en gesê hy neem dié besluit weens sy gesondheid.

Vanjaar se Olimpiese Spele sou drie weke gelede daar geëindig het as dit nie weens die koronavirus-pandemie uitgestel is na aanstaande jaar nie.

Die persoon wat Abe gaan opvolg, sal na verwagting moet voortbou op die regering se toewyding om die skouspel volgende jaar aan te bied, al kan dit moontlik ’n verkleinde weergawe van die byeenkoms wees.

Die nuwe leier sal betrek word by gesprekke met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) rakende die logistieke uitdaging wat kan voortspruit uit die toevloei van ’n magdom internasionale atlete, beamptes en ondersteuners met reisbeperkings wat in daardie stadium steeds van toepassing kan wees.

Die regering het reeds aangedui dat die Spele net gehou sal kan word as ’n entstof teen Covid-19 gevind word.

“Japan sal doen wat ook al hy kan om die Olimpiese Spele volgende jaar te hou,” het Yoshihide Suga, Japan se kabinetsekretaris, gesê.

Abe het alles in sy vermoë gedoen om die Spele te laat realiseer, van die bie-proses af tot ’n sterk verhouding wat hy gebou het met Thomas Bach, die IOK se president.

“Ek wil vir eers die eerste minister sterkte toewens met sy stryd teen ’n siekte met al die krag wat ons weet in hom steek,” het Bach luidens ’n verklaring gesê.

Hy het Abe ook bedank vir sy leierskap om die Olimpiese Spele vir die eerste keer sedert 1964 na Japan te bring.

“Deur die jare was Abe ’n sterk vennoot wat altyd opgestaan het vir die belange van Japan, maar wat ook altyd vertrou kon word.

“Só kon ons altyd oplossings vind, selfs in moeilike omstandighede wat die Covid-19-pandemie betref. Dit het toegelaat dat sy visie vir Japan steeds realiseer, selfs al is dit met ’n jaar uitgestel.”

Andrew Parsons, president van die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK), het Abe ook sterkte toegewens met sy herstelproses.

“Min mense sal sy betrokkenheid by die Rio Spele in 2016 kan vergeet toe hy geklee as Super Mario verskyn het,” het Parsons gesê.

“Wat my die meeste van sy termyn beïndruk het, was sy begeerte om die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio te gebruik om sosiale insluiting teweeg te bring.”

Parsons het Abe se toewyding aan die Paralimpiese beweging geloof en gesê dit is danksy hom dat “miljoene mense met gestremdhede hul drome kan najaag om deel te wees van Japan se samelewing en sodoende ten volle hul potensiaal en vermoëns kan benut”.

“Daar kan nie ’n beter nalatenskap wees as om die lewens van miljoene te verbeter nie.” – Reuters

Meer oor:  Shinzo Abe  |  Thomas Bach  |  Olimpiese Spele  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.