Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Irvette op haar beste nóg en reg vir Tokio
Irvette van Zyl het Dinsdag na Tokio in Japan vertrek waar sy op Saterdag 7 Augustus aan die Olimpiese marathon gaan deelneem. Foto: Verskaf

Irvette van Zyl is vanjaar fisiek en emosioneel nog op die beste plek wat sy in die afgelope 16 jaar was en het ’n goeie plan om ’n sukses van haar deelname aan die Olimpiese Spele te maak.

Dít is volgens haar man en Suid-Afrikaanse 400 m-hekkiesatleet, LJ van Zyl, wat huishou terwyl sy vrou, die 50 km-wêreldrekordhouer, vandeesweek na Tokio is waar sy op 7 Augustus aan die maraton op vanjaar se Olimpiese Spele gaan deelneem.

Dit feit dat Irvette om middernag (Suid-Afrikaanse-tyd) gaan wegspring en sowat twee en ’n half ure gaan besig wees, sal LJ beslis nie keer om sy vrou te ondersteun nie.

“Ek dink egter nie ek gaan die seuntjies, Louis (5) en Gideon (3), wakker maak om saam te kyk nie,” sê hy.

LJ sal eerder die wedloop opneem en die volgende dag wys vir die kinders, wat graag voor haar vertrek saam met hul ma na die baan in die Tuks-atletiekstadion gegaan het waar sy geoefen het.

Irvette en haar twee seuns, Gideon (links) en Louis, waar sy voor die Olimpiese Spele in die Tuks-atletiekstadion geoefen het. Foto: Verskaf

LJ moes vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry om seker te maak dat hul twee kinders, asook die gesin se twee honde, sewe hase en voëls, wat in die tuin bly, in Irvette se afwesigheid goed versorg is.

Hy verklap dat hy tussen die huishoudelike take deur ook aandag gee aan die twee meestersgrade waaraan hy werk. Dit sluit ’n meestersgraad in opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria én een in olimpiese studies aan die Duitse sportuniversiteit in Keulen in Duitsland in.

Irvette van Zyl en haar man, LJ, kort voordat sy Dinsdag na Tokio in Japan vertrek het. Foto: Verskaf

LJ sê sy vrou is op die beste emosionele en fisieke vlak waarop hy haar nóg gesien het.

“Sy is reg vir die ding en sy het ongelooflik hard geoefen. Dit opsigself is ’n reuse-prestasie.”

Irvette het in vorige jare op die Olimpiese Spele teëspoed gehad. Met haar Olimpiese buiging in Londen in 2012 het ’n achilles-besering haar uit die wedloop gedwing en in 2016 in Rio de Janeiro het sy haar voet gebreek.

“Sy het ook in ’n stadium gesukkel met haar knie wat sy in ’n bromponie-ongeluk in haar matriekjaar beseer het.

“Ons het regtig in ’n stadium gedink sy sal nooit weer ver en vinnig kan hardloop nie,” sê LJ.

Die egpaar se twee seuntjies, wat sterk Olimpiese gene het, toets en ontwikkel nog self hul eie belangstelling in verskillende sporte.

“Dis egter nog te vroeg om te sê. Soms slaan die gene mos ’n generasie oor.

“Louis hou van swem en het nou die dag, nadat hy Tatjana (Schoenmaker) en Chad (Le Clos) gesien swem het, vir my gesê hy wil ook op die Olimpiese Spele meeding.

“Maar hy dink ook nog die Olimpiese Spele is in die swembad waar hy in die gym oefen.”

Hul jonger seun, Gideon, hou daarvan om saam met sy pa te gaan hardloop.

“Louis is natuurlik die meeste opgewonde van ons almal,” lag LJ.

“Sy ma het hom belowe sy bring vir hom ’n teddiebeer uit Tokio saam terug huis toe.”

Meer oor:  Irvette Van Zyl  |  Olimpiese Spele  |  Marathon  |  Atleet  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.