Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Japannese ál louer oor Spele in 2021

Al hoe minder Japannese is ten gunste daarvan dat volgende jaar se Olimpiese Spele in hul land voortgaan.

Volgens ’n onlangse peiling deur die nuusagentskap Kyodo, is net een uit vier inwoners van dié land ten gunste van die sportskouspel, wat vanjaar uitgestel moes word.

Die peperduur Nasionale Stadion soos Dinsdag gesien vanuit ’n helikopter van die nuusagentskap Kyodo. Dit sal die hoofstadion wees vir die Olimpiese en Paralimpiese Spele. Foto: Getty Images

’n Derde van die respondente meen die sportbyeenkoms moet wéér uitgestel word. Nog ’n derde wil hê die Spele moet gekanselleer word.

Volgens ’n ander peiling deur die Japannese openbare uitsaaier NHK, is tweederdes van die korporatiewe borge onseker of hulle met hul ondersteuning moet voortgaan.

Spele-organiseerders hou Donderdag ’n geleentheid wanneer dit presies een jaar voor die Spele in Tokio is.

Dit sal egter ’n gedempte byeenkoms wees met die uitgestelde Spele wat steeds in onsekerheid gehul is.

Op 24 Julie verlede jaar was daar ’n glansryke seremonie in Tokio, waar Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), gesê het die Japannese hoofstad is die “gasheerstad wat die beste voorbereid tot nog toe is”.

Ses maande gelede nog het vuurwerk, wat die Olimpiese ringe uitbeeld, oor Tokio-baai ontplof.

Niemand beny Thomas Bach, die IOK-baas, sy werk nie. Foto: Getty Images

Skaars twee maande – laat in Maart – moes alle reëlings en planne vir vanjaar se Spele, wat al vir meer as tien jaar beraam word, weens die Covid-19-pandemie uitgestel word.

Bach het daarna volgehou dis nie ’n opsie om dit wéér uit te stel nie.

Die program is Saterdag aangekondig en die openingseremonie sal op 23 Julie in die Nasionale Stadion plaasvind.

Tog is daar steeds vrae oor elke aspek van die Spele, wat Bach die “mees komplekse byeenkoms op die aarde” noem.

John Coates, hoof van die IOK-reëlingskomitee, sê dit sal ’n kleiner Spele wees en hulle moet besluit wat hulle wil behou.

Dit is steeds onseker hoe al die veranderings en aanpassings die Japannese belastingbetaler se sak gaan raak.

Die IOK sê sy deel van die koste sal sowat $800 miljoen wees. Die organiseerders weier om ’n bedrag te koppel aan die finale rekening wat Japannese belanghebbendes en vennote sal moet betaal.

Voor die uitstel en die beoogde veranderings, sou die Spele reeds meer as 1,35 duisend miljard jen gekos het.

Mense staan voor ’n monument in die Odaiba-waterfront in Tokio, wat die Olimpiese ringe uitbeeld. Foto: Getty Images

Benewens die koste, oorheers drie kwessies gesprekke – die veiligheid en welstand van sportlui, toeskouers en borgskappe.

Die organiseerders sê hulle sal al die moontlike doen om te verseker dat 11 000 sportlui veilig na Tokio sal kan reis én in ’n wêreldklas-omgewing meeding.

Talle kenners meen egter dít sal onmoontlik wees voordat daar ’n entstof vir die Covid-19-virus is, wat wêreldwyd versprei kon word.

Dieselfde kan gesê word van die duisende toeskouers wat die sportlui moet aanmoedig.

Die uitdagings waarmee die Olimpiese organiseerders te doen het, is ongeëwenaard, maar met ál hoe meer vrae van atlete, toeskouers en borge, sal hulle binnekort antwoorde moet vind. – Reuters

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio  |  Japan  |  Covid-19  |  Thomas Bach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.